Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kollegas vorm erewag vir verpleegster se lyk in hospitaal

Snikke wat weerklink terwyl hospitaalpersoneel van die Life Mercantile-hospitaal in Port Elizabeth met kerse in die hande ’n erewag vorm, is hoe die lyk van een van hul eie verpleegsters wat aan Covid-19 gesterf het, uit die hospitaal begelei is.

Suster Esme Langford (62) het Maandagaand die stryd teen die virussiekte verloor.

Hoewel sy deeglik bewus was van die gevare wat die virus inhou, het sy dit nie gevrees nie – solank sy ander teen die virus kon help staande bly, het Meryl Langford (35), haar dogter gesê.

“Sy het ’n groot passie vir haar werk gehad, reg tot aan die einde,” sê Langford.

Sy het haar ma as haar held beskryf wat die gemeenskap met uiterse geduld en passie bedien het.

Suster Esme Langford van die Life Mercantile-hospitaal in Port Elizabeth het Maandag die stryd teen Covid-19 verloor. Foto: Verskaf

“Sy het altyd gesê as sy die virus by die werk opdoen en sterf, het sy vir ’n doel gesterf. Sy het gesê daar is nie genoeg verpleegsters in die wêreld nie en dit is haar werk om ander te beskerm wat nie hulself kan beskerm nie.”

Eintlik het Esme reeds op 55 afgetree, maar sy het ná ses maande teruggekeer omdat sy na die beroep terugverlang het. Sy het reeds van ’n jong ouderdom geweet sy wil ander help en het haar ná gr.10 by ’n verpleegskool aangesluit.

Sy het daarna gewerk by die Livingstone-, provinsiale, Greenacres- en toe die Mercantile-hospitaal, waar sy afgetree het en waarna sy weer teruggekeer het.

Die Oos-Kaap se kumulatiewe gevalle van gesondheidswerkers wat positief vir die virus getoets is, staan op 8 745, en 143 is aan Covid-19 dood. Die hoogste sterftesyfer onder gesondheidswerkers is in die Nelson Mandelabaai-metro (36), met die Buffalo Stad-metro (33) en die Amathole-distrik (28) daarnaas.

Weens die onrusbarende styging in die aktiewe koronavirusgevalle is die metro die afgelope maand verskeie kere as ’n kommerwekkende brandpunt bestempel. Die provinsie se aktiewe gevalle het Maandag op 11 099 gestaan, waarvan 6 832 in die metro voorkom.

Meryl Langford en haar broer, Lance. Foto: Verskaf
’n Skermgreep van die video wat geneem is toe suster Esme Langford se lyk weggeneem word terwyl hospitaalpersoneel ’n erewag met kerse vorm. Foto: Skermgreep

Die gesondheidsdepartement het die stygende getalle toegeskryf aan mense wat die veiligheidsmaatreëls teen die virus verontagsaam.

Ook Langford sê sy sien dié optrede in die metro.

“Daar is mense wat nie omgee wat aangaan nie. Mense sonder maskers, wat nie van ontsmettingsmiddels gebruik maak nie.

“Jy kan nie naïef wees en dink niks gaan met jou gebeur terwyl mense voor jou sterf nie – dit is jou mense wat sterf. En steeds luister hulle nie. Die hele Nelson Mandelabaai moet ingeperk word.”

Haar ma het gesterf sowat ’n week nadat sy in die waakeenheid opgeneem is.

Langford sê haar ma se kollegas wat haar lyk met ’n roerende erewag by die hospitaal uit tot by die lykswa vergesel het, was ’n wonderlike gebaar.

“Dis vir hulle ook baie hartseer. Hulle is vriende, kollegas en mense wat sy opgelei het. Hulle het so mooi na my ma in die hospitaal gekyk.

“Elkeen van hulle (gesondheidswerkers) verdien daardie eer wat hulle betoon het.”

Langford stem saam met pres. Cyril Ramaphosa dat verpleegsters ’n groot opoffering maak deur in die “voorste linies” te werk. Sy sê sy kan sien dat die verpleegsters moeg is, maar dat hulle steeds ’n veggees het wat binne hulle woed om ander te help, soos wat haar ma gehad het.

“My ma was ’n briljante suster, ma en ouma. My niggies het verpleegsters geword as gevolg van haar. Sy was wonderlik vir ons familie.”

Esme laat haar dogter en seun, Lance (37), drie kleinkinders, drie broers en ’n suster agter.

’n Deurry-gedenkdiens word vir later beplan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Verpleegster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.