Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Komitee ‘gee nog nie raad’ aan regering oor inperking

Hoewel dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê die regering slaan ag op die aanbevelings van die ministeriële raadgewende komitee (MAC) oor Covid-19, hou die MAC vol hy het nog geen aanbevelings gedoen oor presies hoe die staat van inperking uitgefaseer moet word nie.

Dít kom nadat dr. Glenda Gray en prof. Shabir Madhi, albei subkomiteevoorsitters van die MAC, die naweek in die media kritiek teen die regering se benadering tot die uitfasering uitgespreek het. Die regering wil die staat van inperking oor vyf vlakke uitfaseer, maar dit blyk nou die MAC het nie veel insette daaroor gehad nie.

Prof. Salim Karim, voorsitter van die MAC, het Dinsdag in ’n verklaring bevestig dat die komitee nog geen aanbevelings aan die regering gedoen het sedert sy aanvanklike advies dat die staat van inperking oor “etlike dae” geleidelik uitgefaseer moet word nie.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Gallo Images)

Mkhize het Maandag op die radiostasie 702 gesê die publiek word mislei omdat die gesondheidsdepartement nog geen aanbeveling oor die jongste regulasies van die MAC ontvang het nie. Hy sê die regering se benadering is in die wetenskap gegrond, maar hy het nie veel meer daaroor gesê nie.

Volgens Karim sal die raadgewende komitee sy aanbevelings oor die regulasies op sy volgende vergadering goedkeur, waarna dit aan die gesondheidsdepartement voorgelê sal word.

Al vier die subkomiteevoorsitters van die MAC het glo reeds hul kommer teenoor Karim oor die regulasies uitgespreek, veral dié rakende klein ondernemings, die verbod op die verkoop van sekere klere en die verkoop van motors.

Madhi, voorsitter van die subkomitee oor gesondheid, het vroeër in sy persoonlike hoedanigheid aan Netwerk24 gesê dat die regering nie vinnig genoeg die inperkingsmaatreëls verslap nie en dat dit die ekonomie te duur te staan sal kom.

Mkhize sê egter die regering is versigtig omdat die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dat ’n inperking nie te vinnig opgehef moet word nie anders kan mense se gedrag te vinnig na normaal terugkeer. Covid-19 kan dan buite beheer versprei en die gesondheidstelsel oorweldig.

Mkhize benadruk dit dat die regering nou besig is met die proses dat die grootste deel van die land na vlak 3 van die inperking teen einde Mei kan beweeg omdat ekonomiese faktore in ag geneem moet word.

Intussen het die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika Maandag in ’n verklaring gesê dit is te verwagte dat wetenskaplikes met mekaar oor die regering se benadering sal verskil. Hy het egter sy kommer uitgespreek dat die MAC nie genoeg kenners uit ’n wye verskeidenheid velde bevat sodat die regering kan voortgaan om sy benadering in die wetenskap te grond nie.

Dr. Anban Pillay, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het vroeër op ’n vraag van Netwerk24 oor hoekom die regering nie ag slaan op Madhi nie, gesê: “Niemand in die wêreld is ’n kenner van Covid-19 nie. Die tyd sal leer wie reg was.”

Pillay het voorts aan News24 gesê mediese kenners van die MAC het nie gesag oor die ekonomiese aangeleenthede nie.

Volgens die Akademie moet kenners in die sielkunde, maatskaplike werk, ekonomie, antropologie en geskiedenis deel van die MAC uitmaak om die regering raad te gee.

Meer oor:  Glenda Gray  |  Zweli Mkhize  |  Komitee  |  Raad  |  Regering  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.