Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kommer oor hospitaal wat toe bly ná brand

Die sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, een van die besigste Covid-19-hospitale in Gauteng, kan noodlottige gevolge hê as die derde vlaag toeslaan.

Dit is kenners se bekommernis met dié dat die hospitaal steeds gesluit is nadat ’n brand op 16 April daar uitgebreek het. 

Die provinsiale departement van gesondheid is egter tjoepstil oor wanneer die hospitaal weer sal open.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 20: A view of C
Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg is steeds gesluit nadat 'n brand in April in die hospitaal uitgebreek het. Foto: Gallo Images

Prof. Guy Richards, emeritus-professor in kritieke sorg verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) wat ook in die Charlotte Maxeke opleidingswerk doen, sê die provinsie sal nie ’n derde vlaag sonder die hospitaal kan hanteer nie. 

Tydens die tweede vlaag is 150 Covid-19-pasiënte daagliks daar behandel. 

“Dit is net diegene wat positief getoets is. Daar was ook ’n groot saal waar pasiënte in isolasie gehou kon word terwyl hulle op hul uitslae wag. 

“Daar is ook omtrent 50 pasiënte in die waakeenheid behandel,” sê Richards.

Volgens hom het die hospitaal die nodige toerusting en mediese personeel om ’n groot aantal pasiënte te kan behandel sonder om die gesondheidstelsel te oorweldig.

Richards sê die departement het nog nie vir hulle ’n aanduiding gegee van wanneer die hospitaal herstel gaan word of sal heropen nie. “Ons weet net daar is strukturele skade.”

Kwara Kekana, woordvoerder van dr. Nomathemba Mo­kgethi, LUR vir gesondheid, het bevestig dat die hospitaal steeds gesluit is, maar het nie gesê wanneer dit sal heropen nie.

Prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde aan Wits, het gesê Gauteng was in ’n mate gelukkig dat die streng inperkingsregulasies gehelp het dat die getalle daal.

“Ek dink hulle is selfs nou minder voorbereid as met die tweede vlaag, juis weens die verlies van Charlotte,” sê Van den Heever.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in die pro­vinsie, sê pasiënte ly ook weens die vervoerprobleme wat hulle ondervind om medisyne of konsultasies by ander gesondheids­instellings te kry.

Die brand het byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang kon bring. 

Meer as 800 pasiënte is na 17 ander gesondheidsorggeriewe oor Gauteng heen oorgeplaas. 

Die hospitaal sou aanvanklik net vir sewe dae gesluit gewees het.

“Die lang waglyste vir gewone chirurgie by die Charlotte Maxeke-hospitaal word net erger. Dit sluit knie- en heup­operasies in, asook honderde pasiënte wat wag op katarakoperasies om hul sig te herstel,” het Bloom Maandag in ’n verklaring gesê.

Volgens hom word kankerpasiënte vir chemoterapie na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gestuur en vir bestraling na die Steve Biko-hospitaal.

“Dit is nie reg nie omdat daar agterstande is en vertragings ondervind word. En soms moet die diagnose van nuuts af gedoen word.”

Bongiwe Gambu, woordvoerder van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur, kon Maandag ook nie sê wanneer die hospitaal heropen nie.

“Sodra ons inligting ontvang, sal dit aan die publiek oorgedra word,” sê Gambu.

Kommer oor stygende getalle

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navoringsraad, sê daar is beslis kommer dat Gauteng al hoe nader aan ’n derde vlaag beweeg.

Dit is veral hospitaalopnames wat sy oë laat rek, sê hy.

Luidens ’n verklaring van die provinsie word daar tans 1 940 pasiënte in staats- en private hospitale behandel. Die provinsie het altesame 4 946 beddens in die staat- en private sektor. 

Die departement het nie Netwerk24 se vrae beantwoord oor hoeveel van hierdie beddens vir Covid-19-pasiënte bestem is nie.

In die afgelope 24 uur is daar altesame 1 107 nuwe infeksies aangeteken en 19 mense het gesterf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.