Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kommer oor koronavirus-gevalle onder die polisie

Die toenemende aantal polisiebeamptes wat landwyd positief vir die koronavirus toets, is die grootste bedreiging vir die polisie se vermoë om die staat van inperking doeltreffend te kan polisieer.

LP’s het dít Woensdagmiddag gehoor toe Bheki Cele, minister van polisie, genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en ander senior polisiebestuurders ’n gesamentlike aanlyn sitting van die parlement se twee komitees oor polisie toegespreek het.

Polisiebeamptes en weermagsoldate dwing die regulasies van die inperking af en die komitees het gehoor dat sowat 118 735 mense tussen 27 Maart en 18 April weens sowat 114 377 misdade landwyd aangekla is.

Genl.maj. Leon Rabie, die polisie se hoof van strategiese bestuur, het in ’n voorlegging aan die komitees gesê die stygende infeksievlakke onder polisiebeamptes is ’n groot bron van kommer.

Hy het dit duidelik gemaak dat dit die daaglikse polisiëring van die staat van inperking nadelig kan beïnvloed, maar gesê daar is gebeurlikheidsplanne indien daar ’n tekort aan beamptes sou wees.

Rabie sê sowat 61 polisiebeamptes landwyd is tot dusver positief getoets vir die koronavirus. Hiervan is een dood, nege het herstel en drie is in hospitale. Die meeste is in selfisolasie.

Landwyd is 34 polisiekantore of -geboue ontruim. Sowat 32 hiervan is reeds ontsmet en weer in gebruik.

Volgens Rabie het die polisie sedert die begin van die inperking sowat R2,7 miljard van sy bestaande begroting herprioritiseer vir die ontplooiing van beamptes, die aankoop van persoonlike beskermende toerusting vir beamptes, asook ontsmettingsmiddels vir polisievoertuie en -geboue.

’n Intensiewe veldtog is intern begin om polisiebeamptes bewus te maak van hoe om hulself beter te beskerm en ’n 24-uur-inbellyn is ingestel om hulle te ondersteun.

Geweldsmisdade neem af

Cele het aan die komitees gesê die verbod op die verkoop van alkohol het ernstige geweldsmisdade drasties verminder. Hy het benadruk dat alkohol ’n kernrol speel in die meeste moorde, verkragtings en ernstige aanrandings in Suid-Afrika.

Cele sê die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad se trauma-eenheid het baie meer beddens beskikbaar omdat daar minder beserings is weens geweldsmisdade wat deur alkohol gedryf word.

Die komitees het ook gehoor dat daar van 14 Maart tot 16 April vanjaar sowat 5 445 minder klagtes van gesinsgeweld by die polisie aangemeld is as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Sedert 26 Maart vanjaar was daar 174 rooftogte en inbrake by drankwinkels, tavernes, sjebiens, kroeë, restaurante en nagklubs landwyd. Die meeste hiervan was in Gauteng met 46 voorvalle. In KwaZulu-Natal was daar 25 voorvalle, Limpopo 18, die Wes-Kaap en Noordwes 15 elk, die Noord-Kaap en die Oos-Kaap 14 elk en die Vrystaat 12.

Sowat 143 mense is tot dusver landwyd weens die plundering van drankwinkels en skole in hegtenis geneem.

LP’s het hul kommer uitgespreek oor die beweringe van polisiebrutaliteit tydens die inperking.

Rabie sê daar word onmiddellik opgetree teen enige polisiebeampte wat hom hieraan skuldig maak en dat vier beamptes tot dusver as gevolg hiervan geskors is.

Volgens hom is daar tot dusver klagtes teen 97 polisiebeamptes en 74 soldate ingedien op grond van ’n verskeidenheid van beweerde misdade.

Meer oor:  Koronavirus  |  Polisie  |  Bheki Cele  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.