Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Kommer oor nuwe variant geldig’

Geldige kommer bly heers onder wetenskaplikes wêreldwyd oor ’n unieke mutasie in die 501.v2-variant van die Covid-virus wat tans die tweede vlaag van infeksies in Suid-Afrika aanvuur.

So sê prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee vir entstowwe, nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag gesê het die massiewe toename in Covid-infeksies in die tweede vlaag word deur die 501.v2-variant gedryf.

Volgens Ramaphosa versprei die variant, wat in November in Suid-Afrika ontdek is, baie vinniger as enige van die vorige variante van die virus, hoewel dit wil voorkom dat dit nie mense meer siek maak of hul kanse vergroot om dood te gaan nie.

“Die kommer is dus dat entstowwe nie so doeltreffend sal werk op die variant in Suid-Afrika nie en dat herinfeksies kan plaasvind omdat daar nie immuniteit bestaan nie.

Waaroor die groot kommer heers, is die unieke mutasie wat die kanse vergroot dat entstowwe minder doeltreffend sal wees en dat mense herhaaldelik besmet kan word.

Schoub, ’n voormalige direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), verduidelik die 501.v2-variant het drie mutasies wat van belang is: N501Y, E484K en K417N. Die mutasies is in die reseptorbindingsdomein (RBD) van die variant geleë, waar die virus aan die gasheer se sel heg.

Die Britse variant, sowel as verskeie ander variante, bevat die N501Y-mutasie, wat vermoedelik veroorsaak dat die variante vinniger versprei. In die geval van die Suid-Afrikaanse variant is wetenskaplikes veral bekommerd oor die mutasie E484K omdat dit moontlik teenliggaampies kan neutraliseer, verduidelik Schoub.

“Die kommer is dus dat entstowwe nie so doeltreffend sal werk op die variant in Suid-Afrika nie en dat herinfeksies kan plaasvind omdat daar nie immuniteit bestaan nie.”

Volgens hom is daar in toetse van bloedmonsters in laboratoriums gewys dat teenliggaampies deur die Suid-Afrikaanse variant geneutraliseer is.

“Dit beteken egter nie dat dieselfde sal geld vir wanneer die variant die menslike liggaam infekteer nie. Meer navorsing is nodig.”

Wat Schoub gerusstel, is dat daar, behalwe vir een geval in Brasilië, sover geen bewyse gevind is dat iemand wat voorheen die variant opgedoen het weer deur dié variant geïnfekteer sal word nie.

Volgens hom kan dit wel in die toekoms gebeur dat ’n nuwe variant ontstaan wat entstowwe ondoeltreffend maak.

In sulke gevalle kan entstowwe volgens hom taamlik eenvoudig aangepas word om nuwe variante hok te slaan.

“Entstowwe is die belangrikste manier om die pandemie in bedwang te bring. Terselfdertyd gaan dit egter nie op kort termyn toegedien kan word om kudde-immuniteit te bewerkstellig nie.”

Dr. Richard Lessells, spesialis in oordraagbare siektes by die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform, wat betrokke was by die identifisering van die variant, het vroeër ook gesê daar heers kommer oor die 501.v2-variant en hoe entstowwe daarop reageer.

Navorsing word nog ingewag.

Entstowwe is die belangrikste manier om die pandemie in bedwang te bring. Terselfdertyd gaan dit egter nie op kort termyn toegedien kan word om kudde-immuniteit te bewerkstellig nie.

Ramaphosa het benadruk dat Suid-Afrikaners presies dieselfde maatreëls moet volg wat tot nou toe toegepas is.

The New York Times het onlangs berig dat daar teen ’n kommerwekkende tempo ’n aantal nuwe variante van die virus in verskeie lande opduik. Dit sluit die Suid-Afrikaanse variant en die Britse variant in. In baie lande is wetenskaplikes besig met navorsing oor die verskynsel.


Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-1  |  Variant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.