Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kommer oor te min wat in Mangaung inent

Waar is al die mense, tog?

So is Woensdag by een van die twee groot inentingspunte in die Vrystaat gevra.

Lang rye leë stoele het voor die lokaal langs die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gestaan, met net enkeles bó 60 wat gereed staan.

Terwyl dié inentingsentrum by die Universitas-hospitaal alom lof kry vir sy gladde werking, heers kommer oor die min oueres wat vir inenting opdaag.

Slegs 32 907 van Mangaung se 88 104 mense ouer as 60 het hulle al laat registreer, sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement.

En diegene wat geregistreer is, wag te lank om hulle te laat inent, sê Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid.

Dr. Nicholas Pearce, hoof van die hospitaal se Covid-19-taakgroep, sê die syfers van mense wat hier ingeënt word, daal daagliks.

In die eerste fase is 6 560 gesondheidswerkers ingeënt en tot dusver het 11 688 inentings in die tweede fase hier plaasgevind.

Waar’s almal? Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, was Woensdagoggend by die Universitas-hospitaal en het mense bo 60 aangemoedig om ingeënt te word. Foto: Mlungisi Louw

“Dinsdag het ons net 378 inentings gedoen. Dit bekommer ons dat die syfers so daal.”

Pearce sê die hospitaal se kapasiteit is “massief”. Ten minste 1 500 inentings kan per dag hier gedoen word.

Volgens Tsiu kan soveel soos 2 000 per dag toegedien word.

“Ons weet nie wat om te doen nie. Ons wil mense help,” sê Pearce.

Ouer mense uit ander distrikte, soos Kimberley, Bothaville en ander klein dorpies kom hierheen nadat hulle die kliniek by Universitas-hospitaal besoek het omdat dié hospitaal se inentingspunt so gerat is.

“Hulle is nie hier geregistreer nie, maar ons kan hulle nie wegwys nie.”

Tog is dit bemoedigend, sê hy, dat jong mense hul ouers oor die naweek gebring het. Inentings kan hier van 07:30 tot 15:00 Saterdag en Sondag gekry word.

Ouer mense wat nie weet hoe om hulself te registreer nie, kan dit ook hier doen.

Tsiu sê sy vermoed die koue speel ’n rol dat oueres wegbly, maar sy moedig hulle aan om te kom.

Pearce sê nog ’n kwessie is veral wit groepe wat weier om die entstof te kry omdat hulle glo dit is “vol chemikalieë” of dat die regering hulle op ’n manier gaan beheer.

Newe-effekte soos koors en moegheid ná die inenting is juis goed, sê hy, want dit dui daarop dat jou immuunstelsel sterker word.

* Die Pelonomi-hospitaal het Dinsdag slegs 390 inentings gedoen. Altesaam 4 976 mense is sedert 12 Mei hier ingeënt.


Die hersiende inentingskedule vir Lejweleputswa lyk soos volg:

Op 9 en 10 Junie sal inentings by die Masilo-gemeenskapsaal op Theunissen asook by dié ses klinieke in die distrik plaasvind:

* die Bongani-hospitaal in Welkom;

* die Nala-hospitaal in Bothaville;

* die Mohau-hospitaal in Hoopstad; en

* die Katleho-hospitaal in Virginia en die Winburg-streekshospitaal.

Op 10 Junie sal inentings ook by die ZCC-kerk in Monyakeng, Wesselsbron, gedoen word.

Slegs enkele ouer mense het Woensdag vir die Pfizer-inenting aangemeld. Net 32 907 van die 88 104 mense oor die ouderdom van 60 in Mangaung het al vir die inenting geregistreer. Foto: Mlungisi Louw
Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, vra waar die ouer mense dan is. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Inenting  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.