Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kommer oor toename in virusgevalle by Tukkies

Weens die toename in koronavirusinfeksies by die Universiteit van Pretoria (UP) word alle kroeë, restaurante en winkelsentrums wat gereeld deur studente besoek word, veral in die Hatfield-omgewing, nou as moontlike pandemie-brandpunte beskou.

Meer as 100 studente van die UP is sedert 20 Maart positief vir die koronavirus getoets.

“Uitbrekings in omgewings soos universiteitskoshuise hou ’n hoë risiko in vir die verdere verspreiding van die virus. Die verontagsaming van maatreëls bly ’n groot uitdaging en ’n bron van kommer vir ons,” sê Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse gesondheidsdepartement.

Sy sê 103 gevalle is van 20 Maart tot 5 April by die universiteit aangemeld. “Altesaam 41 van daardie pasiënte het reeds herstel en 62 is steeds in isolasie,” sê Kekana.

Rikus Delport, woordvoerder van die UP, het Woensdag by navraag gesê almal wat positief getoets is, het matige Covid-19-simptome. Hy sê die vermoede is dat studente die virus by gewilde kroeë en restaurante in die Hatfield-omgewing opgedoen het en nie op kampus nie. Kekana sê ook die uitbreking is weens sosiale bedrywighede buite die kampus.

Intussen het die gesondheidsdepartement en die UP met dringende stappe begin om die virus te bekamp.

“Daar is begin met grootskaalse koronavirustoetsing by die universiteit, terwyl moontlike kontakte van pasiënte ook in isolasie geplaas is. Indien hulle simptome het, word hulle onmiddellik getoets. Positiewe gevalle word ook deurgaans gemonitor,” sê Kekana.

Alle studentelewe-bedrywighede is ook vir eers gestaak. “Ons ontsmet steeds gemeenskaplike gebiede in die koshuise waarin die betrokke studente woon. Daar is ook gesprekke om oplossings te vind vir studente se gedrag as hulle nie op kampus is nie,” sê Delport.

Chris Swart, eienaar van die kroeg The Jolly Roger in Hatfield, het Woensdag aan Netwerk24 gesê hoewel kroeë nou as brandpunte beskou word, kan kliënte steeds gerus wees om dié kroeg te besoek.

“Ons volg streng Covid-19-maatreëls, soos vereis deur die regering. Ons laat net ’n sekere getal mense in die kroeg toe.

“Mense kan gerus voel om ’n drankie by ons te kom geniet, want ons doen alles in ons vermoë om hulle veilig te hou teen die virus,” het hy gesê.

Dié kroeg is baie gewild onder studente. Navrae is ook aan die Springbok-kroeg in Hatfield gerig, maar het onbeantwoord gebly.

Die Gautengse gesondheidsdepartement doen egter ’n beroep op studente om eerder sosiale geleenthede te vermy, omdat dit superverspreiders van die virus kan word.

“Indien jy positief toets vir die koronavirus, bly asseblief by die huis en dien jou isolasie-tydperk uit. As jy ’n kontak van ’n bevestigde geval is, moet jy ook in isolasie gaan,” pleit Kekana.

Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hy hoop die nuus (oor die toename in virusgevalle) laat mense, en veral studente, wakker skrik. “Sosiale interaksies het ’n groot impak op die derde vlaag. Ons moet aanhou om ’n veilige afstand te handhaaf, goeie higiëne toe te pas en ons maskers te dra,” het hy gesê.

Meer oor:  Tukkies  |  Pretoria  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.