Die wêreldwye sterftesyfer weens die nuwe koronavirus is nou hoër as dié van die ernstige akute respiratoriese sindroom-virus (Ears) in 2003.
Minstens 813 mense wêreldwyd is reeds deur dié virus geëis, vergeleke met die 714 Ears-slagoffers. Nog 89 mense is Sondag in China weens die koronavirus dood.
Wêreldwyd staan die getal bevestigde besmette gevalle op meer as 37 000, waarvan die meeste in China is.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê hy gaan vandeesweek ’n span na China stuur om die uitbreking van die dodelike virus te ondersoek. Vrae het ontstaan oor die dood van ’n oogarts, Li Wenliang, wat die Chinese owerhede oor die virus gewaarsku het, maar tot stilswye gedwing is. Hy het Donderdag aan die virus beswyk.
Liu Xiaoming, China se ambassadeur in Brittanje, het Sondag te midde van fel kritiek op sosiale media oor hoe Li behandel is, gesê hy sal as ’n held onthou word.
Nuwe gevalle van besmetting is Sondag in onder meer in Suid-Korea, Duitsland, Singapoer en Taiwan aangemeld.
In die grootste enkele uitbreking buite China is 70 gevalle nou bevestig aan boord van die toerskip Diamond Princess, wat aan die kus van Jokahama, Japan, geanker is. Die skip het meer as 400 Amerikaners aan boord.
Intussen het Chinese owerhede sewe “gesondheidsverwante misdade” aangekondig wat streng gestraf sal word. Dit sluit in aanvalle op mediese personeel, om mediese ondersoeke te weier en die beskadiging of vernietiging van mediese geriewe.
Luidens die verklaring kan enigeen wat die nuwe virusbeheerregulasies oortree, tronkstraf of selfs die doodstraf kry.
Volgens ekonome is die ontwrigting van die wêreldwye ekonomie weens die virus tans beheerbaar. As die virus egter aanhou versprei, sal die ekonomiese skade vinnig toeneem.
Bronne: CNN, Reuters en SkyNews; verwerk