Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Korona en komorbiditeit: Wat jy moet weet

Mense wat aan komorbiditeite of onderliggende siektes soos diabetes, asma, hart-, long- of niersiektes of selfs kanker ly, staan ’n groter kans as relatief “gesonde” mense om ernstig siek te word en selfs aan Covid-19 te sterf.

Dit is volgens die data wat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) oor gehospitaliseerde pasiënte in Suid-Afrika versamel het.

’n Komorbiditeit is ’n onderliggende en/of voorafbestaande siektetoestand wat Covid-19 kan vererger.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Jaco Marais
Een van die lesse wat ons by China geleer het, is as ons nie mense met komorbiditeite beskerm nie, neig dit om die sterftekoers te verhoog.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het reeds vroeg in Mei benadruk hoe belangrik dit is om pasiënte by wie Covid-19 gediagnoseer is, te onderskei van diegene wat ook aan komorbiditeite ly.

“Een van die lesse wat ons by China geleer het, is as ons nie mense met komorbiditeite beskerm nie, neig dit om die sterftekoers te verhoog,” het Mkhize gesê.

Die land het Maandag na vlak 3 van die inperking beweeg, en epidemioloë verwag steeds dat die piek van die uitbreking in Suid-Afrika in Augustus of September vanjaar sal wees.

“Dit is dus belangriker as ooit tevore dat mense met ’n hoë risiko geïdentifiseer word sodat bykomende maatreëls ingestel kan word om die risiko te verminder om Covid-19 op te doen,” sê prof. Lucille Blumberg, adjunkdirekteur van Nios.

“Daar is twee baie belangrike dinge wat mense van komorbiditeite moet besef. Vir eers weet ons komorbiditeite kan daartoe lei dat mense wat Covid-19 opdoen, baie ernstiger siek word. Mense wat aan siektes soos diabetes en hipertensie ly, moet op vlak 3 waar mense baie meer gaan rondbeweeg, versigtiger as ooit tevore wees om nie die virussiekte aan te steek nie.

“Ons is ook baie bekommerd oor die bestuur van onderliggende siektes. Ons het agtergekom dat mense weens die vrees vir die koronavirus nie hospitale en klinieke besoek vir die behandeling vir hul onderliggende siektes of inentings daarteen nie.”

covid-19
covid-19

Die syfers waarsku

Nios het ’n program waardeur data uit private en staatshospitale in die land bestudeer word met die doel om hospitaalopnames, die patroon van Covid-19 in hospitale, komorbiditeite, behandelings en so meer te bestudeer.

Die studies word in alle private hospitale en in 60 staatshospitale gedoen.

Teen einde Mei was meer as 3 400 Covid-19-pasiënte al landwyd in 207 hospitale opgeneem. Van hulle was 450 (13%) teen 24 Mei, toe die data ingesamel is, reeds dood. Uit die totale groep wat gesterf het, was 14% tussen 40 en 67 jaar oud en 27% ouer as 65 jaar.

Teen Maandag 1 Junie is 705 sterftes al in die land aangemeld.

Altesame 1 856 (55%) het ten tyde van Nios se studie herstel en is ontslaan, of hulle is na ander geriewe oorgeplaas. Op 24 Mei was 1 105 nog in die hospitaal behandel.

Die meeste hospitalisasies was in die Wes-Kaap (65,4%), die Oos-Kaap (10,2%), Gauteng (10,1%) en KwaZulu-Natal (9,5%).

81% ly aan komorbiditeite

Altesaam 2 748 (80,6%) van die 3 411 gehospitaliseerde pasiënte het ten tyde van Nios se studie aan onderliggende siektes gely.

Volgens data wat Blumberg aangehaal het, het 1 006 (36,6%) van dié mense geen onderliggende siekte gehad nie, terwyl 832 (30,3%) een onderliggende siekte en 910 (33,1%) twee of meer onderliggende siektes aangemeld.

  • Van die pasiënte sonder enige komorbiditeite (1 006) is 83 (8,3%) dood, 614 (61%) is ontslaan en 309 (30,7%) was steeds tydens die studie in die hospitaal.
  • Van die pasiënte met een komorbiditeit (832) is 110 (13,2%) dood, 442 (53,1%) is ontslaan en 280 (33,7%) was nog in die hospitaal.
  • Van pasiënte met twee of meer onderliggende siektes (910) is 218 (24%) dood, 404 (44,4%) is ontslaan en 228 (31,7%) was steeds in die hospitaal.
  • Van die pasiënte met komorbiditeite het die meeste aan hipertensie gely (1 027 gevalle of 59%), met diabete kort op hul hakke (824 gevalle of 47,3%).

In die derde plek was MIV met 307 pasiënte (17,6%), gevolg deur asmalyers (282 gevalle of 16,2%).

Tuberkulose, chroniese kardiovaskulêre toestande, chroniese longsiektes wat soms by rokers voorkom, chroniese niersiekte (mense wat dialise ontvang), vetsug, kanker en onderdrukte immuunstelsels (hetsy weens ’n immuunsiekte of weens kankerbehandeling) kan ook tot ’n baie ernstige graad van Covid-19 lei, sê Blumberg.

“Data tot ons beskikking bevestig dié komorbiditeite of risikofaktore as die hoogste in Suid-Afrika,” sê sy.

covid-19

Wat beteken dit nou eintlik?

Dit lyk asof pasiënte met komorbiditeite dus ’n hoër risiko het om ernstige Covid-19 te ontwikkel of daaraan te sterf, indien hulle die virussiekte opdoen.

Hoe meer komorbiditeite, hoe dodeliker word Covid-19.

“Daar is wel nog nie genoeg data in Suid-Afrika om die werklike risiko wat Covid-19 vir die lyers van MIV, tuberkulose en vetsug inhou uit te stippel nie,” het Blumberg verduidelik.

Al drie die toestande kom algemeen onder Suid-Afrikaners voor.

Volgens Blumberg moet almal met komorbiditeite voorsorg tref om die risiko te verminder om Covid-19 op te doen.

“Was en ontsmet gereeld hande en handhaaf ’n gesonde afstand van ander mense. Moet eerder nie saamtrekke bywoon nie. Die gebruik van maskers word aanbeveel, nie noodwendig omdat dit die maskerdraer van infeksie beskerm nie, maar omdat dit die verspreiding van die virus verminder vanaf diegene wat reeds die siekte onder lede het.”

covid-19

Só het mense met komorbiditeite van Covid-19 herstel of gesterf

  • Hipertensielyers (1 027 pasiënte): 232 is dood, 474 is ontslaan en 321 was tydens die studie steeds in die hospitaal.
  • Diabete (824 pasiënte): 192 is dood, 360 is ontslaan en 272 was steeds in die hospitaal.
  • Lyers aan kardiovaskulêre siektes (62 pasiënte): 19 is dood, 29 is ontslaan en 14 was steeds in die hospitaal.
  • Asmalyers of mense met chroniese longsiektes (282 pasiënte): 49 is dood, 148 is ontslaan en 85 was steeds in die hospitaal.
  • Mense met kroniese niersiekte (144 pasiënte): 52 is dood, 56 is ontslaan en 36 was nog in die hospitaal.
  • Mense met kwaadaardige gewasse, of kankerlyers (31 pasiënte): 7 is dood, 11 is ontslaan en 13 was nog in die hospitaal.
  • MIV-lyers (307 pasiënte): 48 is dood, 155 is ontslaan en 104 was nog in die hospitaal.
  • Pasiënte met aktiewe tuberkulose (65 pasiënte): 13 is dood, 32 is ontslaan en 20 was steeds in die hospitaal.
  • Pasiënte wat in die verlede tuberkulose gehad het (153 pasiënte): 33 is dood, 70 is ontslaan en 50 was nog in die hospitaal.
  • NOTA: Veelvuldige komorbiditeite word meer as een keer getel, so die totaal sal meer wees as die totale getal individue (2 748) wat komorbiditeite aangemeld het.
covid-19

Die risiko vir ouer mense

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het mense ouer as 60 jaar as ’n hoë risiko geïdentifiseer, omdat hulle gewoon meer komorbiditeite en swakker immuunstelsels het.

Mense sê graag Suid-Afrika is ’n jonger samelewing as byvoorbeeld Italië en Swede en dat dit in ons guns tel, maar Blumberg is nie so seker nie.

“Ons is ’n gemengde samelewing. Ons is nie so jonk soos ons dink nie. In die res van Afrika is ook baie ouer mense. As jy komorbiditeite het, tel jou jonger ouderdom nie meer in jou guns nie,” sê Blumberg.

Oor kinders sê sy: “Ons versamel nog data oor kinders met Covid-19. Dit lyk nie asof hulle so siek word soos ouer mense nie. Twee babas wat in Suid-Afrika aan die siekte dood is, is albei vroeggebore en het ook ander komplikasies gehad (wat nie Covid-19-verwant was nie).”

Kan asimptomatiese kinders die koronavirus oordra? Daar is baie min navorsing beskikaar om te bewys dat kinders, wat nie Covid-19-simptome toon nie, ‘n groot rol speel in die verspreiding van die siekte. Luidens ‘n Britse navorsingswebwerf het navorsers huishoudings met gevalle van Covid-19 in China, Singapoer, Suid-Korea, Japan en Iran bestudeer en gevind dat kinders die bron van net drie infeksies was. Kinders is egter geneig om ligter vorme van Covid-19 op te doen. Ligter simptome, soos as hulle dalk nie hoes nie, kan veroorsaak dat die virus moeiliker oordra. Meer navorsing is egter nodig om dit te staaf.

Navorsing uit China het uit 44 672 bevestigde gevalle die volgende aantal infeksies per ouderdomsgroep getoon:

  • 80 jaar en ouer: 3% (1 408 infeksies)
  • 30-79 jaar: 87% (38 680 infeksies)
  • 20-29 jaar: 8% (3 619 infeksies)
  • 10-19 jaar: 1% (549 infeksies)
  • Jonger as 10 jaar: 1% (416 infeksies)

Dieselfde navorsing uit China het die volgende sterftes per ouderdomsgroep getoon:

  • 49% van alle kritieke gevalle het gesterf.
  • 80 jaar en ouer: 14,8%
  • 70-79 jaar: 8,0%
  • 60-69 jaar: 3,6%
  • 50-59 jaar: 1,3%
  • 40-49 jaar: 0,4%
  • Jonger as 40 jaar: 0,2%.

Risiko vir diabete

Volgens die International Diabetes Federation (IDF) was daar teen November 2019 al 4,5 miljoen diabete in Suid-Afrika.

Volgens Nios ly 47% van die pasiënte wat in die hospitale opgeneem is weens Covid-19 aan diabetes.

Navorsing in The Lancet toon dat diabetes tot ernstige longontsteking en septiese skok in sowat 20% van Covid-19-pasiënte kan lei. Dit kan die waarskynlikheid van sterftes met tot 50% verhoog.

Covid-19 kan voorts hiperglukemie (oormaat bloedsuiker) by bejaardes met tipe 2-diabetes veroorsaak.

Bejaardes met tipe 2-diabetes sukkel ook met hartsiektes, wat die risiko vir Covid-19 verder verhoog.

Diabetes was reeds ’n komorbiditeit met die Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers)-epidemie wat in 2012 in Saoedi-Arabië uitgebreek het. Dié epidemie is ook deur ’n koronavirus veroorsaak.

Risiko vir mense met hoë bloeddruk

Luidens die Hipertensie-stigting in Suider-Afrika het vier uit tien persone ouer as 25 jaar hipertensie.

Dit beteken byna 1 miljard mense ly aan hipertensie, maar volgens die stigting is net 50% bewus daarvan.

Studies uit China het volgens WebMD.com getoon dat tussen 25% en 50% van die hipertensielyers wat ook Covid-19 opgedoen het, is gehospitaliseer en word dus as ernstige gevalle geag.

In Italië het 76% van die pasiënte wat weens Covid-19 gesterf het, ook aan hipertensie gely, berig WebMD.

Dit is glo omdat hipertensie oor ’n tydperk die immuunstelsel verswak. Daar is ook bespiegelings dat van die medisyne wat hipertensielyers gebruik, die risiko kan verhoog, maar die beperkte navorsing daaroor kan nog nie klarigheid gee nie.

Volgens ABC News kan hipertensie organe soos die hart beskadig. Die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, doen dieselfde.

covid-19

Die risiko vir oorgewig mense

Hoewel daar nog nie Suid-Afrikaanse data beskikbaar is vir die risiko van Covid-19 by mense wat oorgewig is nie, het ’n paar buitelandse studies al bewys dat vetsug in jonger mense Covid-19 kan vererger, selfs al toon navorsing dat jonger mense nie so vatbaar vir die siekte is nie.

Rapport het berig dat sowat 70% van Suid-Afrikaanse vroue en 40% van mans oorgewig is.

Data van ’n hospitaal in China toon dat mense wat oorgewig is, kry makliker virale asemhalingsinfeksies as diegene met ’n normale gewig. Covid-19-pasiënte wat oorgewig is, het ook ernstiger hoes- en koorsimptome as pasiënte met ’n normale gewig. Die oorgewiggroep was twee en ’n half keer meer geneig om ernstige longontsteking te ontwikkel, teenoor die Covid-19-pasiënte met ’n normale gewig.

’n Wetenskaplike studie wat in die British Medical Journal gepubliseer is, toon van die 4 103 ernstige Covid-19-gevalle in die stad New York was tot 26,8% oorgewig. In ’n studie in Frankryk, wat in The Lancet-joernaal gepubliseer is, is bevind dat 25% van Covid-19-pasiënte in waakeenhede, dus dié met ’n ernstige graad van die koronavirussiekte, vetsugtig was.

’n Liggaamsmassa-indeks (LMI) van meer as 30 word as vetsugtig beskou.

Kommer oor inentings

Die WGO en Unicef het op 22 Mei in ’n verklaring gesê minstens 80 miljoen kinders van jonger as ’n jaar loop wêreldwyd die risiko om ernstige siektes soos masels en polio op te doen.

Die rede is glo omdat al die aandag wat tans op die Covid-19-pandemie is, veroorsaak dat kinders se inentings onderbreek word.

Volgens data van die WGO, Unicef en die Sabin Vaccine Institute is die normale proses vir inentings in minstens 68 lande onderbreek.

Dit raak minstens 80 miljoen kinders jonger as ’n jaar.

Nios het op dieselfde dag sy kommer oor malariatoetsing uitgespreek.

Luidens ’n The Conversation-artikel sterf 1 100 mense per dag wêreldwyd aan malaria.

Nios het die WGO aangehaal wat gesê het dat ondernemings wêreldwyd minder entstowwe vir ander aansteeklike siektes soos malaria vervaardig en vir winsgewende redes eerder kapitaal vir Covid-19 aanwend.

Dít kan die malaria-navorsing op sy knieë dwing en ’n styging in infeksies en sterftes veroorsaak.

Meer oor:  Pandemie  |  Komorbiditeit  |  Risiko's  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.