Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Korona klap Bok-helde

Daar is groot vrese oor die gesondheid van talle lede van die befaamde 1981-Springbokspan nadat hulle ’n gholfdag saam met hul spanmaat Danie Gerber bygewoon het, enkele dae voordat hy positief getoets is vir die hoogs aansteeklike en gevreesde virussiekte Covid-19.

Colin Beck, Burger Geldenhuys, Divan Serfontein, G
Colin Beck, Burger Geldenhuys, Divan Serfontein, Gysie Pienaar en Danie Gerber maak reg vir die dag se gholf. Foto: Charne Kemp

Onder die oud-Bokke wat verlede Saterdag saam met Gerber gholf gespeel het by die Border Hotel in Jan Kempdorp is Henning van Aswegen, die mede-eienaar van die hotel, Burger Geldenhuys, Divan Serfontein, Robbie Blair, Colin Beck, Richard Prentis en Gysie Pienaar. Talle van hulle – almal lede van die befaamde Bokspan wat in 1981 die sogenaamde “meelbom-toer” na Nieu Seeland meegemaak het, het ook die aand in die hotel oorgebly.

Rapport het op goeie gesag verneem dat, benewens Gerber, minstens een ander persoon wat die gholfdag bygewoon het die siekte onder lede het.

Sy naam word weerhou om sy privaatheid te beskerm.

Gerber, wat Donderdag siek geword het vier dae nadat hy saam met sy ou pêlle gholf gespeel het, het Saterdag in ’n telefoniese onderhoud met Rapport gesê hy en sy 36-jarige dogter, Elanie, is intussen positief vir die virus getoets. Elanie het haar pa verpleeg nadat hy siek geword het.

“My vrou het nou uit die huis getrek sodat ek en Elanie vir ’n minimum van twee weke in afsondering kan wees,” het die Doring van Dispatch gister gesê en geskerts dat hy en sy dogter darem saam ’n dop kan drink aangesien hulle mekaar nie meer kan aansteek nie.

‘Mense neem virus nie ernstig op nie’

Sedertdien het ten minste een van die spanmaats wat saam met hom gekuier het van griepsimptome begin kla.

Die flank Burger Geldenhuys, wat steeds in sy geboortedorp, Kroonstad, bly, het gister gesê hy het hom reeds van die res van sy gesin afgesonder. Hy het gister uit sy isolasiekamer aan Rapport gesê hy is oortuig hy het nie Covid-19 nie, maar wil eerder versigtig wees. Hy het twee dae ná die Legends-gholfdag begin sleg voel.

“Ek het nie die simptome nie behalwe dat my lyf lammerig voel en ek nie lekker is nie.” Hy het gistermiddag laat gesê dat hy besluit het om homself so gou as moontlik te laat toets, omdat hy steeds nie beter voel nie.

Hy kla steen en been oor sy afsondering. “Hier is nie ’n TV nie, so dis hel op aarde. Ek is nou al vier dae plat in die bed.”

Divan Serfontein, destyds die Bokke se skrumskakel en deesdae ortopedis, meen sy ou spanmaat het waarskynlik net griep, “maar dis goed om voorsorg te tref”. Serfontein sê hy en sy vrou het hulle laat toets. Hy sê die uitslag van sy toetse is privaat.

Hy sê om veilig te wees bly hy en sy vrou in aparte kamers.

“Die hele huis staan vol botteltjies ontsmettingsmiddel. Ons ontsmet selfs die krane”.

Danie Gerber toe hy die afgelope Donderdag vir Cov
Danie Gerber toe hy die afgelope Donderdag vir Covid-19 getoets is.

Die oud-heelagter Gysie Pienaar, ook een van die Jan Kempdorp-gholf-Bokke, sê hy is tuis en toon geen simptome nie. “Ek makeer niks nie. Ek doen my eie ding by die huis en maak soos ons president gesê het ons moet doen,” het Pienaar gister gesê.

Gerber, op sy dag die beste senter in wêreldrugby, het gesê hy voel ’n bietjie pap, maar dit gaan goed “onder omstandighede”. Hy sê dis ’n raaisel waar hy die virus opgedoen het. “Ek het baie gereis die laaste ruk. Ek was Kaap toe, Jan Kempdorp toe en nog plekke. Ek was seker op vyf of ses vliegtuie in hierdie tyd.”

Hy het reeds die mense met wie hy paaie gekruis het, begin kontak.

“Ek het dié wat ek ken gebel, maar waar begin ’n mens om die res in die hande te kry?”

Hy meen Suid-Afrikaners onderskat die virusgevaar.

“Mense neem hierdie virus nie ernstig op nie. Dink aan jou gesin, jou familie, jou pelle, jou medemens.”

Hy sê hy het nie al die simptome waarvoor mense op die uitkyk is nie.

“Ek hoes nie en het geen asemhalingsprobleme nie. Dis net my lyf wat seer is,” sê Gerber.

Hy sê hy het Woensdagaand begin sleg voel.

“My lyf was later so seer ek kon skaars daaraan raak.”

Hy het Donderdag rondom middagete vir ’n toets gegaan.

“Mense sê die uitslag kan tot ’n week neem, maar min of meer 12:00 Vrydag het hulle my gebel.”

Hy sê hy doen wat hy kan om mense bewus te maak van die gevaar.

“Ek is nie iemand wat publisiteit najaag nie, maar dié virus is gevaarlik en groter as een mens. Mense wat met my in kontak was moet wéét ek het dit, dat hulle op die uitkyk vir simptome kan wees. Die res moet in hul huise bly.”

Die gevaar dat die virus kan versprei by samekomste soos die gholfdag wat die oud-Bokke bygewoon het, is hierdie week grafies geïllustreer nadat die leier van die ACDP, eerw. Kenneth Meshoe, die party se prominentste LP, Steve Swart, die prediker Angus Buchan en sy vrou, Jill, almal die siekte opgedoen het nadat hulle drie weke gelede ’n internasionale kerkbyeenkoms, die Jerusalem Prayer Breakfast, in die Vrystaat bygewoon het. Al vier het hulle laat toets nadat Rapporthulle verlede Saterdag in kennis gestel het dat vyf buitelanders, wat ook by die konferensie was, positief getoets is vir Covid-19.

Teen gistermiddag is 67 van die 895 kerkgangers positief vir die virus getoets.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Vrystaat, sê hulle is nog op soek na 286 mense wat kontak gehad het met die mense wat positief getoets is.

Meshoe se positiewe toets het ook pres. Cyril Ramaphosa en ander politieke leiers genoop om hulself te laat toets omdat hulle ’n politieke vergadering saam met Meshoe bygewoon het kort nadat Meshoe by die kerksaamtrek was. Die leiers wat hulle wel laat toets het, waaronder Ramaphosa, is almal gesond.

Robyn Maclean, Buchan se dogter, sê haar pa en ma ervaar nog nie enige van die simptome nie.

Rapport is ook bewus van ’n sakevrou van Gauteng, ’n pastoor-egpaar van die Noord-Kaap, ’n Vrystaatse boer, ’n inwoner van KwaZulu-Natal en ’n plaaslike gemeentelid wat die oorsese besoekers rondgery het, wat reeds positief getoets is vir Covid-19.

Angelize de Lange, ’n 53-jarige sakevrou van Kempton Park, het haarself Maandag laat toets nadat sy verlede Sondag in Rapport gelees het dat die vyf besoekers die kerkbyeenkoms bygewoon het.

Angelize is kort daarna in die Life Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria opgeneem nadat sy gesukkel het om asem te haal, sê haar man, Jaco. “Sy was die afgelope week dodelik siek, maar dit gaan op die oomblik heelwat beter met haar,” sê hy.

Volgens hom het sy vrou vir ’n paar minute met ’n besoeker van Israel by die konferensie gepraat.

“Daar was geen fisieke kontak tussen hulle nie. Sover my vrou weet het hulle glad nie aan mekaar geraak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.