Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Korona-skok tref kerkgroep

Korona-vrees het nou ook die land se voorste politieke leiers beetgepak nadat dit bekend geword het dat die ACDP-leier, Kenneth Meshoe, in die geselskap van vyf mense was wat Covid-19 onder lede gehad het enkele dae voordat hy pres. Cyril Ramaphosa in Tuynhuys ontmoet het.

Kenneth Meshoe, ACDP-leier (links), en Angus Bucha
Kenneth Meshoe, ACDP-leier (links), en Angus Buchan (middel) by die Jerusalem-gebedsontbyt in Bloemfontein waar vyf mense positief getoets is vir Covid-19.

Sy ACDP-kollega Steve Swart, wat by dieselfde kerksaamtrek as Meshoe was, het hom intussen in selfopgelegde isolasie geplaas nadat hy “ligte griepagtige simptome” begin toon het. Ook die bekende prediker Angus Buchan het Saterdag aan Rapport gesê hy gaan homself laat toets omdat hy ook by die kerkbyeenkoms was.

Al drie het ’n Vrystaatse gebedsbyeenkoms bygewoon waar minstens vyf mense – almal van hulle oorsese besoekers – positief getoets is vir Covid-19. Alhoewel die regering nog nie wou sê by watter kerkbyeenkoms die vyf siek toeriste was nie, kan Rapport vandag onthul dat hulle die Jerusalem Prayer Breakfast by die Divine Restoration Ministries in Ribblesdale, Bloemfontein, bygewoon het. Die geleentheid het van 9 tot 11 Maart plaasgevind en is bygewoon deur 895 besoekers. Meshoe en Buchan was albei sprekers by die geleentheid wat vanjaar vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied is.

Meshoe het Woensdag, ’n week nadat hy by die byeenkoms was, ’n vergadering met leiers van al die land se grootste politieke partye in Kaapstad bygewoon, waar Ramaphosa hulle op die hoogte gebring het van die regering se pogings om die verspreiding van die virus te keer. Op foto’s wat by die geleentheid geneem is, staan Meshoe skouer aan skouer tussen Ramaphosa en die adjunkpresident, David Mabuza.

Intussen raak dit al hoe duideliker dat die Suid-Afrikaanse regering vasbeslote is om te keer dat Suid-Afrika op dieselfde ramp as in Europa afstuur – al beteken dit ook dat die ekonomie ernstige skade in die proses ly. (Lees hier).

Pres. Cyril Ramaphosa saam met al die leiers van p
Pres. Cyril Ramaphosa saam met al die leiers van politieke partye in die parlement die afgelope Woensdag. Foto: Siyabulela Dula

Die virus is besig om talle lande in Europa te verswelg, waar leiers weke lank die flikkerende waarskuwingsligte geïgnoreer het. Net in Italië, Spanje en Duitsland is daar 66 000 nuwe gevalle sedert verlede naweek aangemeld.

In Amerika – waar pres. Donald Trump drie weke gelede voorspel het dat Amerikaanse infeksies binnekort “naby aan nul gaan wees” – is 17 200 nuwe gevalle die afgelope week bevestig.

In teenstelling hiermee het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, Saterdagaand teenoor Rapport erken dat hy reeds met die bestuur van groot kettingwinkels en die eienaars van inkopiesentrums in die provinsie vergader het om die gevolge van ’n totale inperking te bespreek. Die Wes-Kaap het tans 74 bevestigde gevalle. Gauteng het tans die meeste gevalle met 125.

“Totale inperking sal presies dit beteken, maar ons is nog nie daar nie,” het Winde Saterdagaand in ’n teksboodskap aan Rapport gesê.

“As ons nie die infeksiekoers kan afbring nie, sal swaarder stappe geïmplementeer moet word.”

Winde sê Suid-Afrika behoort te leer by ander lande wat nie vroeg genoeg opgetree het nie. Hy sê totale inperking sal beteken dat mense slegs toegelaat sal word om kos en medisyne te koop.

“Elke persoon het die verantwoordelikheid om die verspreiding van die virus te keer.”

Hy sê die situasie word elke dag op nasionale vlak geherevalueer.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag bekend gemaak dat vyf toeriste – twee van die VSA, twee van Israel en een van Frankryk – positief getoets is vir Covid-19 en onder kwarantyn by ’n gastehuis sou bly. Die gastehuis se personeel is ook onder kwarantyn geplaas.

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, het Vrydagaand aan eNCA gesê dat haar departement Vrydagoggend begin het om in aanraking te kom met mense wat die konferensie bygewoon het. Tsiu reken dat meer as 5 000 in een of ander stadium in kontak met die oorsese besoekers was.

Saterdag kon honderde mense van gister 12:00 af verniet by die Divine-kerk getoets word indien hulle die gebedsbyeenkoms bygewoon het waar Buchan en Meshoe gepraat het.

Swart en Meshoe was egter salig onbewus dat hulle by dieselfde byeenkoms was as die oorsese toeriste wat positief getoets is.

Swart het Saterdag aan Rapport gesê hy het sedertdien “ligte griepagtige simptome” begin toon en is in “selfopgelegte isolasie” ná advies van die gesondheidsowerhede.

Ook Buchan het ook nie geweet dat die mense wat saam met hom by die byeenkoms was, positief getoets is vir Covid-19 nie. Sy dogter, Robyn Maclean, het laat weet dat Buchan nou getoets gaan word en dat hy in self-isolasie sal bly totdat hy sy uitslae kry.

Meshoe sê hy voel piekfyn, maar sal homself toets sodra hy simptome begin wys.

Die DA-leier John Steenhuisen, wat saam met Meshoe by Woensdag se vergadering saam met die president was, het Saterdag gesê hy voel perdfris, maar sal hom laat toets as dit nodig word. Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier wat ook saam met Meshoe by die vergadering was, het Saterdag gesê hy sal hom “beslis laat toets” omdat hy nie sy familie en ander mense aan die virus wil blootstel nie.

Die presidensie het nie op navrae reageer oor of Ramaphosa bewus was dat Meshoe aan die virus blootgestel was kort voordat die twee in Kaapstad in kontak was nie.

Intussen is minstens 160 Suid-Afrikaners aan boord van ’n Italiaanse plesierboot in die hawe van die Italiaanse stad Genua vasgekeer nadat owerhede geweier het dat hulle aan wal gaan.

Justine Pistorius, een van die 168 Suid-Afrikaners aan boord van die Costa Pacifica, het Saterdag ’n prentjie geskets van die onsekerheid en verwarring wat op die skip heers.

Die skip, wat op 3 Maart uit Argentinië na Europa vertrek het, het Donderdag in die Franse hawestad Marseille vasgemeer waar slegs Franse passasiers toegelaat is om aan wal te gaan.

Veral die Argentynse en Brasiliaanse passasiers was woedend hieroor omdat die bemanning vroeër beloof het dat almal toegelaat sou word om die skip in Marseille te verlaat.

“ ’n Bakleiery het toe uitgebreek, waarna die kaptein van die skip gesê het ons gaan Genua toe... en dis dit.”

Pistorius sê niemand aan boord van die Costa Pacifica het Covid-19 onder lede nie, maar hulle vrees dat hulle dit in Genua kan kry.

Passasiers, waaronder burgers van Brittanje, Nieu-Seeland en Kanada, eis nou dat die eienaars van die redery hulle veilig by die huis kry. Die Suid-Afrikaners aan boord het ook die Suid-Afrikaanse ambassade in Rome probeer kontak, sonder enige sukses.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het ook nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Benewens die 168 Suid-Afrikaners op die Costa Pacifica het Netwerk24 Vrydag berig dat daar 36 Suid-Afrikaners aan boord van ’n susterskip, die Costa Luminosa, gestrand is.

Alle passasiers op hierdie skip is die afgelope week beveel om in self-isolasie in hul kamers te leef. Die skip het Vrydagaand van Marseille na Savona in Italië vertrek.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Angus Buchan  |  Kenneth Meshoe  |  Steve Swart  |  Italië  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.