Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Korona tref Kaap

Die koronavirus het amptelik die Wes-Kaap bereik.

'n Sekuriteitswag by die Tygerberg-hospitaal staan met 'n masker op sy gesig en spuit handreiniger op die hande van almal wat in en uit die vleuel beweeg waar koronavirus-pasiënte sal aanmeld. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gister saam met die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, by dié hospitaal aangekondig dat die Wes-Kaap sy eerste geval van Covid-19 aangeteken het. Foto: Jaco Marais

’n 36-jarige man wat Covid-19 onder lede het, is onder selfkwarantyn tuis iewers in die Kaap nadat hy Maandag van oorsee teruggekeer en siek begin voel het.

Dié aankondiging is Woensdag gedoen ten tyde van ’n toer van die Tygerberg-hospitaal se isolasie-eenheid.

Die besmette man het na verskeie lande, waaronder Duitsland, Oostenryk, Switserland en Turkye, gereis. Hy is sedert Dinsdag geïsoleer.

Hy was egter nie siek genoeg om in die Tygerberg-hospitaal, die provinsie se aangewese fasiliteit vir die behandeling van Covid-19-gevalle, opgeneem te word nie.

Volgens dr. Jantjie Taljaard van die afdeling vir aansteeklike siektes by Tygerberg kan daar, afhangend van pasiënte se toestand, en ná konsultasies besluit word dat hulle hulself mag isoleer.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het gesê die self-isolasietydperk kan tussen sewe en 21 dae wees.

Hy kon nie bevestig of die man by die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekom het nie, maar sê dat al die passasiers wat op dieselfde vlug was, en veral diegene wat naby die man gesit het, opgespoor sal word.

Dié mense sal vir die volgende twee weke gemonitor word. Van die personeel by die private hospitaal waar hy aanvanklik aangemeld het en getoets is, het hulself ook reeds geïsoleer.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, wou nie sê waar in Kaapstad die man hom bevind en of hy alleen oorsee gereis het nie.

Mbombo sê daar word beslis verwag dat nog mense in die provinsie die virus sal opdoen.

“Dit is heeltemal te verwagte dat mense wat met die man in kontak was die virus by hom kan kry.

“Wat ons bekommer, is dat talle mense met die virus die Wes-Kaap kan binnekom. Dit beteken baie meer mense sal gesoek en getoets moet word.”

Volgens Taljaard is meer as 80 mense in die Wes-Kaap reeds getoets, waarvan ongeveer ’n derde in die Tygerberg-hospitaal getoets is.

Hy sê dit neem ongeveer 12 uur om die uitslag van die laboratorium te ontvang.

Daar is nou 13 mense in Suid-Afrika met die virus onder lede en 645 is reeds getoets.

Daar is tans geen aanduiding dat Covid-19 wyd in Suid-Afrika aan die versprei is nie.

Toetse word 24 uur per dag gedoen en niemand hoef te betaal vir ’n Covid-19-toets nie.

Mbombo sê die nasionale departement van gesondheid sal oop kaarte speel met burgers en sal dadelik aankondig indien nog pasiënte gediagnoseer word. “Ons wil nie paniek aanblaas nie. Ons het die nodige kennis en ervaring om hierdie tipe situasies te hanteer en het gekwalifiseerde spesialiste en navorsers wat help met die proses.”

Woensdag het dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid, bevestig dat die virus by nog vier mense in Gauteng gediagnoseer is, benewens die een wat verlede week geïdentifiseer is.

Al dié mense het oorsee gereis en is tans in private hospitale opgeneem.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het gesê die identifisering van nog gevalle onder mense wat onlangs gereis het, is nie onverwags nie.

“Daar is tans geen aanduiding dat Covid-19 wyd in Suid-Afrika aan die versprei is nie,” sê Nios in ’n verklaring.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die siekte intussen tot ’n pandemie verklaar.

Time berig volgens die WGO kom Covid-19 nou al in meer as 110 lande voor en het sowat 118 000 mense dit onder lede. “Dit is nie bloot ’n openbare gesondheidskrisis nie; dit is ’n krisis wat elke sektor gaan raak,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die organisasie, Woensdag gesê. “Elke sektor en elke enkeling moet betrokke raak by die bestryding. daarvan”

Die WGO definieer ’n epidemie as ’n wydverspreide siekte binne ’n enkele gemeenskap”.

’n Pandemie, daarenteen, steek grense oor.

Die WGO definieer ’n epidemie as ’n wydverspreide siekte binne ’n enkele gemeenskap”.

Dr. Jantjie Taljaard van die afdeling vir aansteeklike siektes by die Tygerberg-hospitaal het verduidelik dat pasiënte by ingang nr. 5 ingeneem word omdat dit die ingang is waar die minste mense regstreekse kontak met die pa­siënt sal hê.

Die pasiënt word in ’n aangewese hysbak geneem na die tiende verdieping, waar die isolasie-eenheid is. Dié eenheid is in die 1970’s ingerig vir die behandeling van pasiënte met Kongokoors. Die eenheid het vier kamers, elk met sy eie badkamer.

Woensdag was drie van die vier kamers in eenheid D10 beset deur pasiënte wat vir die virus getoets word.

Suster Marina Aucamp, hoofsuster in die afdeling vir infeksiebeheer, het verduidelik dat al die dokters en ander personeellede streng maatreëls toepas wat spesiale klere en maskers betref.

“Die personeel dra chirurgiese maskers wanneer hulle naby die pasiënt kom. Dit is meer as genoeg beskerming. Wanneer ’n monster geneem moet word, word ’n N95-masker gebruik.”

Sy sê die personeel dra ook hospitaaljurke, voorskote, haarnette en handskoene in die isolasiekamers. Buiten D10 is eenheid F3 ook gereed om ’n bykomende vier pasiënte te behandel.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Wes-Kaap  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.