Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus: 63 positief ‘ná Kaapse kroeg-kuier’
Die Tin Roof nagklub/kroeg in Claremont, Kaapstad. Hierdie foto is van Facebook gekry en is voor die koronaviruspandemie geneem. Foto: Facebook Tin Roof

Meer as 60 Kapenaars, waaronder 37 matrieks, het die koronavirus verlede naweek opgedoen, glo by ’n kroeg in Claremont.

Die geleentheid by die gewilde kroeg Tin Roof is op sosiale media geadverteer met die belofte van goedkoop drank vir diegene wat dit bywoon.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê sy kontakopsporingspanne het 63 gevalle geïdentifiseer wat met die kroeg en klub in die suidelike voorstede van Kaapstad verbind word.

Die departement het ’n volledige ondersoek deur die polisie en die provinsie se drankowerheid aangevra weens verskeie bewerings oor die sosiale geleentheid wat van 1 tot 3 Oktober by Tin Roof gehou is.

“Voorlopige inligting dui daarop dat van die 63 gevalle wat tot dusver opgespoor is, 37 leerlinge in matriek is. Dié leerlinge woon verskillende skole in die suidelike voorstede by, waarvan die meeste private skole is.

“Ons spanne het al die skole gekontak en sorg dat die nodige protokolle gevolg word,” sê Alan Winde, Wes-Kaapse premier, in ’n verklaring.

Hy sê die meeste van dié gevalle is deur private mediese geriewe gehanteer en die dokters het die Wes-Kaapse departement van gesondheid ingelig dat daar ’n patroon is van mense in dieselfde ouderdomsgroep in dié omgewing wat positief toets.

Winde sê die gebeurtenis is nie ’n aanduiding dat die provinsie in die kloue van ’n “tweede golf” is nie.

“Dit is een groep wat die volgehoue potensiaal vir verspreiding demonstreer, selfs al het ons hospitalisasies en sterftes nou gestabiliseer. Ons is nietemin baie bekommerd dat hierdie spesifieke gebeurtenis ’n aanduiding is dat jonger inwoners nie die nodige veiligheidsmaatreëls volg om ’n hernude toename in infeksies te voorkom nie.”

Voorlopige inligting dui daarop dat van die 63 gevalle wat tot dusver opgespoor is, 37 leerlinge in matriek is.

Winde sê ook dit demonstreer dat sommige instansies nie belangrike gesondheids- en veiligheidsriglyne nakom wat ingestel is om die verspreiding te stop nie.

Mense “dra nie hul maskers behoorlik nie of hulle dra dit glad nie. Hulle woon groot byeenkomste by sonder om ’n veilige afstand te handhaaf en waar ventilasie moeilik of selfs onmoontlik is.”

Onder die leerlinge wat by die een geleentheid verlede naweek besmet is, is 19 van openbare skole in Kaapstad.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê hy is deur die provinsiale gesondheidsdepartement in kennis gestel van die 19 leerlinge.

Ons is nietemin baie bekommerd dat hierdie spesifieke gebeurtenis ’n aanduiding is dat jonger inwoners nie die nodige veiligheidsmaatreëls volg om ’n hernude toename in infeksies te voorkom nie.

Bronagh Hammond, die WKOD se direkteur van kommunikasie, sê volgens die gesondheidsdepartement het ’n opsporingspan die leerlinge gekontak en is hulle ook besig om diegene wat nabye kontak met die leerlinge gehad het, op te spoor.

Hammond sê sosiale byeenkomste moet ontmoedig word en gesondheids- en veiligheidsprotokolle, insluitend die dra van maskers, moet by alle openbare geleenthede gevolg word. Mense moet ook gereeld hul hande was en ’n veilige afstand van mekaar handhaaf.

Sy sê die WKOD sal weer eens Covid-19-voorsorgmaatreëls herbevestig in korrespondensie met skole.

Heather Goedeke, hoof van die sekondêre skool van Herschel Girls School, sê 14 matriekleerlinge hier is positief vir die koronavirus getoets nadat hulle by Tin Roof was.

Tin Roof reageer

James Truter van Tin Roof sê by navraag hulle is reeds 16 jaar lank in die gebied bedrywig en hulle bestaan so lank omdat baie ouers vertrou dat dit veilig is vir hul kinders.

“Ons was vir langer as ses maande gesluit en dit het ons amper bankrot gemaak, dus was ons bly dat ons weer ons deure kon oopmaak.

“Nagklubs mag egter nie nou oop wees nie en daarom het ons ons onderneming in ’n kroeg omgeskep en ons dansvloer het nou potspeltafels.”

Hy sê niemand dans nie en hul handelsure en algemene protokol moes ook verander.

“Ons open nou om 18:00 en sluit om 23:40.”

Volgens hom het hulle ’n reeks veiligheidsprosedures ingestel sedert hulle ’n maand gelede heropen het.

“Kliënte moet te alle tye maskers dra, distansieer en ontsmet wanneer hulle die lokaal binnekom. Klante se koors word gemeet en hulle moet in ’n logboek aanteken.”

Hy sê normaalweg kon hulle 190 mense inlaat, maar dis nou tot die helfte van dié getal beperk.

Kliënte moet te alle tye maskers dra, distansieer en ontsmet wanneer hulle die lokaal binnekom. Klante se koors word gemeet en hulle moet in ’n logboek aanteken.

“Feitlik al ons personeel is gedurende die afgelope twee weke getoets vir die virus. Nog net twee moet getoets word, maar die ander is almal negatief.”

Truter sê die polisie het hulle onlangs geïnspekteer en alles was in orde.

“Ons neem nie hierdie virus ligtelik op nie en ons is nie bereid om die welstand van ons kliënte in gevaar te stel nie.”

Truter bevraagteken dit dat die virus wel in Tin Roof versprei is aangesien verskeie van hul kliënte die betrokke naweek ook huispartytjies bygewoon het.

Hy meen niemand kan dus presies sê waar mense die virus opgedoen het nie.

“Sommige van hierdie kinders het wel ná die private partytjies by ons ’n draai kom maak. Ek is meegedeel dat ’n groot byeenkoms verlede naweek ook by die nabygeleë universiteit se tennisklub plaasgevind het en dat ’n paar honderd kinders dit bygewoon het, maar niemand blameer hulle nie,” sê Truter.

Meer oor:  Kaapstad  |  Claremont  |  Koronavirus  |  Tin Roof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.