Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus: Die ergste lê voor

Terwyl die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika Saterdag skerp gestyg het van 24 tot 38, glo kenners die land kan nog ’n katastrofiese uitbreking van die koronavirus-pandemie vryspring mits die lesse van elders ter wêreld ter harte geneem en dadelik toegepas word.

Pasiënte word in ’n tydelike saal vir noodgevalle
Pasiënte word in ’n tydelike saal vir noodgevalle in ’n hospitaal in Brescia, Italië, versorg om die druk op die gesondheidstelsel te verlig. Foto: Getty

Die land is nog in die fase van inperking, het dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, Vrydag aan Netwerk24 gesê. Dit beteken dat daar nog min genoeg individuele gevalle is dat opsporingspanne mense met wie hulle kontak gehad het, kan soek en hulle kan vra om in kwarantyn te gaan.

Hy sê die land ondervind nog nie ’n uitbreking waar die siekte so vinnig versprei dat dit nie meer moontlik is om mense op te spoor wat kontak met die siekes gehad het nie.

Die land se medici berei hulself egter daarop voor dat die getal bevestigde infeksies nog dramaties kan styg. Die hoeveelheid mense wat positief getoets het, het reeds 19-voudig van verlede Saterdag (toe daar net twee was) toegeneem.

In Gauteng is daar nou 17 bevestigde gevalle, 11 in KwaZulu-Natal, nege in die Wes-Kaap en een in Mpumalanga. Daar is reeds 1 017 mense in die land getoets waarvan 979 negatief getoets het.

Wat wetenskaplikes egter hoop gee, is dat almal wat tot dusver positief getoets het, onlangs oorsee gereis het en dat daar nog geen binnelandse oordrag plaasgevind het nie. Die oudste Suid-Afrikaner met Covid-19 is ’n 76-jarige man wat van Brittanje en die Verenigde State teruggekeer het en die jongste is ’n 14-jarige meisie van die Wes-Kaap wat in Amerika en Dubai was.

Baie sterftes wag vir Europa wat te lank getalm het.

Die eksponensiële manier waarop die virus elders versprei het, voorspel niks goeds nie. In Frankryk het dit 15 dae geneem om te vorder van 38 (presies soveel as wat Suid-Afrika nou het) tot 3 667. Italië, die Europese land met die meeste bevestigde gevalle, het in drie weke gevorder van 20 tot 17 660.

Gemeet aan die syfers, lê ’n baie moeilike paar weke voor. Suid-Afrikaanse kenners is positief dat die land taamlik goed voorbereid is op wat wag.

“Suid-Afrika het ’n voorbereidingsplan wat reeds vir die griep-pandemie van 2009 geskryf is en daarna opgedateer is vir die 2014-Ebola-uitbreking,” sê prof. Marietjie Venter, ’n virus-kenner aan die Universiteit van Pretoria.

Sy sê dit is te danke aan dié planne dat spanne die afgelope tien dae vinnig gereed was om die mense op te spoor met wie die reisigers wat positief getoets het, kontak gehad het.

Die groot vraag is egter hoe lank die regering en gesondheidsowerhede gaan talm voordat hulle maatreëls gaan instel om die verspreiding van die virus stop te sit sou die land van die inperkingsfase na ’n volwaardige uitbreking beweeg.

Dit was teen Saterdagaand duidelik dat Suid-Afrikaners tot ’n groot mate reeds vrywillig besig is om die vinnige verspreiding van die virus te temper.

Talle groot byeenkomste in Suid-Afrika is reeds gekanselleer of uitgestel, terwyl baie lande in Europa pas eers begin het om dit te doen.

Saterdag is aangekondig dat alle wedstryde in vanjaar se Superrugby-toernooi ná dié wat vandag in Australië gespeel word, nou onbepaald uitgestel word.

Die direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het ook aangekondig dat vanjaar se fees, wat van 24 tot 29 Maart op Oudtshoorn sou plaasvind, gekanselleer is.

Ook die Kaapstadse Internasionale Jazzfees en die Africa Burn-hippiefees in die Tankwa-Karoo het in die slag gebly en die internasionale Cape Epic-bergfietsren, waaraan verskeie Europese spanne sou deelneem en wat gister sou begin, is afgestel.

Die direksie van die KKNK het Saterdagmiddag gesê die besluit is nie ligtelik geneem nie en is voorafgegaan deur indringende gesprekke met gesondheidsowerhede, die plaaslike regering, die hoofborg, Absa, en ander rolspelers.

Dié fees lok jaarliks sowat 1 000 kunstenaars wat daarop staatmaak vir hul grootste inkomste in die eerste helfte van die jaar. Die besluit is daarom, juis vanweë sy ekonomiese impak, nie geesdriftig ontvang nie.

Niel Els, ’n voormalige sakekamer-voorsitter van Oudtshoorn en sakeman op die dorp, het die besluit as “belaglik” en “irrasioneel” bestempel. Hy sê dit is hoogsomer en warm op die dorp en mense kry weinig griep in dié geweste dié tyd van die jaar.

“Dit is die grootste ekonomiese inspuiting vir die dorp. Sakeondernemings het klaar onkoste aangegaan. Hoe gaan jy nou mense terugbetaal?”

Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, sê feesgangers pomp jaarliks R56 miljoen in die dorp se ekonomie. Die aktrise Lizz Meiring sê sy het reeds R200 000 bestee om haar produksie, Die weduwee se sjampanje, moontlik te maak.

“Ek kan dit nie glo nie,” sê Meiring oor die nuus. “Daar is so baie mense op Oudtshoorn wat net tydens die KKNK kan werk. Ek kan nou vir jou vertel daar gaan baie meer mense van honger doodgaan as van die koronavirus.”

In China, waar die virus in Desember vir die eerste keer geïdentifiseer is, is die pandemie nou grootliks iets van die verlede. Dit is grootliks te danke aan die feit dat die Chinese baie vroeg daarin geslaag het om 500 miljoen mense vir weke lank tot hul eie huise te beperk.

Vrydag het slegs agt Chinese positief getoets – waarvan vyf in die stad Wuhan, die episentrum van die pandemie. Dit beteken dat die oog van die storm nou na Europa verskuif het.

Dr. Tedros Adhanom Ghebrejesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, het Vrydagaand gesê meer gevalle word nou daagliks in Europa aangemeld as wat in China aangemeld is op die hoogtepunt van die uitbreking.

Die Spaanse regering het Vrydag ’n noodtoestand afgekondig en gewaarsku dat die getal besmettings teen volgende week meer as 10 000 kan wees. Dit beteken dat Spanje een van die lande met die vinnigste groeiende besmettingsyfers ter wêreld is.

Spanje is gekritiseer vir sy oënskynlike blasé benadering tot die virus en sy versuim om vroeër stappe te doen om die verspreiding daarvan te bekamp. Verlede naweek nog het 120 000 mense Internasionale Vrouedag in Madrid gevier en 60 000 sokkerondersteuners het een van die grootste sokkerstadions in die stad volgepak.

Die kontras met die Chinese hantering van die krisis kan nie groter wees nie. Toe die pandemie sy hoogtepunt in die Hubei-provinsie bereik het, was die provinsie reeds 12 dae op slot. Inwoners van Wuhan is verbied om hul huise te verlaat in ’n stadium toe daar 400 nuwe gevalle per dag aangemeld is. In Spanje en Duitsland groei infeksies op die oomblik teen meer as 1 000 per dag. In Italië, waar die hele land met sy 60 miljoen inwoners sedert Maandag onder kwarantyn is, styg die aantal nuwe infeksies nog met sowat 2 500 per dag.

Die groot onbekende vir Suid-Afrikaanse navorsers is egter tot hoe ’n mate die hoë voorkoms van HIV en tuberkulose die verspreiding van die siekte en die hoeveelheid sterftes gaan beïnvloed.

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van mediese virologie by die departement patologie aan die Universiteit Stellenbosch, waarsku dat die land se sterftesyfer uiteindelik baie hoër kan wees as elders ter wêreld.

“Ons het nie data wat vir ons kan sê hoe dinge sal lyk as daardie pasiënte Covid-19 kry nie,” het Preiser gesê.

Met verslaggewing deur Suzanne Venter, Johan Eybers, Pieter Malan, Jaco Nel en Jacob Rooi.

Moenie oorsee reis nie, sê versekeraar

Moenie oorsee reis tensy dit “absoluut noodsaaklik” is nie, sê Christelle Colman, versekeringskenner by Old Mutual Insure.

“Covid-19 kan nie meer as onvoorsien geklassifiseer word nie. Ons doen ’n beroep op mense om mooi te dink oor hul oorsese reise en nie net aan die finansiële implikasies en verliese te dink nie, maar ook oor hul persoonlike veiligheid, die impak van hul terugkeer na Suid-Afrika en die samelewing in die algemeen. Ons versoek reisigers om sulke reise ernstig te heroorweeg.”

Mareli Louw (49), ’n toeroperateur van Christine van Wyk-toere in Pretoria, sê die koronavirus en inligting wat op sosiale media versprei word, is ’n groot uitdaging vir die toerismebedryf. “Ons gaan báie geld verloor. Ons vrees dit kan ons familie-onderneming kelder.”

Jaco Robbertse, besturende direkteur van Ulysses Toere en Safaris in Centurion, sê hulle hanteer tans nét kansellasies, nou ook van binnelandse reise. Besprekings vir konferensies is 50% onder begroting. “Europese besoekers wat in hul winter hierheen sou reis, stel reisplanne uit. Ons kan ’n maand of twee oorleef, maar langer as drie maande gaan baie sleg wees,” sê hy.

Colman sê reisversekering maak voorsiening vir mediese noodgevalle. “Omvattende reisversekering laat jou toe om vlugte en verblyf en ander reiskostes te kanselleer, maar nie alle polisse dek die virus nie, want dis nie meer onvoorsien nie. Dié wat dit wel dek, betaal net tot 50% van jou uitgawes terug.”

Christine van Wyk-toere se gemiddelde toerlid is 72. “Ons het ’n verantwoordelikheid om kliënte se belange op die hart te dra. Ons sal mense nie onnodig blootstel aan plekke waar die risiko groter is nie,” sê Louw.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Jantjie Taljaard  |  Marietjie Venter  |  Coronavirus  |  Covid-19  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.