Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus: G’n rede tot vrees, maar hospitale gereed

11 staatshospitale oor die land heen is gereed om mense te behandel wat met die koronavirus (2019-nCoV) besmet is, sou dit nodig word, sê Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Hy het Woensdag in Sandringham, Johannesburg, weer benadruk Suid-Afrikaners het geen rede tot kommer nie en dat die owerhede al die moontlike doen om die virus uit die land te hou.

Tot nou toe is geen gevalle of selfs moontlike gevalle in Suid-Afrika nog aangemeld nie.

Dr. Ann Mathews, hoof van Nios se reaksie-eenheid vir uitbrekings, gesels met dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, en dr. Brian Chirombo van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die Gautengse provinsiale hospitale wat toegerus is en op gereedheidsgrondslag geplaas is, is die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, die Steve Biko-hospitaal in Pretoria en die Thembisa-hospitaal aan die Oos-Rand.

Siviwe Gwarube, die DA se nasionale woordvoerder oor gesondheid, sê dié drie hospitale is naby aan die land se grootste toegangspunt, die O.R. Tambo-lughawe en is dus goed geplaas.

“Ons sal wel die minister vra of bykomende gesondheidsorgwerkers beskikbaar is om die omvang van so ’n virus te hanteer sonder om die daaglikse take van die hospitaal te beïnvloed.”

Ander provinsiale hospitale op ’n gereedheidsgrondslag, is die Polokwane-hospitaal in Limpopo, die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela (Mpumalanga), die Greys-hospitaal in Pietermaritzburg (KwaZulu-Natal), die Klerksdorp-hospitaal in Noordwes, die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein (Vrystaat), die Kimberley-hospitaal in die Noord-Kaap, die Livingston-hospitaal in Port Elizabeth (Oos-Kaap) en die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad (Wes-Kaap).

Dié hospitale het volgens die minister gespesialiseerde personeel wat weet hoe pasiënte met aansteeklike siektes behandel moet word sonder om hulself in gevaar te stel. Hulle het ook die nodige infrastruktuur om pasiënte wat positief toets vir die virus in isolasie te plaas.

Dr. Anchen Laubscher, mediese direkteur by die Netcare-groep, sê dié private hospitaalgroep het reeds stappe gedoen om te verseker dat hulle pasiënte kan behandel indien dit nodig sou wees.

“Netcare het saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) ’n reeks omvattende stappe ontwikkel om risiko’s te bepaal. Dit sal as ’n voorsorgmaatreël deur ons noodpersoneel, dokters en hospitaalpersoneel gevolg word wanneer enige pasiënt behandel word wat blootgestel was aan risikofaktore wat met die koronavirus verband hou,” sê Laubscher.

Planne om virus uit te hou

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Nios het Woensdag by Mkhize aangesluit om die land se planne bekend te maak, wat maatreëls insluit vir voorkoming, opsporing en behandeling.

Motsoaledi het gesê by toegangspunte soos hawens, lughawens en grensposte is toegangsbeheer uiters belangrik om mense met die virus op te spoor en te voorkom dat dit versprei.

Hy sê alle besoekers uit Asië, en veral China, word hier ondersoek om te verseker dat hulle nie die virus het nie. Dit word as volg gedoen:

* Besoekers se koors word gemeet. Enige toeris wat siek lyk, word ook ondersoek. As die vermoede bestaan dat die pasiënt die virus het, sal Nios dadelik in kennis gestel word.

* Gesondheidsamptenare inspekteer elke internasionale skip of vliegtuig om te bepaal of enigiemand aan boord siek is. As ’n toeris op pad na Suid-Afrika aan boord siek word, sal die amptenare die hawe of lughawe in kennis stel. Die persoon sal met sy/haar aankoms ondersoek word. Die kontakbesonderhede van almal wat met dié toeris in aanraking was, word verkry om op te volg of hulle later enige simptome toon.

* Bykomende personeel is op die O.R. Tambo-lughawe ontplooi. Enige toeris wat van China af kom, moet ’n vraelys invul.

35 van SA bly in Wuhan

Mkhize sê hulle gaan nie die 35 Suid-Afrikaners in Wuhan, die stad waar die virus einde 2019 uitgebreek het, na Suid-Afrika terugbring nie.

Sarel van der Walt berig die Chinese ambassade in Pretoria het nog nie geantwoord op ’n navraag of hy met die Suid-Afrikaanse regering praat oor hulp aan Suid-Afrikaners wat in die Wuhan-omgewing vasgekeer is nie.

Dr. Brian Chirombo van die WGO in Suid-Afrika sê reis- en handelbeperkings na en van China is nie nou nodig nie.

Dr. Ann Mathews, hoof van Nios se reaksie-eenheid vir uitbrekings, gesels met dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, en dr. Brian Chirombo van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die WGO het op 22 Januarie beslis dat dit nog te vroeg is om dit tot ’n “epidemie van internasionale belang” te verklaar.

Prof. Cheryl Cohen van Nios het Woensdag gesê die WGO het gevra dat die instituut se laboratorium as verwysingslaboratorium dien vir alle monsters van die virus wat in Afrika gevind word.

Dit beteken Suid-Afrika sal eerste weet as die virus op die vasteland aangetref word.

“Dit is moontlik dat ’n mens eers simptome toon nadat hy of sy deur doeane is. Dit is waarom dokters kriteria gekry het van dit waarop hulle bedag moet wees.

Koors en hoes is die belangrikste, en dan of die persoon gereis het of in kontak was met iemand wat die virus het. Pasiënte word dadelik in isolasie geplaas. Monsters wat by die pasiënt geneem word, word aan Nios gestuur om spoedig ’n diagnose te bevestig. As ’n moontlike geval geïdentifiseer word, word alle mense wat met die pasiënt in kontak was ook gemonitor,” sê Cohen.

Die instituut se reaksie-eenheid vir uitbrekings is op gereedheidsgrondslag.

Mkhize en Motsoaledi het Woensdag saam met die media dié eenheid besoek.

* Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Woensdagoggend met die aanvang van die kabinet se jaarlikse lekgotla in Pretoria gesê die krisis rondom die nuwe koronavirus sal moontlik ook bespreek word.

“Dit kan dalk onder bespreking kom wanneer ons die gesondheidsektor se rol in die regering se mediumtermyndoelwitte bespreek,” het Mthembu gesê, berig Sarel van der Walt.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.