Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus in Wes-Kaap: Winde gooi wal, kenner waarsku

Daar is beslis ’n herlewing in nuwe koronavirusgevalle in die Wes-Kaap, maar die premier en die nasionale minister van gesondheid het nie eenstemmigheid oor die erns daarvan nie.

Terwyl dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vroeër vandeesweek gepraat het van ’n “styging van 42% die afgelope sewe dae” het Alan Winde, premier, Woensdag gesê “die gemiddelde styging oor die afgelope aaneenlopende sewe dae was 13%”.

Dit is duidelik dat die twee op verskillende maniere by hul persentasies uitkom. Die persentasies is belangrik omdat die nasionale riglyne dit as ’n “herlewing” beskou as die styging 20% of meer is.

covid-19, weskaap
a

Volgens Mkhize kan die beduidende toename in nuwe gevalle in die Wes-Kaap as ’n oplewing beskou word. Hy sê ook die tempo waarteen nuwe gevalle en sterftes toeneem, sal die aanbevelings beïnvloed wat sy departement aan die nasionale bevelsraad maak.

Mkhize gee toe dat die skerp styging in die Wes-Kaap verband hou met enkele “superverspreider”-byeenkomste in die suidelike voorstede van Kaapstad, en spesifiek met ’n geleentheid by ’n kroeg vroeg in Oktober.

Winde sê danksy die provinsie se noukeurige opsporing van koronavirusgevalle kon hulle brandpunte soos dié in die suidelike voorstede identifiseer en bestuur.

“Dit is belangrik om daarop te let dat baie van die aanvanklike gevalle wat aan die superverspreidingsgroep gekoppel is, nou herstel het en dat die tempo van nuwe infeksies in die gebied begin afneem.”

Maar hy erken die provinsie is “baie bekommerd oor die ontspanne gedrag” wat “tot hierdie toename in gevalle gelei het”.

Die nasionale data wys egter dat dit ook in ander provinsies die ervaring is, sê Winde.

Die verraderlike ding van aansteeklike siektes is dat mense nie gelei moet word deur wat nou gebeur nie, maar eerder deur wat oor ’n week of twee sal gebeur, en dit is berug daarvoor dat dit baie moeilik is.

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch se departement patologie in die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, waarsku by navraag dat “klein brandpunte” kan lei tot wydverspreide oordrag en ’n “tweede vlaag van infeksies”.

Die ervaring in ander lande bewys dit. Wat nou in Europa gebeur, wys dat suksesse van die verlede om die verspreiding te beperk of ’n uitbreking onder beheer te bring, geen waarborg is dat infeksies nie weer sal toeneem nie.

Oor die 20%-maatstaf van die nasionale departement van gesondheid, sê Preiser ’n mens moet in ag neem dat sulke maatstawwe “mensgemaak” is. Die owerheid moet sekere maatstawwe stel om sy reaksie te rig, maar ’n mens beweeg nie van “veilig” teen byvoorbeeld 9,9 na “gevaarlik” by 10,1 nie. Die beweging van “veilig” na “gevaarlik” is geleidelik.

Hy stem saam met Mkhize en Winde dat vroeë optrede belangrik is, hoofsaaklik deur die opsporing van gevalle waar die virus uitbreek, wat tans wel gedoen word.

Hy is “verstom” oor hoe doeltreffend die provinsiale span is met die opsporingswerk pleks daarvan om toe te laat dat gevalle geleidelik styg wat uiteindelik daartoe kan lei dat die gesondheidstelsel in een of ander stadium oorweldig word.

Die grootste struikelblok nou is egter “pandemie-uitputting”, naamlik dat mense moeg is vir die impak wat inperkings op hul lewe het.

“Die verraderlike ding van aansteeklike siektes is dat mense nie gelei moet word deur wat nou gebeur nie, maar eerder deur wat oor ’n week of twee sal gebeur, en dit is berug daarvoor dat dit baie moeilik is.”

Winde verwys ook hierna: “Uit ervaring in ander lande het ons gesien dat monitering en opsporing nie genoeg is om ’n oplewing te voorkom nie – ons moet almal daadwerklik werk om die verspreiding van hierdie virus te vertraag.”

Die Covid-19 gevalle in die Wes-KaapFoto: Verskaf

.

Meer oor:  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Covid-19  |  Alan Winde  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.