Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus: Rede tot kommer vir SA?
Die koronavirus het die wêreld op hol. Is daar rede tot kommer vir Suid-Afrika?

Die wêreld is op hol oor die uitbreking van die nuwe koronavirus in Wuhan, ’n stad in die Hubei-provinsie in China.

Dié 2019-nCoV-stam het al na minstens 16 lande versprei en 4 515 gevalle van die virus is volgens The Guardian reeds teen Dinsdag aangemeld.

Die eerste geval in Afrika is Maandagaand in die Ivoorkus bevestig.

Die Chinese staatsmedia berig 976 (net meer as 20% van gevalle) is pasiënte in ’n kritieke toestand en 106 mense is al dood. Daar is ook nog 6 973 moontlike gevalle in China wat tans deur toetse bevestig moet word.

Volgens The New York Times is die jongste slagoffer van die nuwe koronavirus ’n nege maande oue babadogtertjie in Beijing.

“Ons is bekommerd,” was die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid se reaksie Maandag, hoewel hy vroeër in ’n verklaring gesê het hy het maatreëls in plek sou die virus in Suid-Afrika sy kop uitsteek.

In China is almal wat die virus onder lede het in isolasie.

Wuhan se openbare vervoer het verlede Donderdag tot stilstand gekom. Tangshan, sowat 200 km van Beijing, het Dinsdag ook sy openbare vervoer gestaak.

Daar is verder ’n reisverbod in die Hubei-provinsie met ’n kwarantyn in die streek in ’n poging om die oordrag te beperk.

Volgens die BBC het talle owerhede siftingstoetse en noukeurige maatreëls op lughawens in Dubai en Abu Dhabi ingestel vir reisigers wat van China af kom.

Taiwan verbied mense wat van Wuhan af kom, terwyl Amerika, Frankryk en Rusland aan die ander kant besig is om planne te beraam om hul landsburgers te ontruim, ondanks die kwarantyn, berig The Sydney Morning Herald. Amerikaanse sentrums vir die voorkoming en beheer van siektes het ook sy reiswaarskuwing na die hoogste vlak opgeskuif, wat beteken die uitbreking is ’n “hoë risiko vir reisigers en daar is geen voorkomingsmaatreëls beskikbaar om hulle te beskerm nie”.

Intussen bou Wuhan nog verwoed aan ’n veldhospitaal wat binne tien dae moet staan en hopelik ’n verdere 1 000 pasiënte kan huisves.

Wat presies behels hierdie koronavirus egter en is daar rede tot paniek in Suid-Afrika?

koronavirus

Begin by die begin

Op 31 Desember verlede jaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bewus geword van ’n uitbreking van “longontsteking” in Wuhan, wat anders lyk as enige ander virusinfeksie wat aan medici bekend is.

In dieselfde week het Chinese dokters probeer om die lewe van ’n 61-jarige man in Wuhan te red, berig Bloomberg. Hierdie man het aan ’n erge longontsteking gely wat deur ’n onbekende virus veroorsaak is. Die medisyne kon nie sy longinfeksie beheer nie en sy bloed is deur ’n kunsmatige long gepomp – totdat hy in septiese skok gegaan het en sy lewensorgane ingegee het. Die man is op 9 Januarie dood.

Dít was nie ’n gewone sterfgeval nie. Wuhan se stadsraad het daardie dag aangeteken as die eerste amptelike sterfte weens die nuwe, dodelike koronavirus – ’n stam afkomstig uit die familie van koronavirusse wat gewoonlik gewone verkoues veroorsaak.

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika?

“Ons is bekommerd, daarom het ons al ons gesondheidsbeamptes aangesê om gereed te wees om seker te maak elke reisiger wat by ons twee internasionale lughawens (in Kaapstad en O.R. Tambo by Johannesburg) aankom ’n siftingsproses moet deurgaan. Meer aandag word geskenk aan die reisigers wat van Asië af kom,” het Popo Maja, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Maandag gesê.

Die departement het verlede Donderdag egter in ’n verklaring gesê daar is nie rede tot paniek nie.

“Daar is maatreëls ingestel om enige geval van die nuwe koronavirus te bespeur, te bestuur en in te perk . . . Suid-Afrika het kliniese riglyne ontwikkel en gevallestudies saamgestel en na dokters en verpleegpersoneel in die openbare en privaat sektore versprei. Dit sluit inligting in oor hoe om dit te diagnoseer en hoe om te reageer op ’n moontlike geval van 2019-nCoV. Provinsies het ook reaksiespanne vir uitbrekings op die been gebring wat waaksaam is.”

Volgens Maja werk die departement saam met verskeie rolspelers, wat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), die private gesondheidsektor en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) insluit.

“Ons gaan nié ’n reisverbod na China instel nie. Ons is tevrede met die maatreëls wat Chinese gesondheidsowerhede ingestel het om die virus in te perk,” het hy by navraag gesê.

Nios het Maandag weer bevestig dat hy gereed is vir enige uitbreking in Suid-Afrika. Teen Maandag was daar egter nog geen bevestigde gevalle van die virus in Suid-Afrika nie.

Prof. Cheryl Cohen van Nios het Maandag gesê hoewel die organisasie kennis neem van die nuwe bevestigde gevalle in ander lande, wil Nios “Suid-Afrikaners verseker dat die land gereed is om die moontlikheid van ’n geval van iemand wat uit die buiteland kom te hanteer”.

Die Chinese ambassade in Suid-Afrika sê in ’n verklaring hy het begrip vir ouers se kommer oor hul kinders in China en dat Suid-Afrikaners bekommerd is om na China te reis.

“Ons verstaan dit ten volle en hoop dat vriende van Suid-Afrika en ander lande vertroue sal hê in die Chinese regering en mense wat alles in die stryd werp om die gesondheid en veiligheid van elke buitelander in China te verseker – veral buitelandse studente.”

Medici help ’n pasiënt uit ’n ambulans in Wuhan.Foto: AP

’n ‘Nuwe’ virus

“Sommige gewone verkouevirusse is ook koronavirusse, maar die simptome is anders,” sê prof. Gert van Zyl, ’n viroloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die Laboratoriumdiens vir Nasionale Gesondheid (NHLS).

Volgens die WGO is koronavirusse ’n soönose, wat beteken dit word van diere na mense oorgedra.

Kamele het in mense die Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers) veroorsaak en die ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears) wat in 2003 uitgebreek het, is van sivetkatte na mense oorgedra. Volgens CNN is meer as 700 mense dood aan Ears en meer as 800 aan Mers.

Sommige koronavirusse in diere is nog nooit na mense oorgedra nie.

Met die “nuwe” virus (die 2019-nCoV-stam) is daar egter oordrag tussen mense bevestig, sê Van Zyl. Die “n” in die naam staan vir novel.

The Telegraph berig die bron van hierdie uitbreking is vermoedelik ’n wildmark in Wuhan wat onder meer seekos insluit. Die stad se gesondheidskommissie sê die infeksie het tussen 12 en 29 Desember uitgebreek en talle werknemers van die mark het dit opgedoen. Die spesifieke dier wat die virus oorgedra het, is nog nie geïdentifiseer nie, maar dit kan enigiets wees van vlermuise of slange tot marmotte of pluimvee wat by die mark, wat nou gesluit is, verkoop is.

Omdat die virus so nuut is, meen Van Zyl dit hou wél potensieel ’n risiko vir Suid-Afrika in, “maar ons weet nog nie hoe groot nie”.

Hy sê die 2019-nCoV se gedrag is nog baie onvoorspelbaar. Hoewel dit soortgelyk aan Ears is, word minder mense ernstig siek weens hierdie virus, sê Van Zyl.

Volgens die WGO sluit simptome asemhalingsprobleme, koors, uitputting en ’n droë hoes in en pasiënte kan kortasem raak.

Van Zyl sê diarree kan ook ’n simptoom wees.

In ernstige gevalle kan dit oorslaan na longontsteking, nierversaking en selfs die dood, volgens die WGO.

koronavirus

“Daar is egter net ’n klein persentasie mense wat aangesteek is wat ernstige komplikasies het,” sê Van Zyl.

Van Zyl benadruk dat hy mense nie paniekerig wil maak nie, maar hy glo dis belangrik dat mense ingelig is.

grafika

Onbekende terrein

Wat gesondheidsowerhede onkant betrap het, is dat die meeste mense nie ernstig siek gevoel het nie.

In ’n ondersoek wat op 24 Januarie in die vaktydskrif Lancet gepubliseer is, sê navorsers dat sommige geïnfekteerde persone die virus moontlik kan uitskei sonder dat hulle siek voel.

Die feit dat die meeste mense nie ernstig siek word nie, is volgens prof. Van Zyl goed, maar ook problematies omdat dit daartoe kan bydra dat mense moontlik die virus kan oordra voor hulle as siek geïdentifiseer word.

“Indien dit wel waar is dat mense die virus kan oordra voordat hulle siek word, sou dit vereis dat alle mense (wat kontak met geïnfekteerde persone gehad het) vir die volle inkubasietydperk, wat so lank as twee weke kan wees, in kwarantyn geplaas word. Eers daarna sal daar sekerheid wees dat dié mense vry van die virus is. In die geval van Ears was die siekte in die inkubasietydperk nie aansteeklik nie en dit was slegs nodig om mense met die siektesimptome te isoleer. Kwarantyn is baie moeiliker om te implementeer as isolasie,” sê Van Zyl.

‘Nog nie ’n wêreldwye krisis nie’

koronavirus

Hoewel die meeste geïnfekteerde mense in China is, is daar al gevalle in Amerika, Frankryk, Australië, Hongkong, Thailand, Maleisië, Suid-Korea, Taiwan, Japan, Macau en die Filippyne aangemeld. Die Ivoorkus in Afrika het Maandagaand ook sy eerste geval aangemeld en Duitsland en Sri Lanka Dinsdag.

Die virus het vinnig versprei. Met die uitbreking in middel Desember is twee mense vinnig dood en 40 gevalle is aangemeld, berig The Telegraph. Etlike weke later staan die getal bevestigde gevalle al op meer as 4 500, met duisende wat wag op die uitslae van toetse.

Sommige kenners het die WGO gekritiseer omdat hy nog nie ’n internasionale gesondheidskrisis verklaar het nie. Die WGO het op 23 Januarie gesê dis “nog te vroeg” om sulke drastiese uitlatings te maak.

Bewese menseoordrag is egter nog beperk tot China, het Van Zyl Maandag gesê.

“Die WGO het die koronavirus nog nie as ’n ‘epidemie van internasionale belang’ geklassifiseer nie omdat daar nog nie mens-tot-mens-oordrag buite China bewys kan word nie,” sê Van Zyl.

“In hierdie stadium was daar nog nie ’n plaaslike uitbreking nie, behalwe in China. Dit sal eers ’n internasionale risiko word sodra daar bewys word dat die virus tussen mense in ander lande versprei word. Dan eers sal dit (ook) ’n groter risiko word vir Suid-Afrika.”

Teen Dinsdag het Reuters egter berig ’n tweede geval in Duitsland is bevestig, nadat dié man glo met sy kollega, wat na China gereis het, in kontak gekom het. Die mens-tot-mens-oordag is egter nog nie deur die WGO bevestig nie.

Reuters het ook Dinsdag die Chinese staatsmedia aangehaal wat sê Tedros Adhanom Ghebreyesus, WGO-hoof, het ná ’n vergadering in Beijing gesê hy dink nog nie buitelanders moet weggeneem word nie.

Konstruksie is onderweg vir ’n veldhospitaal in Wuhan om nog pasiënte wat 2019-nCoV onder lede het te behandel. Hulle hoop om dit teen 5 Februarie klaar te hê. Foto: Getty Images

Hoe word dit behandel?

Volgens dr. Maria van Kerkhove, van die WGO-eenheid van soönoses en nuwe siektes wat te voorskyn kom, is daar nog geen spesifieke behandeling vir koronavirusse nie, “maar die simptome kan behandel word”.

CNN het op 21 Januarie berig die Nasionale Instituut van Gesondheid (NIH) van die VSA is besig om ’n entstof te ontwikkel.

Dr. Anthony Fauci, direkteur van die Nasionale Instituut vir Allergieë en Aansteeklike Siektes, sê dit sal nog ’n paar maande neem voordat die eerste fase van kliniese toetse begin. ’n Entstof sal volgens Fauci dalk eers oor ’n jaar beskikbaar wees.

Van Zyl sê wetenskaplike vordering sal ’n groot rol speel om die uitbreking te bekamp.

“Anders as met die Ears-uitbreking, is daar vandag nuwe tegnologie wat dit moontlik maak om vinniger veilige entstowwe te vervaardig,” sê Van Zyl, en haal Fauci in sy kommentaar aan.

“Die gebruik hiervan, tesame met die isolering van mense met die simptome of kwarantyn, indien wel nodig, kan help om die verspreiding te beperk.”

Skoolkinders by ’n hoërskool in Kambodja dra maskers om hulle teen die virus te beskerm. Foto: AP
Reisigers op ’n treinstasie se koors word gemeet sodra hulle van die treine afklim. Foto: Reuters
Chinese medici ondersoek reisigers op ’n treinstasie in Beijing, China. Foto: Getty Images
’n Pasiënt in die Zhongnan-hospitaal in Wuhan word vir die koronavirus behandel. , Foto: AP

Hoe word dit voorkom?

Van Kerkhove wys daarop dat die virus versprei word deur lugweginfeksies, “so ons beveel basiese handhigiëne aan, soos om jou hande met seep en water te was, asook respiratoriese higiëne, soos wanneer jy nies om in jou arm nies”.

Volgens haar moet mense ook onnodige, onbeskermde kontak met lewende diere vermy, hande was ná kontak met ’n dier en seker maak vleis is heeltemal gaar voordat dit geëet word.

Bemanning van ’n Thaise lugdiens ontsmet die passasierskajuit in ’n vliegtuig wat pas op Bangkok se internasionale lughawe geland het. Foto: Reuters

Suid-Afrikaners gestrand in China

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het die naweek aan Netwerk24 gesê sy departement se hande is afgekap wat Suid-Afrikaners betref wat tans in China gestrand is. Volgens hom is daar net ’n handjievol Suid-Afrikaners in Wuhan.

“Die stad is basies in kwarantyn geplaas om die verspreiding van die siekte te keer. Die Chinese owerhede voel mense daar is óf besmet óf loop die gevaar om besmet te word. Ons, die Amerikaners, of wie ook al, sal nie hul burgers daar kan uitkry nie.”

Dirco beplan ook nie om Suid-Afrikaners van ander plekke uit China terug te bring nie.

“Ons kan nie net ’n vliegtuig stuur nie. Wat as die virus dan na Suid-Afrika versprei? Dan gaan mense Dirco verkwalik,” sê Monyela.

Hy het Suid-Afrikaners in China aangeraai om die plaaslike owerhede se reëls te volg. Die departement se konsulaat in Beijing is egter bereid om hulp aan Suid-Afrikaners in nood te bied, sê hy.

Die bouwerf waar ’n veldhospitaal in Wuhan binne tien dae opgerig moet word om nog 1 000 pasiënte te huisves. Foto: AP

Is China eerlik met die wêreld?

The Telegraph berig daar is kommer by kenners dat China nie die volle waarheid oor die erns en invloed van die koronavirus vertel nie.

Sophie Richardson, Chinese direkteur by die Human Rights Watch, sê die onverwagse kwarantyn “laat kommer toeneem oor deursigtigheid”.

Richardson sê sy is bekommerd daaroor dat mense wat kastig “gerugte versprei” glo deur die Chinese owerhede geteister is, verál gedurende ’n tyd waarin mense bekommerd is dat hulle nie regte inligting kry nie.

Talle gesondheidskenners se navorsing is glo gestaak omdat hulle volgens Richardson nie binne die Chinese staatsliggaam werk nie.

Zhou Xianwang, burgemeester van Wuhan, het erken die inligting oor die uitbreking is nie vinnig genoeg uitgereik nie. Hy het aan die Chinese staatsbeheerde uitsaaier CCTV gesê die plaaslike regering “was verplig” om eers toestemming te kry voordat hulle inligting oor die virus kon bekend maak.

Daar is ook ’n video wat op sosiale media en WhatsApp versprei word waarin bespiegel word dat die Chinese laboratorium wat glo gevaarlike patogene bestudeer en in Wuhan geleë is, doelbewus of per ongeluk vir die uitbreking verantwoordelik was.

Van Zyl veroordeel die video.

“Die bekendmakings doen skade aan hul eie ekonomie. Ek kan nie dink dat hulle inligting probeer verdoesel nie. Onthou ook die getalle wat positief getoets is, sal altyd die minimum wees, want intussen is daar gevalle wat wag om getoets te word waarvan die uitslae nog nie bekend is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier