Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kospryse: Baie ly nou honger

Gesinne met ’n inkomste van minder as R4 000 per maand is reeds besig om te verhonger weens ’n skerp styging in die prys van veral varsprodukte tydens die Covid-inperking, het navorsers in Pietermaritzburg bevind.

Mense staan tou vir kospakkies in die Olievenhoutbos-township. Foto: AP/Jerome Delay

Gedurende die pandemie het vroue wat die kosinkopies doen ook minder geleentheid om van winkel na winkel te gaan om spesiale aanbiedinge op te spoor.

Hulle moet dus koop wat hulle kan kry, ongeag die prys.

Terwyl dié arm gesinne voorheen gewoonlik selfs in die laaste week van die maand nog kos in die huis gehad het, is hul kosvoorraad nou reeds in die tweede week van die maand uitgeput.

En verdere stygings in kospryse lê voor, word nou gevrees.

Die navorsing wat dié sorgwekkende bevindings toon, is gedoen deur die Pietermaritzburgse nieregeringsorganisasie Economic Justice and Dignity Group (PEJDG), wat sedert 2018 voedselinflasie in die provinsie per kosmandjie meet.

‘Gesinne met ’n inkomste van minder as R4 000 per maand verhonger.’

Die prys van die 38 produkte in die kosmandjie het in Maart en April met R249 gestyg tot R3 470 per maand – ’n raps minder as die maandelikse minimumloon van R3 736.

Kospryse styg met 7,8%

Kospryse op plekke waar arm gesinne koop, het volgens die PEJDG die afgelope twee maande met gemiddeld 7,8% gestyg. Die pryse van varsprodukte soos groente en vrugte in die mandjie het egter heelwat meer gestyg met tot 22% vir items soos wortels en kopkool. Die prys van rys het met 26% gestyg. Daarby het die feit dat gesinne meer tyd tuis deurbring weens die inperking daartoe gelei dat vroue wie se kos-aankope gemeet word, meer kos per maand koop.

“Dit het daarop uitgeloop dat die kosvoorraad reeds in die tweede week van die maand uitgeput is. Vroeër het hul kos eers in die vierde week van die maand opgeraak,” sê Mervyn Abrahams, direkteur van die PEJDG, wat drie keer per jaar ses fokusgroepe hou om seker te maak dat die kosmandjie steeds die regte produkte bevat en die pryse op die regte afsetpunte en winkels geneem word.

Elke groep bestaan uit tussen 20 en 30 vroue uit lae-inkomste-gesinne.

“Die jongste fokusgroepe wys dat vroue meer kos moet koop omdat kinders en ander gesinslede weens die inperking meer tyd tuis deurbring. Die bykomende kos het nog R618 by die prys van die kosmandjie gevoeg.

“Vroeër het die kosmandjie hulle drie weke lank gehou sodat die laaste week van die maand gewoonlik ’n moeilike een was, maar nou hou die kosmandjie net twee weke.

“Dit beteken dat gesinne met ’n inkomste van minder as R4 000 per maand verhonger,” sê Abrahams.

Die vroue het gewoonlik aansienlik meer tyd om kos te koop, maar het weens die inperking en die reëls oor sosiale afstand minder tyd in winkels.

“Vroeër was daar ’n kans om selfs van winkel tot winkel te loop en vir spesiale aanbiedings te soek, maar nou moet hulle koop teen normale rakpryse. Hulle het dus prysnemers geword.

“Omdat dit ’n gesondheidskrisis is, bestee hulle ook meer tyd aan skoonmaakmiddels soos Jik. Dit bring mee dat sommige produkte uit die kosmandjie val,” sê hy.

“Dis gewoonlik varsprodukte soos groente en vrugte omdat die pryse daarvan die meeste gestyg het.

“En dit het uiteraard implikasies vir mense se weerstand teen virusse,” sê Abrahams.

Die pryse van varsprodukte styg skerper omdat plaaslike produsente soos kleinboere weens die inperking nie meer hul produkte aan afsetpunte soos informele handelaars kan lewer nie.

Skielik R100 duurder

Die pryse in die mandjie het in die eerste drie weke van Maart skielik met sowat R100 gestyg. Dit was toe massa-paniekaankope gedoen is nadat die eerste Covid-19 gevalle in Suid-Afrika gediagnoseer is, maar op 22 Maart het die departement van handel en nywerheid ’n lys produkte gepubliseer waarvan die verkope per klant beperk is.

“Dit het pryse vir ’n ruk lank taamlik laat stabiliseer, maar prysstygings het in April weer skerp toegeneem. Daarom is ons nou ’n sterk voorstander daarvan dat die regering die pryse van sekere produkte soos brood en varsprodukte moet reguleer,” sê Abrahams. Hy het Donderdag sommige van sy bevindings in ’n webinaar van nieregeringsorganisasies voorgelê.

Daar het Reinette Heunis, ’n direkteur van ’n ander nieregeringsorganisasie, Mawubuye, wat varsprodukte by kleinboere koop en dit in kospakkies in vier munisipaliteite in die Wes-Kaap uitdeel, verduidelik dat kleinboere hul markte heeltemal verloor het. “Dis vir hulle bitter moeilik om by hul lewende hawe en akkers uit te kom. Daarom het ons nou ook begin om drie verskillende saadsoorte by ons kospakkies in te sluit.

“Oor twee of drie maande gaan kospryse in winkels heeltemal te hoog wees vir lae inkomstegroepe,” sê Heunis.

Die olifant in die vertrek

Dr. Stephen Greenberg, direkteur van die Afrika-Sentrum vir Biodiversiteit in Johannesburg het op die webinaar gesê die “olifant in die vertrek” is die markgegronde kosstelsels, wat daarop uitloop dat mense net kos kan kry as hul geld het om kos te koop.

“In hierdie krisistyd moet nieregeringsorganisasies wat kos verskaf, rondval vir bronne om kos in die kleinhandel te koop. Dis ’n stelsel wat ons voor die krisis reeds erg gepla het, maar die omvang daarvan is nou deur die Covid-19-pandemie aan die groot klok gehang.

“Ons kosstelsel het honderdduisende produsente aan die een kant wat swak georganiseerd is en miljoene verbruikers aan die ander kant. Maar tussenin is ’n klein groep magtige produsente en kleinhandelaars.

“Die prysstygings waarvan Mervyn praat, is niks anders nie as winsbejag. Hulle het die mag om dit te doen,” het Greenberg gesê.

Hy is egter nie ten gunste van strenger regulering van die groot maatskappye nie. “Die oplossing is in korter verskaffingskettings; in regstreekse bande tussen produsente en verbruikers wat plaaslike rolspelers aktief betrek,” sê hy.

Dit het reeds ’n aanvang geneem in Gauteng en die Wes-Kaap, waar klein gemeenskappe begin het om netwerke op die been te bring vir kleinskaalse kosproduksie en verspreiding.

In Kaapstad het ’n gemeenskap-netwerkstelsel ontstaan wat reeds na ander provinsies begin versprei het.

In Gauteng is die C19-koalisie, ’n sambreel-liggaam vir sowat 350 nieregeringsorganisasies, besig om klein voedselprodusente, klein ondernemings wat verspreiding doen en georganiseerde gemeenskappe te identifiseer om alternatiewe stelsels te skep, sê Greenberg.

Meer oor:  Kospryse  |  Hongersnood  |  Armoede  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.