Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Kroeg’-uitbreking: 96 nou al positief getoets

Die koronavirusgevalle wat met ’n uitbreking in Kaapstad se suidelike voorstede verbind word, het teen Vrydag tot 96 gestyg.

Die Wes-Kaapse regering het vroeër vandeesweek bekend gemaak dat ’n groep besmettings verbind word met ’n geleentheid by ’n nagklub/kroeg in Claremont waar jong mense en leerlinge die virus opgedoen het.

Presies hoeveel van dié gevalle leerlinge is, kon nie Vrydag bevestig word nie.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag in ’n mediavergadering gesê daar was die afgelope twee weke ’n toename in koronavirusgevalle, veral in die suidelike voorstede en ander dele van Kaapstad.

Die koers van hospitalisasies en sterftes het egter in dié tyd bestendig gebly.

Cloete sê in dié verklaring 64 leerlinge en een onderwyser van agt hoërskole in die suidelike voorstede is positief getoets. Hiervan was 44 in gr. 12.

Die groep besmettings wat met die kroeg verbind word, het Donderdag op 89 gestaan, van wie 49 op skool en 38 matrieks is.

Volgens Cloete kan die impak van dié uitbreking gesien word in die aantal gevalle in die suidelike subdistrik van Kaapstad en ’n toename in die persentasie gevalle onder mense tussen 15 en 25 jaar oud.

Dr. Melvin Moodley, direkteur van strategie in die departement van gesondheid, sê algemene praktisyns in die omgewing het opgemerk dat meer jong mense begin positief toets en wou uitvind of dit met mekaar verband hou.

Die departement se gevallebestuurder vir die subdistrik het terselfdertyd agtergekom dat daar moontlik ’n “superverspreider-voorval” was.

Uitbrekings het onlangs ook in Beaufort-Wes, Oudtshoorn en Matzikama voorgekom.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het bevestig dat die provinsiale regering die voorval in die suidelike voorstede ondersoek, maar daarop gewys dat dit nie noodwendig met net een plek verbind word nie.

Vroeër is berig dat die klub Tin Roof in Claremont van 1 tot 3 Oktober ’n geleentheid aangebied het. Die eienaars betwyfel dit egter dat die virus daar versprei het, omdat van die besoekers aan die klub in dié tyd ook private partytjies bygewoon het.

Die nagklub is sedert die verslapping van die inperkingsmaatreëls in ’n kroeg omskep, met potspeltafels wat op die dansvloer staan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.