Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kubaanse artse doen goeie werk in VS, hoor komitee

Die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid het Woensdag gehoor die Vrystaatse gesondheidsdepartement is baie tevrede met die diens wat 17 Kubaanse dokters in dié provinsie se stryd teen Covid-19 lewer.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, komiteevoorsitter, sê in ’n verklaring by monde van sy woordvoerder, Sakhile Mokoena, dit is deel van die komitee se oorsigrol om te verseker dat die provinsies gehaltegesondheidsorg lewer. Daarom is al die provinsiale gesondheidsdepartemente uitgenooi om inligting hieroor aan die komitee te verskaf en die Vrystaat was die laaste provinsie om voor hom te verskyn.

Luidens die verklaring verwelkom die komitee die verslag van die gesondheidsdepartement oor die waarde wat hy uit die ontplooiing van 17 Kubaanse dokters in die geveg teen Covid-19 in die Vrystaat kry. Dié dokters is deel van ’n span van Kuba wat in Suid-Afrika help om die pandemie te beveg.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het Dinsdag in haar provinsiale rede die 17 Kubaanse dokters en al die gesondheidswerkers in die provinsie bedank. Sy het gesê hulle is helde wat hul lewe op die spel plaas om ander in die geveg teen Covid-19 by te staan.

Die komitee het ook die Vrystaat se planne verwelkom om al sy gesondheidsorgwerkers as eerstelinie-werkers in te ent.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement. Foto: Argiewe

Die komitee het wel gevra dat die gesondheidsdepartement moet verseker dat alle gesondheidswerkers weet dat hul inenting deel is van ’n studie om die Johnson&Johnson-entstof se effektiwiteit te toets.

Intussen sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, die inentings word van vandeesweek af op vyf plekke vir gesondheidswerkers in die Vrystaat gedoen. Dit is in die Bongani-hospitaal in Welkom, die Fezi Ngubentombi-hospitaal in Sasolburg en die Life Rosepark-, Pelonomi- en Universitas-hospitaal in Bloemfontein.

Hy moedig gesondheidswerkers aan om hulle hiervoor by vaccine.enroll.health.gov.za te registreer en sê dit gaan in die algemeen baie goed met die inentingsprogram.

“Die gesondheidsdepartement het Dinsdag 116 mediese werkers in die Bongani-hospitaal ingeënt en die gesondheidswerkers is baie geesdriftig hieroor.”

Mvambi sê gesondheidswerkers moet onthou om die volgende saam te bring wanneer hulle ingeënt word: Jou elektroniese bewysnommer wat na ’n selfoon gestuur word ná registrasie op die Sisonke-webwerf, jou Suid-Afrikaanse identiteitsdokument of paspoort, en ’n personeelkaart van jou werkgewer of bewys van indiensneming as ’n gesondheidswerker.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier Foto: Argiewe

Hy sê daar word nou in al die distrikte in die Vrystaat voorbereidings getref om meer plekke vir die inentings beskikbaar te stel.

“Daar is ’n groot afname in die voorkoms van die virussiekte in die provinsie, maar ons wil ’n beroep doen op inwoners om nooit hul beveiligingsmaatreëls te laat vaar nie. Die virus bly dodelik.”

Mvambi sê wat die jongste Vrystaatse statistieke betref, is daar 48 nuwe gevalle: 18 in die Mangaung-metro, sewe in Fezile Dabi, 12 in Thabo Mofutsanyana, tien in Lejweleputswa en een in Xhariep.

Die totale bevestigde koronavirusgevalle in die Vrystaat is tans 80 113 met 70 644 mense wat herstel het (’n herstelkoers van 88%), terwyl 3 265 mense in die provinsie aan Covid-19 dood is.

Hy sê uit die statistieke blyk dit dat 5 348 gesondheidswerkers tot dusver in die Vrystaat en 2 975 in die Noord-Kaap ingeënt is. Landwyd is 72 160 reeds ingeënt.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Sibongiseni Dhlomo  |  Kuba  |  Dokters  |  Werk  |  Komitee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.