Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Kubaanse dokters het niks tydens pandemie bygedra’

Dit was onnodig om Kubaanse dokters in Gauteng te ontplooi, het dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, Donderdag by navraag gesê. Die Kubane het in hul tyd hier geen waarde tot die land se gesondheidsektor bygedra nie.

“Die ontplooiing van die Kubane was onnodig, want daar was plaaslike vaardighede tot ons beskikking. Ons het mense hier wat self die werk kan doen,” het sy gesê.

Altesaam 217 Kubaanse dokters is in Mei 2020 na Suid-Afrika gestuur om die land by te staan gedurende die Covid-19-pandemie. Hulle is in kleiner groepe verdeel en oor die land heen ontplooi om provinsies by te staan met verskeie mediese dienste. Van hulle is 28 dokters in Gauteng ontplooi.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement van gesondheid in Gauteng, het in ’n onlangse verklaring gesê die Kubaanse dokters het die Gautengse provinsiale regering net meer as R32 miljoen gekos.

“Die totale koste wat in hul tydperk van ontplooiing aangegaan is, was R32 500 210. Dit sluit in besoldiging, verblyf en vervoer. Die span van 28 was van 15 Mei 2020 tot 30 Mei 2021 gekontrakteer.”

Volgens Kekana het die geld vir die Kubaanse dokters uit Covid-19-komponente van die MIV/vigs-toelaes gekom.

’n Mediese kenner het Dinsdag aan Werner Beukes gesê hy het klagtes ontvang oor Kubaanse dokters wat nie in Engels kon kommunikeer tydens hul werk in Suid-Afrika nie.

“Dit is ’n skande dat dokters wat nie eens Engels magtig is nie, teen ’n astronomiese bedrag ingevoer word. Ek het baie klagtes gekry van mense se probleme om behoorlik met hulle te kommunikeer,” het dié kenner, wat anoniem wil bly, gesê.

Die totale koste wat in hul tydperk van ontplooiing aangegaan is, was R32 500 210. Dit sluit in besoldiging, verblyf en vervoer. Die span van 28 was van 15 Mei 2020 tot 30 Mei 2021 gekontrakteer.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het Donderdag in ’n verklaring sterk uitgevaar teen die Gautengse gesondheidsdepartement se “roekelose” besteding aan die Kubaanse dokters.

“Die feit dat die begroting van MIV/vigs-toelae kom, is onregmatig. Dit lyk asof Gauteng gedwing is om in te pas by die nasionale regering se besluit. Daar was geen noodsaak vir hulle nie,” sê Bloom in die verklaring.

Hy sê dr. Nomathemba Mokgethi, Gautengse LUR vir gesondheid, het in ’n geskrewe antwoord aan hom gesê dat die Kubaanse dokters se salarisse neergekom het op tussen R858 000 en R1,58 miljoen elk vir die tydperk dat hulle hier was.

By verdere navraag het Bloom aan Netwerk24 gesê daar is plaaslike dokters om die werk gedoen te kry. “Ek twyfel of hierdie dokters enigsins iets gedoen het wat ons dokters nie kon doen nie. Dit sou goedkoper gewees het. Dit is net nog ’n voorbeeld van die ANC se obsessie met die Kubane,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.