Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: 2 000 hawelose mense in tente in stadion in Pta

Hawelose mense wat in Pretoria in hul massas saamgebondel is, is vies vir pres. Cyril Ramaphosa oor die haglike omstandighede waaronder hulle veronderstel is om aan die gevreesde Covid-19-virus te ontkom.

“Maar hier is niks wat die president vir ons op die TV belowe het nie. Ek kan nie behoorlik eet, slaap, wat nog te sê van bad, nie,” het J.J. met ’n bekommerde trek op sy gesig aan Netwerk24 gesê.

Hy woon in ’n weermagtent in die Caledonian-stadion in die middestad van Pretoria.

J.J. en twee van sy vriende, Johan (27) en Hansie Koekemoer (43) is vreesbevange oor die omstandighede in hul tydelike skuiling.

“Dit is ’n algehele chaos. Hulle gaan ons doodmaak.”

Die drie mans is onder die nagenoeg 2 000 ander hawelose mense wat in die stadion gehuisves word nadat die nasionale staat van inperking verlede week in werking getree het.

Van Pretoria se hawelose mense handhaaf ’n gesonde afstand, terwyl hulle in ’n ry voor die Caledonian-stadion wag om ’n Cosup-verteenwoordiger te spreek. Foto: Isabel Venter

Volgens JJ het die polisie hom Vrydag summier opgelaai en na die stadion geneem. Meer as een hawelose persoon het ’n soortgelyke weergawe aan Netwerk24 vertel.

Hy reken die virus sal soos blits deur die kamp versprei, indien dit nie al reeds het nie.

“En dan gaan jy sien, almal gaan mekaar hier begin doodmaak,” het JJ gesê.

Freddie Baardman (50) het gesê hy het nie ’n keuse gehad toe die polisie hom na die stadion geneem het nie.

“Ek sal eerder my kanse op straat waag. Hierdie ding gaan nie werk nie,” het hy gesê.

Met Netwerk24 se aankoms Maandagmiddag in die stadion het daar reeds ’n bakleiery onder van die inwoners uitgebreek. Dit was vermoedelik oor die kosrantsoene.

’n Ambulans is laat kom om ’n bloeiende man na ’n hospitaal te neem.

’n Metropolisieman en ’n hawelose man staan Maandagmiddag ’n beseerde in die Caledonian-stadion in Pretoria se middestad by. Foto: Isabel Venter

Volgens J.J. word ook geen seep of ontsmettingsmiddels aan hulle verskaf nie.

Cosup (Community Oriented Substance Use Programme), wat aan die Universiteit van Pretoria verbonde is, het egter buite die stadion tydelike wasbakke aangebring.

Sasha Lalla, ’n Cosup-verteenwoordiger, het bevestig dat altesaam 2 180 mense in die stadion gehuisves word.

Sommige slaap in weermagtente, terwyl ander ’n plekkie op die gras uitgegrawe het en onder die sterrehemel slaap.

“Ek is te bang om in die tent te slaap, omdat dit so vuil is en ek dalk siek kan word,” het Koekemoer gesê.

Dit is glo van die enigste skoonmaakmiddels wat in die Caledonian-stadion in Pretoria se middestad beskikbaar is, volgens die hawelose mense wat daar gehuisves word. Foto: Isabel Venter

Omogolo Taunyane-Mnguni, woordvoerder van die Tshwane-stadsraad, het Maandag bevestig dat dié mense spoedig verskuif gaan word.

Mpho Nawa, die administrateur van die stadsraad, het ook Maandag die stadion besoek. Hy het met die verskeie nie-winsgewende organisasies, wat bystand lewer met die versorging van die hawelose mense, vergader.

“Ons moet dié probleem vinnig oplos, die mense kan nie só bly nie,” het Nawa gesê terwyl hy deur die stadion stap.

Nagenoeg vyf ander diensorganisasies het saam met Tshwane se maatskaplike werkspan gehelp om kos, klere en sanitasie-produkte aan die hawelose mense uit te deel.

Cosup help ook onder meer om mediese bystand te lewer en om die simptome van die hawelose mense wat aan dwelms verslaaf is deur middel van metadoon in bedwang te bring.

Van die weermagtente wat op die Caledonian-stadion se grasperke opgeslaan is om tydelike verblyf aan hawelose mense in Pretoria te gee. Foto: Isabel Venter

Intussen is dit nog nie seker wanneer die mense na minder digbewoonde persele verskuif sal word nie.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, word skoolkoshuise nog nie vir dié doel ingespan nie.

Dit kom nadat Panyaza Lesufi, wat waarneem as Gauteng se LUR vir maatskaplike ontwikkeling, verlede Woensdag op ’n nuuskonferensie aangedui het dat staatskole se koshuise tydens die inperking gebruik sal word om hawelose mense in die provinsie te huisves.

“Die fasiliteite is beskikbaar omdat skole nou gesluit is,” het hy gesê.

Volgens Mabona maak die provinsiale regering tans nog van “skuilings in die provinsie” gebruik.

Hordes hawelose mense van Pretoria staan Maandagmiddag in ’n ry om kos te kry. Hulle word tydelik in die Caledonian-stadion in die middestad gehuisves. Foto: Isabel Venter

Thabiso Hlongwane, woordvoerder van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, het Maandag opnuut bevestig dat hulp en versorging op talle plekke in die provinsie aan hawelose mense verskaf word.

Hulle word onder meer in nagskuilings, gemeenskapsale, kerke en deur lede van die publiek gehuisves.

“Dit is ’n gesamentlike poging om hawelose mense te help. Die regering voorsien skuiling, kos en komberse maar is ook afhanklik van skenkings,” het hy gesê.

’n Hawelose man sit Maandagmiddag buite ’n weermagtent met sy besittings op die grasperk in die Caledonian-stadion in Pretoria. Meer as 2 000 hawelose mense word sedert Vrydag hier gehuisves. Foto: Isabel Venter

Volgens hom help die handreinigers, maskers en handskoene wat geskenk is dat die hawelose mense hulself teen die virussiekte kan beskerm.

“Op die oomblik staan Gautengers saam om hierdie mense te help. Skenkings word onder meer deur kerke, ondernemings en die algemene publiek gemaak.”

Danksy lede van die gemeenskap het verskeie hawelose mense ook tente ontvang waarin hulle kan slaap. “Die hawelose mense is aangeraai om dit in openbare parke op te slaan en daar te bly.”

Hlongwane het gesê die Gautengse premier, David Makhura, sal vandeesweek op ’n mediakonferensie verdere inligting en statistieke oor die hawelose mense bekend maak.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Pretoria  |  Hawelose Mense  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.