Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: Bellville-dokter wys hoe dit in Covid-19-saal lyk

Die eintlike helde van die pandemie is die susters wat elke dag opdaag om 12 uur lank op ’n slag en ten volle geklee in beskermende drag na Covid-19-pasiënte om te sien.

Dit is die mening van dr. Pieter Roelofse, internis en hoof van die Covid-19-eenheid in die Melomed Bellville-hospitaal. Hy het onlangs die sluier gelig en met ’n video gewys presies hoe dinge werk in ’n eenheid waar Covid-19-pasiënte behandel word.

Volgens hom is daar ’n drastiese toename in die opname van pasiënte – veel meer as wat ’n maand of twee gelede die geval was.

In die video kan gesien word hoe ’n “gewone” dag verloop, hoe sy roetine werk en bowenal, hoe hy van kop tot tone in beskermende drag sy werk moet doen – wat hom nie eens toelaat om te eet of ’n draai te loop nie.

Roelofse wys hoe die proses werk om die beskermende drag aan te trek. Hy begin met sy gewone hospitaaldrag en ’n masker. Dan trek hy ’n blou oorpak aan en ontsmet sy hande. Hy sit ’n haarnet op, ’n tweede oorjas wat om sy lyf vasmaak, en ’n tweede haarnet oor sy oorjas se kappie.

Bo oor dit alles sit hy ’n deursigtige skerm oor sy gesig, en trek handskoene en wit stewels aan.

“Jy gaan deur ’n kontrolelys om seker te maak dat jy alles aan het. Jy dra dit ure aaneen en dit is warm, soos jy kan dink. Dit eis nie net ’n fisieke tol nie, maar ook emosioneel. As jy hierdie pak aan het, kan jy nie eet of badkamer toe gaan nie. Dit is dit.”

Dr. Pieter Roelofse, met die rooi gesigskerm, terwyl die video opgeneem word. Foto: Facebook/Dr Pieter GR Roelofse Inc.

Roelofse sê mense moet onthou die susters en die hospitaalpersoneel is die eintlike helde in die verhaal.

“Elke dag kom hulle werk toe en help ons. Die susters in die waakeenhede vir Covid-19-pasiënte kan ’n hele dag lank nie uitgaan by die saal as hulle eers in is nie. Iemand moet dus daar buite in die gang regstaan vir ingeval iemand binne iets nodig het.”

Roelofse sê die gesondheidswerkers in die hospitaal verdien alle respek omdat hulle 12 ure lank Covid-19-pasiënte versorg. “Ek belowe julle, dit is baie swaar. Hulle verdien soveel krediet as moontlik.”

Daarna wys Roelofse in die video hoe ’n pasiënt geïntubeer word sodat ’n ventilator haar kan help met haar asemhaling.

“Nie baie mense met die virus moet opgeneem word nie. Dié wat opgeneem word, het meestal net suurstof nodig omdat hulle kortasem is.

“Dit is ’n klein persentasie mense wat uiteindelik intubasie kry, soos die vrou wat ek vroeër gewys het. Die afgelope maand het ons nie eintlik baie mense op ventilators gesit nie, maar vir dié vrou was daar geen ander keuse nie.”

Dr. Pieter Roelofse sonder al die beskermende drag. Foto: Facebook/Dr Pieter GR Roelofse Inc.

Roelofse se praktyk het oor afgelope maande ’n veldtog begin waar mense selfone kon skenk waarmee die hospitaal die pasiënte se families kan bel omdat hulle nie mag kom kuier nie.

Alle telefone, kaste, ensovoorts is uit die Covid-19-sale verwyder om kruisbesmetting te voorkom. Daarom was die selfoon-skenkings nodig. Vir Roelofse was dit belangrik om te help dat ’n vrou haar man kon sien en groet voordat sy aan ’n ventilator gekoppel word.

Die hospitaal het tweedehandse selfone ontvang en een in elke saal gesit, en die selfoon verlaat nooit daardie saal nie.

In die video bel Roelofse ’n ander pasiënt se familie en stel hulle gerus dat hy die beste sorg moontlik kry. Die pasiënt se toestand het oornag baie verswak en Roelofse sê dit is moeilik om nie moed te verloor nie.

“Gister het ek daaraan gedink om hom van die ventilator af te haal, en nou is dit nie eens ’n opsie nie. Dit eis ’n geweldige tol op almal hier, veral dié wat heeltyd vir hom sorg.

“Jy kan dink hoe moeilik dit is – nie net vir die familie nie, maar ook vir die personeel en die dokters. Jy kry hoop, en wanneer jy die oggend by die persoon kom, het dinge net drasties verander.

“Byvoorbeeld die gesprek met die familie vanoggend, was vir my een te veel. Jy kan nie eens huil in dié pak nie,” sê Roelofse en skud sy kop.

Die hospitaal kan nie sê hoeveel Covid-19-pasiënte tans daar behandel word nie, het Shameema Adams, die hospitaal se woordvoerder, Vrydag gesê.

“Dit wissel weekliks namate die virus versprei, pasiënte genees en ontslaan word,” sê sy. “Maar ons kan bevestig dat daar reeds talle pasiënte uit Melomed Bellville ontslaan is nadat hulle herstel het.

“Ons kan ook nog Covid-19-pasiënte ontvang, asook pasiënte met ander probleme wat nie met die korornavirus te doen het nie.”

Meer oor:  Pieter Roelofse  |  Dokter  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.