Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: ‘Flou virus’: Oud-Junior Bok vaar uit oor reëls terwyl hy hande skud, aan sy gesig vat

Hy sal nooit ’n masker dra of sy opinie agter ’n masker wegsteek nie.

Só sê die oudrugbyspeler Armand du Preez van Uitenhage by navraag nadat ’n video op sosiale media versprei is waarin hy hom uitspreek teen die Covid-19-virussiekte en die regulasies daaroor.

In die video skud Du Preez, sonder ’n masker op, onder meer die hande van ’n groep straatkinders vir wie hulle kosgee wat in ’n ry staan op ’n sypaadjie en sê mense moenie bang wees vir die virus nie. Hy sê verder Suid-Afrika het ’n grondwet en mense kan nie gedwing word om “simpel dinge” te doen nie. Aan die einde van die video klap die kinders hande en juig Du Preez toe.

In nog ’n video wat op Facebook verskyn, erken Du Preez dat hy ondanks die inperking nog die hele tyd sy onderneming se deure oopgehou het. In die video kan gesien word hoe die polisie die winkel besoek, maar toe weer verkas.

Du Preez, wat ’n meubelwinkel in Uitenhage het, sê hy staan by dit wat hy in die video’s gesê het.

Volgens hom is die virus ’n “flou verkoue-virus” en niks om voor te vrees nie. “Dit is ook nie ’n rasse-ding nie, maar ’n wêreldwye ding.”

Armand du Preez

Volgens hom was die bedoeling met die eerste drie weke van inperking edel, maar niemand se lewens is tydens die inperking gered nie. Hy sê voorts die owerhede het gereageer op verkeerde inligting. Mense is bang en vrees laat mense dwase dinge doen. “Jesus sê hoeveel keer in die Bybel: Moenie bang wees nie.”

Volgens hom is niemand nog aan die koronavirus dood wat nie van ’n gewone verkouevirus sou sterf nie.

Hy het verwys na ander Bybelse profesieë wat vervul is, asook ’n biddag in Bloemfontein in 2017 waar daar meer as 1 miljoen mense was. Volgens hom gaan kontant verdwyn om die profesie te vervul dat mense slegs goedere deur ’n merk sal kan koop.

Hy sê mense moet hulle beroep op Suid-Afrika se Grondwet en dat Suid-Afrika ’n wonderlike land is om in te woon. “Ons het lank in Amerika gewoon en daar is nie ander plek waar ek wil bly as Suid-Afrika nie.”

Volgens hom het hy ook gesien dat arm mense nie bang is vir die virus nie, dat sy naam op die titelakte van sy gebou staan en niemand kan sê wat hy nie daar mag doen nie.

* Du Preez was al voorheen in die nuus toe hy ’n rondloperbees doodgeskiet het, harde gospelmusiek buite sy onderneming gespeel het, ’n onderonsie met ’n veearts gehad het en ook toe hy in 1996 ’n boer en moordbeskuldigde, Fanie de Lange, in die tronk ’n opstopper gaan gee het. De Lange is uiteindelik aan strafbare manslag skuldig bevind.

Kenner lewer kommentaar

Prof. Glenda Gray, ’n subkomiteevoorsitter van die ministeriële raadgewende komitee oor Covid-19, sê by navraag oor die video van Du Preez en die kinders deur nie gehoor te gee aan praktyke soos om ’n gesonde afstand te handhaaf nie, word hul vermoë ondermyn om die epidemie te beveg.

Dit is nodig om nie-farmaseutiese ingrypings in werking te stel soos hand-higiëne, handewas, maskers, geen skares en die handhawing van ’n gesonde afstand in toue, sê sy. Alle burgers moet dié nie-farmaseutiese ingrypings respekteer, asook die oordraagbaarheid van die virus, sê sy.





Meer oor:  Armand Du Preez  |  Covid-19  |  Coronavirus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.