Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: Paniek oor Covid-19 ‘vuur haat aan’

Mense wat paniek oor die virussiekte Covid-19 saai, vuur onverdraagsaamheid teenoor China aan, sê Lin Songtian, die land se ambassadeur in Suid-Afrika.

Lin het Vrydag op ’n mediakonferensie in Bishopscourt, Kaapstad, gesê dat samesweringsteorieë en fopnuus haat teenoor Chinese aanblaas.

“Dis verkeerd om mense met leuens te probeer bangpraat.”

Die virussiekte het in die stad Wuhan, in die Chinese provinsie Hubei, uitgebreek en het reeds meer as 1 300 lewens geëis. Byna al die sterftes is in China waar die meeste infeksies ook aangemeld is.

Meer as 60 000 mense is tot dusver met die virus besmet.

Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika, tydens ’n nuuskonferensie oor die koronavirus.Foto: Warda Meyer

Lin het die media ingelig oor die nuutste verwikkelinge rondom die uitbreking wêreldwyd en oor hoe China dit probeer hokslaan.

Hy het gesê dis belaglik dat die eetgewoontes van Chinese mense die skuld vir die uitbreking kry.

“Die bron van die virussiekte in Wuhan is nog nie eens geïdentifiseer nie. Die aard van die virus en die risiko dat dit kan muteer, is nog onbekend. Ons het tyd nodig om dit te verstaan.”

Volgens hom beweer mense dat die virus verprei het omdat mense in China diere soos vlermuise en ietermago’s eet, wat draers van die virus is. Rassehaat vlam op en die Chinese mense word as onbeskaaf en barbaars beskryf.

“Van die ouer mense wat op die platteland bly, het vreemde gewoontes en eet weens armoede snaakse goed, maar dinge het verander en soos die mense na die stede verhuis, verander hul gewoontes.”

coronavirus
Die koronavirus (Covid-19)

Toe hy nog op ’n klein dorpie gebly het, het sy familie goed soos slange geëet, maar dit het verander toe hy in die stad gaan woon het.

“My seun sal, byvoorbeeld, nie sy mond daaraan sit nie.”

Volgens Lin is die virus by net 27 van die miljoene buitelanders in China gediagnoseer.

“Twee is dood, drie van hulle is gesond en ontslaan en 22 word steeds behandel.”

Volgens hom is daar 80 000 studente uit Afrika in China van wie 5 000 in Wuhan bly.

“Daar is 3 000 Suid-Afrikaanse studente in China, insluitend 165 wat in die Hubei-provinsie bly. Geen Suid-Afrikaanse student het tot dusver die virus opgedoen nie.”

Daar is nog geen geval aangemeld van ’n Suid-Afrikaner in China wat met die virus besmet is nie.

“Buitelanders in Hubei is veilig en Suid-Afrikaners het geen rede om die gebied te verlaat nie. Dié epidemie kán voorkom en behandel word.”

Lin het weer ’n beroep op lande gedoen om eerder hul burgers in China te laat bly, waar daar streng kwarantynmaatreëls is om die verspreiding van die virus te beperk.

“Dit is gevaarlik, duur en waaghalsig om buitelanders huis toe te stuur. Veral Langafstandvlugte hou ’n groot gevaar in.”

Hy sê buitelanders kan dalk die virus na hul tuisland versprei en hul families, vriende en inwoners in gevaar stel.

China doen alles in sy vermoë om die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners in China te verseker, het hy bygevoeg.

Volgens hom is China tevrede met die maatreëls wat die Suid-Afrikaanse owerhede teen die virus ingestel het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.