Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: Premier verras met besoek aan hospitaal

Pasiënte en personeel by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley het Donderdag hul hart uitgepraat toe Zamani Saul, premier, onverwags daar opdaag en na hul welstand uitvra.

Mase Manopole, LUR vir gesondheid, Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, en dr. Dion Theys, mediese direkteur van die departement van gesondheid, luister na personeel van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Saul het daarna ’n dringende vergadering met personeel en amptenare belê om die kwessies wat geopper is te bespreek.

Saul, wat sedert sy inhuldiging reeds 27 nuwe ambulanse in diens gestel het, was by die hospitaal om ’n kantoor by die noodgevalle-afdeling in te rig sodat hy probleme eerstehands kan uitstryk.

Mase Manopole, LUR vir gesondheid, amptenare en hospitaalbestuurders het hom vergesel.

Saul het reeds in sy inhuldigingstoespraak sy kommer oor die swak vertoning van die departemente van gesondheid en onderwys uitgespreek.

Nadat Saul gesien het hoe vol die noodgevalle-afdeling is, het hy pasiënte oor hul ervarings uitgevra.

Pieter de Villiers, wat hart- en long-medisyne en ’n verstuiwingstoestel gebruik, het gekla omdat sy vorige lêer weggeraak het.

“Ek het nou ’n tweede lêer, en ek hou hom met ’n valkoog dop. Die personeel is ook nie vriendelik nie.”

Saul sê hy is verstom dat die departement in die 21ste eeu nie elektroniese pasiëntlêers het nie. “Met die afstande in die Noord-Kaap moet klinieke of hospitale elektroniese lêers dadelik kan oproep. Tyd word gemors omdat na lêers gesoek word of pasiënte hul mediese geskiedenis aan dokters moet herhaal.”

Volgens De Villiers het die stadskliniek nie altyd medisyne of personeel nie, waarna hy na die hospitaal verwys word, waar daar nie altyd aptekers is nie.

Manopole, wat Woensdag die stadskliniek in Kimberley besoek het, het dit beaam.

“Die kliniek moet weekliks medisyne kry, nie tweeweekliks nie. Wanneer die kliniek om 16:00 sluit, gaan pasiënte selfs met geringe klagtes en sonder verwysings na die noodgevalle-afdeling.”

Lizzie Smit en Pieter de Villiers praat met Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, oor pasiënte se probleme by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Die ongevalle-personeel het oor die personeeltekort gekla.

Een bestuurder het gesê hoewel daar vyf stasies vir susters is, is daar bedags net een senior suster en saans twee junior susters aan diens.

Hulle het ’n dringende behoefte aan ’n hoësorgsaal. Die waaksaal is oorvol, omdat pasiënte weens die gebrek aan ’n hoësorgsaal nie dadelik na ’n gewone saal verskuif kan word nie.

Omdat die nuwe psigiatriese hospitaal nog nie voltooi is en daar ook nie plek by die Weseinde- psigiatriese hospitaal is nie, bly psigiatriese pasiënte soms vyf dae in die noodgevalle-afdeling.

Die hospitaal het ook nie genoeg rolstoele nie, wat veral ’n probleem vir ortopediese en bejaarde pasiënte is. Verpleërs kan pasiënte nie op draagbare tussen geboue oor ’n parkeerterrein en veral nie snags dra nie.

Die hospitaal is ook vuil omdat daar op enige gegewe tyd net twee skoonmakers vir ’n “massiewe hospitaal” is, sê een van die bestuurders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.