Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KYK: Robot help geliefdes om met Covid-19-pasiënte te gesels

Die families van Covid-19-pasiënte in die Tygerberg-hospitaal kan nou danksy tegnologie met hul geliefdes gesels en hulle groet in ’n tyd dat dit vir baie nie moontlik is nie.

Terwyl hospitaalbesoeke taboe is, word ’n robot nou by die hospitaal ingespan om Covid-19-waakeenheidpasiënte met hul families te verbind wanneer dit sleg gaan en hulle desperaat vir kontak is.

Die robot, Quintin, wat dokters in die Covid-19-waakeenheid bygestaan het, help nou sodat familielede en pasiënte in die waakeenheid met mekaar kan gesels. En in sommige gevalle maak Quintin dit moontlik vir mense om mekaar ’n laaste keer te groet.

Quintin lyk soos ’n tabletrekenaar op wiele en kan met behulp van WhatsApp video- en stemoproepe maak, asook gewone telefoonoproepe.

Dit beteken dat familielede nou kan bel om pasiënte in die Covid-19-waakeenheid te “besoek”.

Dr. Kerry Louw, ’n psigiater van die US en die Tygerberg-hospitaal, staan agter Quintin die robot.

“Quintin word deur ’n app beheer en hospitaalpersoneel hoef dus nie die hospitaalkamer fisiek binne te gaan om die robot na die pasiënt toe te neem nie,” lui ’n verklaring van die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

“Dit verminder hul risiko vir infeksie, bespaar persoonlike beskermende toerusting en maak personeel se hande los om op ander take te fokus.”

In sommige gevalle is die pasiënte nie wakker terwyl die gesin met hulle kommunikeer nie, maar die kontak is steeds betekenisvol, sê dr. Kerry Louw, ’n psigiater van die US en die Tygerberg-hospitaal.

Quintin toe hy nog saalrondes gedoen het.

“Ons kon sover ’n paar gesprekke vir sterwende pasiënte moontlik maak. Een gesin was selfs by totdat die pasiënt gesterf het,” sê Louw.

Om kontak tussen pasiënte en hul gesinne moontlik te maak, is ’n “humaniseringsproses”, meen sy.

Sy sê die ervaring van ’n pasiënt in ’n waakeenheid “is ’n vorm van sielkundige angs wat ’n vrees vir die dood, pyn en sensoriese ontbering, sowel as oorstimulasie” insluit.

“Pasiënte in die waakeenheid is nie net fisiek siek nie, maar ly ook sielkundig omdat hulle van hul gesinne geïsoleer is, slaaploos is weens die konstante gepiep van masjiene en geen natuurlike lig of lugbeweging ervaar nie.

“Sommige pasiënte bly vir ’n lang tyd in die waakeenheid en dit raak vir hulle baie moeilik.

“Dit is wonderlik om die glimlagte te sien sodra pasiënte met hul gesinne kontak maak. Dit het so ’n groot verskil gemaak.”

Wanneer Quintin gevra word om te help met ’n oproep, ry hy na die pasiënt se kamer en bly soms ure by hulle terwyl die gesin gesels.

“Ek verduidelik altyd vooraf vir die gesinne wat om te verwag en hoe iemand lyk wat geïntubeer is, want dit kan ’n skok wees. Sommige gesinne wil nie visuele kontak hê nie en verkies net ’n gewone oproep.

“Ons gaan altyd by die pasiënt in om te kyk hoe dit met hulle gaan ná ’n gesprek met hul gesinne. Ons volg ook op met die gesinne, wat baie emosioneel kan wees nadat hulle met die pasiënt kontak gemaak het.”

Volgens haar het sommige pasiënte se toestand verbeter ná ’n oproep met hul families omdat hul streshormone stabiliseer.

Quintin is voorheen ingespan om virtuele saalrondes te doen indien spesialiste in die waakeenheid nie self by die hospitaal kon wees nie.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Koronavirus  |  Robot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.