Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
KZN-hospitale steier onder 2de vlaag

Die KwaZulu-Natal se gesondheidstelsel steier onder die tweede vlaag van die pandemie en sukkel met personeeltekorte in hospitale, agterstallige toetse en om genoeg suurstof te verkry.

Nomagugu Simelane-Zulu, die provinsie se LUR vir gesondheid, het Donderdag gesê die tweede vlaag, wat deur ’n nuwe variant gedryf word, is baie groter as die eerste.

Die hele provinsie word as ’n brandpunt beskou en die provinsiale departement van gesondheid het in ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê die provinsie verkeer onder geweldige druk.

Die afgelope week is gemiddeld 5 000 nuwe gevalle per dag aangemeld, waarvan 46% in die eThekwini-metro (Durban) voorkom.

Daar moet langer vir ambulanse gewag word, want nooddienswerkers word ook deur die virus besmet. Die provinsiale departement wil dus daarop fokus om meer nooddienswerkers aan te stel. Die aanstellings van dokters en verpleegsters geniet ook aandag.

Luidens die departement is meer as 10 000 gesondheidsorgwerkers in die provinsie geïnfekteer, wat tot personeeltekorte in hospitale lei.

Anders as in die eerste vlaag is die grootste druk glo nou op private hospitale wat pasiënte na staatshospitale verwys.

In die sitting het Simelane-Zulu onder kritiek van die LP’s deurgeloop oor ’n video op sosiale media waarin ’n bejaarde pasiënt in die Wentworth-hospitaal in Durban om suurstof smeek.

Sy het gesê die departement het die video Vrydag ontvang, maar die voorval het eintlik al ’n paar dae vroeër plaasgevind. Spanne is gestuur om ondersoek in te stel.

“Ons het gevind dat die fasiliteit op die spesifieke dag onder geweldige druk was – 11 dokters is positief getoets en was in isolasie en 17 verpleegsters was in isolasie en kwarantyn.”

Daar is gevind dat die hospitaal nie ’n permanente uitvoerende hoof het nie en ’n permanente aanstelling is toe Woensdag gedoen. Verder het die vloei van pasiënte ná die departement se ingryping verbeter.

Die ondersoek is nog aan die gang.

Volgens Simelane-Zulu het die provinsie nog suurstof in voorraad, maar weens druk op sy suurstof-verskaffer kry die provinsie glo nie die suurstofhouers wat hy bestel het nie. Daar word daagliks met die verskaffer vergader en die departement het ook na ander verskaffers uitgereik.

Navraag is aan die suurstof-verskaffer gestuur en sy kommentaar sal bygewerk word indien dit ontvang word.

Volgens Simelane-Zulu ontvang die departement ook daagliks verslae oor die voorraad van persoonlike beskermende toerusting en daar blyk genoeg te wees.

Vier veldhospitale is in werking gestel terwyl die provinsie al werk gedoen het om minstens een hospitaal in elke distrik op te gradeer. Boonop word gemeenskapsfasiliteite vir die behandeling van pasiënte omskep.

Luidens die voorlegging word agterstande in die toetse deur die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens weens ’n tekort aan reagense ondervind. Verder raak laboratoriumwerkers ook besmet, wat die druk verhoog.

Volgens Simelane-Zulu het begrafnisondernemings voldoende vermoë om die groter vraag te hanteer. ’n Provinsiale koördineringskomitee het reeds ’n plan vir die ontplooiing van entstowwe. Plekke is aangewys waar dit gestoor kan word.

Volgens haar is die groot bron van infeksies begrafnisse waar mense nie die regulasies nakom nie. Die polisie is in hierdie verband genader.

Prof. Mosa Moshabela, dekaan van die departement van openbare gesondheid en verpleegkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, sê Simelane-Zulu skets ’n akkurate en desperate prentjie van die provinsiale gesondheidstelsel.

“Die groot probleme is die verhoogde vraag na suurstof, toetse en beddens, en die kwessie van gesondheidsorgwerkers wat siek word.”

Volgens hom sukkel gesondheidsorgwerkers ook emosioneel om die pandemie te hanteer.

“Uitputting en probleme met suurstof veroorsaak sielkundige skade. Almal voel hulle kon beter gevaar en klein foute vermy het. Maar daar is ook net soveel wat ’n mens kan doen.”

Moshabela meen die provinsie is besig om die piek van die vlaag te bereik, maar hy sê ’n bietjie meer tyd is nodig om dit met sekerheid te kan sê. Volgens hom het nuwe gevalle in die provinsie begin stabiliseer en so ook hospitalisasies.

“Ons sal nog so week of wat moet wag.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.