Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Laboratoriums kan nie byhou met toetse vir Covid-19

Die nasionale departement van gesondheid se laboratoriums kan nie meer byhou met al die toetse wat gedoen word vir die koronavirus nie.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, sê in die Wes-Kaap word daar al hoe meer toetse gedoen en die departement van gesondheid hanteer die meeste van die toetse.

Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) is verantwoordelik vir die uitslae, maar is volgens Winde nie meer in staat om al die uitslae tydig te gee nie.

Nicola Williams van Bothasig word vir Covid-19 getoets. Foto: Edrea du Toit

In die Wes-Kaap is daar tussen 27 April en 4 Mei 19 619 toetse gedoen. In die laaste twee weke is die getal toetse skerp verhoog, maar dit het ’n invloed op die NHLS in die provinsie, asook landwyd, om die uitslae so gou as moontlik te kan gee.

Winde sê dit lei daartoe dat toetsuitslae nie gereeld deurgegee kan word nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Hy beplan om die kwessie met pres. Cyril Ramaphosa, asook met dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op te neem en om te vra dat die NHLS se kapasiteit vir toetsing verhoog word. Dit is veral nodig omdat al hoe meer toetse landwyd gedoen gaan word.

Winde sê uitslae sal vinniger beskikbaar gestel moet word, sodat die data verwerk en die patrone van infeksie raakgesien word.

Winde het gesê in die Wes-Kaap styg die getal gevalle van mense wat met die koronavirus besmet is nou vinniger. Dit beteken dat daar infeksie van die een persoon na die ander in gemeenskappe is en dat die kurwe van die stygende aantal infeksies nou vinniger styg.

Hy het herhaal dat die infeksies veral by bepaalde punte soos supermarkte en ander plekke wat in vlak 5 noodsaaklike dienste gelewer het, opgemerk is.

Verder is daar ’n groei in besmetting met die virus in veral Kaapstad en dan ook in die Witzenberg-distrik. Van die groot dorpe in dié distrik is Ceres, Tulbagh en Wolseley.

Winde het mense gevra om steeds ekstra versigtig te wees. Hy het gesê mense moet onthou die vlak 5-inperking het nie die koronavirus gestop nie, maar dit het slegs tyd gewen sodat die regering beter vir die groot getal besmettings kan voorberei.

Meer oor:  Nhls  |  Alan Winde  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.