Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Landelike gemeenskappe leer noodhulp
Inwoners van die Video- en Absa-plakkerskampe in Muldersdrift het vroeër vandeesmaand opleiding in noodhulp gekry. Dit behels tegnieke van kardiopulmonêre resussitasie vir volwassenes, kinders en babas. Foto: Ischke de Jager

’n Nuwe projek gee inwoners in landelike, minder bevoorregte gemeenskappe en plakkerskampe die geleentheid om hulself en ander te help in tye van nood – al is dit net tot die ambulans opdaag.

Die Community First Aiders Project is in Julie begin ná ’n aantal sterftes in Desember in plakkerskampe in Muldersdrift naby Johannesburg.

Vier of vyf van dié sterftes net in die Absa-plakkerskamp word toegeskryf aan gewone ongelukke en nie misdaad nie, sê Shenan Cochrane van Muldersdrift se vereniging vir brandbeskerming, FPA. Sy is ’n gekwalifiseerde noodhulpinstrukteur.

“Sommige van hierdie sterftes kon vermy gewees het as die gemeenskappe basiese noodhulpvaardighede gehad het.”

Nadat ’n klein seuntjie oor Kerstyd dood is, het die Muldersdrift-FPA ’n plan beraam om die gemeenskappe in die plakkerskampe in noodhulp en kardiopulmonêre resussitasie op te lei.

Dié seuntjie het in die plakkerkamp gespeel toe daar vermoedelik ’n stuk yster van ’n sinkhuisie se dak afgeval het en hom in die nek getref het. Hy het doodgebloei.

Die eerste groep wat opleiding ontvang het deur die Community First Aiders Project. Hulle het sertifikate en noodhulpkissies gekry.Foto: Ischke de Jager

Die eerste groep inwoners van die Video- en Absa-plakkerskamp het vroeër vandeesmaand noodhulpopleiding ontvang. Hulle het noodhulpsertifikate gekry wat gelykstaande is aan vlak 1-noodhulp en noodhulpkissies wat deur die Muldersdrift-FPA geskenk is.

“Hulle het dit terdeë geniet en hulle was fantasties. Ek was beïndruk,” sê Cochrane.

Die kursus word hoofsaaklik prakties aangebied, sodat taal- en leesvaardighede nie ’n probleem is nie. Dit is spesifiek ontwerp vir almal in die gemeenskap.

Hulle het opleiding gekry in hoe om onder meer steekwonde, koeëlwonde en slangbyte te behandel; hoe om kardiopulmonêre resussitasie op volwassenes, kinders en babas toe te pas en wat om te doen in ’n geval waar ’n volwassene, kind of baba verstik.

“Hulle weet nie wat noodhulp is nie. Die doel van dié kursus is om hulself en familielede of gemeenskapslede te help totdat ’n ambulans opdaag,” sê Cochrane.

Die doelwit is om 1 200 inwoners oor die volgende jaar op te lei. Die Muldersdrift-FPA wil ook basiese kursusse vir brandbestryding aanbied om brande in plakkershutte te voorkom.

“As ons geld kan insamel, sal ons voortgaan met noodhulpopleiding in minderbevoorregte gemeenskappe sowel as by plaaslike hoërskole,” sê Cochrane.

Die Community First Aiders Project is nie beperk tot Muldersdrift nie.

Vir meer inligting oor die projek bel Cochrane by 083 510 4745.

Meer oor:  Noodhulp  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.