Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Leerling (9) van Brackenfell in kankerstryd

Die maagkrampe wat ’n meisie van Brackenfell gekry het, was toe veel erger as wat haar ouers vermoed het.

Mila Koekemoer (9) van Brackenfell. Foto: Facebook

Kanker is op 2 Januarie by Mila Koekemoer (9) gediagnoseer en om dinge erger te maak, is Mila allergies vir die siklofosfamied, ’n preserveermiddel wat in sekere van haar chemobehandelings voorkom.

Alicia Sevenoaks, Mila se tannie, sê ’n ander soort chemo, sonder dié middel waarvoor sy allergies is, is net oorsee beskikbaar en moet ingevoer word.

“Die dokters was bang sy is dalk ook allergies vir die nuwe behandeling. Daarom het hulle seker gemaak sy slaap terwyl die middel toegedien word,” sê Sevenoaks.

“Gelukkig het alles glad verloop en sy kan nou met die behandeling voortgaan. Haar ouers se mediese fonds dek dit nie heeltemal nie en haar ma, Michelle, en pa, Stephan, moet groot bybetalings doen.”

Mila is ’n leerling aan die Laerskool Bastion in Proteahoogte.

Mila en haar ma was vroeg vanjaar met vakansie toe sy begin kla oor maagkrampe. Michelle Koekemoer, haar ma, het haar vir X-strale geneem vir wat soos ’n blokkasie gelyk het.

’n Dokter in Kaapstad het iets gesien wat pla en het gevra dat ’n tweede meer volledige skandering gedoen word. Wat hulle gedink het ’n lugborrel om haar longe is, was toe al die tyd ’n massa so groot soos ’n krieketbal. Dit weeg sowat 500 g.

Die massa is in haar buik, aan die linkerkant rondom haar derms, sê Sevenoaks.

Mila Koekemoer by haar verjaardagkoek. Foto: Facebook

Mila is onmiddellik na die Tygerberg-hospitaal se onkologieafdeling verwys. ’n Biopsie is op 2 Januarie uit haar beenmurg geneem. Saam met bloeduitslae kon hulle steeds nie die presiese kanker of die stadium identifiseer nie.

Mila moes ’n dag later nog ’n operasie ondergaan in die Vincent Palotti-hospitaal om die finale diagnose te probeer maak.

Eers op 15 Januarie is die boodskap op die Facebook-blad Miracle for Mila geplaas: “Dis met ’n baie swaar hart dat ek met julle deel dat Mila vandag ’n volle diagnose van haar kanker gekry het. Ná bitter baie toetse en biopsies het hulle laat weet sy het neuroblastoma. Ons harte is stukkend, sy begin oormôre met haar eerste chemosessie. Hou haar asseblief in julle gebede, dis wat haar en ons almal dra.”

Die volgende dag is Mila by die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem vir toetse om te bepaal of haar kanker versprei het. Dit is toe dat hulle agterkom dat Mila ’n allergiese reaksie toon teen die preserveermiddel in die chemoterapie.

“Sy het skaars begin, toe is sy bloedrooi, uitgeslaan in knoppe en kon nie asem haal nie,” sê Sevenoaks.

Mila Koekemoer se hare nadat sy dit laat afsny het. Foto: Facebook
Mila Koekemoer tydens haar tweede ronde chemobehandeling. Foto: Facebook

“Sy het vreeslik gehuil en wou opgooi.”

Op 20 Januarie het Mila haar negende verjaarsdag gevier.

“Sy het nie ’n goeie dag wat pyn en emosionele stres betref nie, maar ons kon ’n klein glimlag uit haar uit kry toe sy haar koek sny,” lui ’n plasing op die blad.

Op 28 Januarie deel die familie op die blad dat Mila haar ma gevra het om haar hare te sny sodat sy dit kan skenk om ’n pruik te laat maak vir ander meisies soos sy.

“Sy wou dit doen om ’n ander meisie sonder hare gelukkig en mooi te laat voel. Mila het so ’n liewe hart. Ons kan so baie by haar leer.”

Sedert 4 Februarie het Mila weer begin skoolgaan, hoewel dit net vir sowat twee uur per dag is en net op dae is wanneer sy sterk genoeg voel.

“Sy werk in die adjunkhoof se kantoor omdat sy nie aan kieme blootgestel kan word nie,” sê Sevenoaks.

“Sy verstaan sy is siek, maar sukkel maar om dit te verwerk. Op nege is 'm mens nie eintlik veronderstel om so iets te kan verwerk nie."

’n Fonds is gestig vir mense wat wil help met Mila se behandeling, sê Sevenoaks.

“Dit is om alle ekstra uitgawes te dek wat die medies nie betaal nie. As die behandeling buite Suid-Afrika benodig word, sal die gesin die geld beskikbaar hê om dié opsie te gebruik.”

Mila Koekemoer slaap in die hospitaal. Foto: Facebook

Mila gaan binnekort na Bloemfontein vir ’n nuwe soort behandeling bykomend tot die chemoterapie.

Sevenoaks sê hulle hoop van harte dit sal haar beter laat voel terwyl sy voortgaan met die gewone chemobehandeling.

“Niks kan jou voorberei op dié harde pad nie,” sê Sevenoaks.

“Ek wens dit nie my grootste vyand toe nie. Ek weet nie hoe Michelle en Stephan enigsins staande bly nie. Dit skeur ’n mens uitmekaar.”

Op 17 April tree Demi Lee Moore by Die Bron in Willowbridge op ten bate van die stigting in Mila se naam. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar op itickets.com.


Meer oor:  Brackenfell  |  Kankermassa  |  Maagkrampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.