Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Legendariese skrywer (97) pleit namens bejaardes

Die legendariese skrywer Elsa Joubert (97) wil haar familie sien – en sy lewer ’n pleidooi namens alle bejaardes in tehuise en oorde dat die Covid-19-regulasies meer buigbaar moet wees om besoeke toe te laat.

Elsa Joubert. Foto: Natalie Gabriels

Dié skrywer van Die swerfjare van Poppie Nongena en meer onlangs, op 95-jarige ouderdom, haar outobiografiese werk Spertyd, woon in ’n tehuis in Kaapstad waar sy, soos duisende mense in tehuise oor die land heen, glad nie besoek mag word nie.

“Ek is self in die 90 en daar is iets wat my ook diep hinder. Menslik gesproke is ons in die laaste weke en maande van ons lewe. En ons wat in tehuise of inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny.”

Sy skryf hoe belangrik die besoeke van familie nie net vir haar is nie, maar vir alle bejaardes wat in oorde en tehuise woon.

“Daardie kloppende verbintenis tussen ouer en kind, vir elke kind eenmatig, vir elke ouer iets individueel, is uitgeskakel.

“Hierdie unieke persoonlike verbintenis is baie belangrik.

"Dit word uitgestuur van en na ouer en kind, na albei kante. Al is jy nie bewus daarvan nie. Al gebeur dit onbewustelik.

“Kinders word by die deur weggewys. Vrae help nie. Dit is teen die wet om enige besoekers te ontvang.

“Ek kwyn daaronder. Telefone en video’s en Skype en vele meer help, maar is nie genoeg nie. Dis ook nie dieselfde nie.

“Werklike verbintenis gaan veel dieper.

“Ek versoek u, maak beheerde besoeke van familielede en volwasse kinders, al is dit een of twee keer, moontlik. Asseblief.”

Die brief wat Elsa Joubert geskryf het.

Joubert het die brief gerig aan dr. Hans Woermann, haar huisdokter, as deel van ’n pleidooi om die regering, en meer spesifiek pres. Cyril Ramaphosa, sover te kry om besoeke aan tehuise en oorde moontlik te maak.

Woermann sê net soos wat daar nou oor die ekonomiese impak van die inperking ’n gesprek is, moet daar een wees oor die regte van familie om bejaardes in oorde en hospitale te besoek.

“Bejaarde mense in versorgingsoorde is so broos en het ’n beperkte lewensverwagting wat vererger word deur die verminderde beskikbaarheid van roetine- mediese sorg en aandag in hierdie krisis.”

Woermann lewer ’n pleidooi dat besoeke gereël word en sê dit kan tog nie onmoontlik wees om besoeke met skerms tussen die besoeker en die persoon wat besoek word en met die dra van persoonlike beskermende klere en onder toesig te reël nie.

“Die risiko wat versorgers en mediese personeel dra wanneer hulle by die tehuise kom en gaan, en met openbare vervoer ry, is tog sekerlik veel erger as wat ’n goed georganiseerde besoek van 15 minute onder toesig sal kan wees,” sê Woermann.

Meer oor:  Ouetehuis  |  Elsa Joubert  |  Kaapstad  |  Inperkingsregulasies  |  Skrywer  |  Boeke  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.