Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Lig drankverbod in W-Kaap onder streng reëls, vra LUR

As die verbod op die verkope van alkohol in die Wes-Kaap gelig word, sal dit aan streng maatreëls onderhewig moet wees.

So sê Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, wat Dinsdag sy steun toegesê het aan premier Alan Winde se beroep dat dié verbod in die Wes-Kaap gelig moet word.

Intussen het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, egter in hofstukke dit duidelik gemaak dat die verbod nie as ’n uitsondering net in die Wes-Kaap gelig sal word nie.

Fritz het Dinsdag met die bekendmaking van die jongste inligting oor ondersoeke deur die Wes-Kaapse Drankowerheid gesê hierdie ondersoeke het bygedra tot die afname in alkoholverwante voorvalle in die provinsie van 27 Maart tot 7 Augustus. Hy het oortreders gewaarsku dat hulle vasgevat sal word.

Hy sê egter die Wes-Kaapse regering besef dranklisensiehouers, asook restaurante en kroeë, is onder geweldige druk.

Die Wes-Kaap se gesondheidstelsel het tans die vermoë om sowel Covid-19-pasiënte as alkoholverwante traumavoorvalle te hanteer.
Alan Winde

“Ons is simpatiek daaroor en verstaan die voortbestaan van baie poste en ondernemings is op die spel weens die verbod.”

Daarom steun hy Winde se voorstel.

Winde het verlede week ná ’n bosberaad van sy kabinet ’n dringende vergadering met Dlamini-Zuma en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, versoek om hierdie kwessie te bespreek.

Volgens Winde volg die provinsiale regering ’n bewys-gegronde, data-geleide benadering tot die pandemie. Dit wys die provinsie se gesondheidstelsel het tans die vermoë om sowel Covid-19-pasiënte as alkoholverwante traumavoorvalle te hanteer.

Die provinsie het sy aanvanklike steun vir die verbod op die verkoop van alkohol teruggetrek en vra dat dié verbod onmiddellik opgehef word.

Dlamini-Zuma sê in haar repliek in die saak waarin ’n groep restaurante haar voor die hof daag oor die verbod, asook oor die verbod op die verkope van drank in restaurante, die verbod sal nie as ’n uitsondering in die Wes-Kaap gelig word nie.

Hierdie saak was veronderstel om Dinsdag aangehoor te word, maar die regering se versoek om ’n twee weke lange uitstel is Maandag toegestaan.

Die applikante is Liam Tomlin, wat vyf van die applikante verteenwoordig (drie Chefs Warehouse-restaurante in onderskeidelik Kaapstad, Constantia en Franschhoek, Thali in Kaapstad en Jewells in die Spice Route in die Paarl), en Theo Nel, eienaar van die Karoo Art Hotel op Barrydale, Steven Albert van Nelson’s Eye in Kaapstad en Reuben Riffel, met restaurante in die Paarl en Franschhoek.

Dlamini-Zuma sê die regulasies in die Wes-Kaap sal nie verslap word sonder dat dit ook in die res van die land gebeur nie.

Sy meen daar is geen gronde waarop die regulasies in sekere provinsies verslap kan word terwyl dit steeds in ander provinsies geld nie. Sy voer aan almal moet dieselfde gehanteer word om te verseker dat almal beskerm word.

Die groep restaurante sê in ’n verklaring hulle is “teleurgesteld en kwaad” oor die uitstel en meen die regering probeer die saak vertraag.

Fritz het Dinsdag gesê die Wes-Kaapse Drankowerheid het tot dusver 112 sake ondersoek. Hiervan is 46 na die Dranklisensiëringstribunaal verwys. Agt aansoeke is van die hand gewys, een is nog nie afgehandel nie en 37 dranklisensies is opgeskort.

Fritz het beklemtoon diegene wat nie die regulasies gehoorsaam nie, sal ondersoek word en kan ’n boete van R115 000 opgelê word of hul lisensie verloor.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Koronavirus  |  Opheffing  |  Drankverbod  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.