Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Lise Brink se rug dalk Woensdag geopereer

Lise Brink (42) sal na verwagting Woensdag ’n rugoperasie ondergaan.

Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bedryfshoof, het Dinsdag gesê Brink sal Woensdag ondersoek word om te bepaal of die longontsteking wat sy vroeër opgedoen het, al opgeklaar het.

Volgens Hermann is Lise se koors laer as wat Maandag die geval was, en as dokters tevrede is met haar toestand sal die operasie Woensdag voortgaan. Die operasie is oorspronklik vir Sondag geskeduleer, maar is uitgestel omdat sy longontsteking opgedoen het. 

Brink is erg beseer in ’n motorongeluk terwyl sy en haar gesin op pad was met vakansie.

Danie is moeg en bekommerd oor sy vrou, maar hy het ’n besonderse innerlike krag en die ondersteuning van die gemeenskap maak dit ook vir hom moontlik om sterk te bly.
Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bedryfshoof

Haar man is dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Twee van die egpaar se vyf kinders is in die ongeluk dood.

Sy is tans in die Unitas-hospitaal in Centurion.

Haar linkerbeen is verlede week net onder die knie afgesit nadat sy akute kompartementsindroom in die been opgedoen het. Dié sindroom veroorsaak erge swelling en belemmer die bloedsomloop.

Hermann sê die Brinks se een seun, Johann (9), is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy opgeneem is om ’n kopwond te laat dreineer.

“Hy lyk goed en hy is ontslaan en daaroor is ons baie dankbaar.”

Hermann het Dinsdag gesê die gesin is besonder dankbaar oor die toegewydheid van die mediese personeel by die hospitaal.

“Veral oor die Kerstyd. Die mediese personeel het ook families, maar hulle doen hul werk en behandel die pasiënte met vriendelikheid. Hulle is regtig soos engele oor Kersfees.”

Hermann sê die gesin is ook dankbaar teenoor die gemeenskap wat na hulle uitreik en boodskappe van ondersteuning stuur.

“Dit is juis die ondersteuning wat die gesin in hierdie stadium dra. Dit is ’n lang en uitputtende proses. Danie is moeg en bekommerd oor sy vrou, maar hy het ’n besonderse innerlike krag en die ondersteuning van die gemeenskap maak dit ook vir hom moontlik om sterk te bly.”

Die ongeluk het op Vrydag 16 Desember tussen Theunissen en Brandfort in die Vrystaat plaasgevind. Die Brink se Toyota Land Cruiser se band het vermoedelik gebars en die voertuig het gerol.

André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood.

Lise weet steeds nie van haar kinders se dood nie.

Daniël (2) en Mieke (15) is ongedeerd.

Danie het ’n harde hou teen die kop gekry, maar is verder ongedeerd.

Ernst Vorster, hoof van kommunikasie van Helpende Hand, sê begrafnisreëlings is onbepaald uitgestel.

“Die begrafnis sal gehou word sodra Lise sterk genoeg is om dit by te woon.”

Meer oor:  Lise Brink  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.