Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Listeriose eis nog 3, sê Nios

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê nog drie mense, onder wie ’n baba wat nog nie eens ’n maand oud was nie, is aan listeriose dood. Dit bring die amptelike dodetal op 183 mense te staan.

Die oorledenes sluit in 79 babas en sewe kinders tussen die ouderdomme van 1 en 14 jaar.

Luidens Nios se jongste inligting, wat Donderdag op sy webtuiste gepubliseer is, is ’n totaal van 967 gevalle van listeriose sedert 2017 aangemeld.

Sedert die laaste verslag op 3 Maart oor die uitbreking, is nog 11 gevalle wat in 2017 voorgekom het deur laboratoriumtoetse bevestig. Agt nuwe gevalle van listeriose is die afgelope paar dae by Nios aangemeld.

Die sterftesyfer is 27%. Dit is egter nie bekend wat met ’n bykomende 298 pasiënte by wie listeriose gediagnoseer is, gebeur het nie.

Enterprise se aanleg in Polokwane.Foto: Joshua Sebola

Nios moedig mediese personeel aan om op hul hoede te bly vir enige tekens van listeriose, veral onder pasiënte wat moontlik kos van die geïdentifiseerde voedselvervaardigers geëet het.

Polonie van Enterprise Foods in Polokwane en Rainbow Chicken in Sasolburg is intussen as die bron van die listeriose-uitbreking geïdentifiseer.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering in ’n debat oor listeriose wat hy self aangevra het, gesê dat die twee maatskappye “gestraf” sal word.

Volgens Motsoaledi is daar ook nou ’n nuwe beleid van krag dat enige diagnose van listeriose sedert 15 Desember 2017 dadelik aangemeld moet word, sodat die owerhede kan weet as daar nog ’n uitbreking is.

Volgens die minister is die meeste van die gevalle (62%) in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal aangemeld.

Die departement van omgewingsake het intussen afvalbestuursmaatskappye spesiale vergunning gegee om sowat 4 000 ton verwerkte vleis, wat moontlik met die Listeria-bakterie besmet is, by klas A-stortingsterreine te begrawe.

Dié terreine is spesiaal gelisensieer om gevaarlike afvalmateriaal te hanteer.

* Nios se jongste inligting oor die listeriose-uitbreking is hier beskikbaar.

Meer oor:  Listeriose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.