Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Listeriose is verby! – Motsoaledi
Min. Aaron Motsoaledi kondig aan dat die uitbreking van listeriose in Suid-Afrika amptelik verby is.Foto: Collen Mashaba

Die dodelike uitbreking van listeriose wat die lewens van meer as 180 Suid-Afrikaners geëis het, is uiteindelik iets van die verlede.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het dié aankondiging Maandag by die kantore van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in Johannesburg gemaak.

Motsoaledi sê geen nuwe voorvalle van listeriose is in die afgelope drie maande aangemeld nie en dit is weer veilig vir mense om verwerkte voedsel soos polonie te eet.

Die uitbreking van listeriose in Suid-Afrika het in Oktober verlede jaar onder die owerhede se aandag gekom, toe Nios van meer as 365 gedokumenteerde gevalle oor die land heen kennis geneem het.

Altesame 62% van die gevalle was in Gauteng en sowat 900 gesondheidsinspekteurs is heropgelei.

Listeriose is ’n bakteriese infeksie wat tot bloedvergiftiging (sepsis), harsing-en-rugmurgvlies-ontsteking (meningitis) of harsingontsteking (ensefalitis) kan lei. Dit doen soms lewenslange skade en kan selfs tot die dood lei.

Dertig mense was reeds aan listeriose dood toe Motsoaledi die uitbreking op 5 Desember aangekondig het. Teen die einde van Desember is 640 voorvalle bevestig en het die dodetal tot 60 vermeerder.

Drie maande later (begin Maart) het 180 mense hul lewens verloor en is net minder as 1 000 voorvalle van listeriose bevestig.

Nios het maande lank gewerk om die oorsprong van die uitbreking te vind en reeds om 05:30 hul werksdae begin.

“Ons het dikwels wanhopig geraak,” sê dr. Juno Thomas, Nios se hoof vir ingewandsiektes.

“Ons het dikwels wanhopig geraak,” sê dr. Juno Thomas, Nios se hoof vir ingewandsiektes.

Die deurbraak het op 12 Januarie gekom, toe nege kinders onder die ouderdom van vyf van ’n crèche in Soweto na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem is. ’n Kinderarts het ’n siekte wat deur voedsel versprei word, waarskynlik listeriose, by hulle gediagnoseer.

Omgewingsgesondheid-praktisyns is in kennis gestel. Hulle het die crèche besoek en monsters van twee handelsname polonie wat deur Enterprise en Rainbow Chicken vervaardig word geneem en vir ontleding weggestuur.

Motsoaledi het op 4 Maart aangekondig dat die span die oorsprong van die uitbreking, ’n stam van die siekte wat as ST6 bekend staan, bepaal het. Die oorsprong was ’n Enterprise Foods-fabriek in Polokwane.

Die fabriek is gesluit en Enterprise-produkte is landwyd van rakke verwyder.

Motsoaledi het Maandag gesê die fabriek bly gesluit.

Voorlopige resultate het ook gewys verskeie verwerkte vleisprodukte van ’n Enterprise-fabriek in Germiston het die bakterie Listeria monocytogenes bevat.

’n Ondersoek by Rainbow Chicken se Wolwehoek-fabriek is ook gedoen nadat polonie positief getoets het vir Listeria monocytogenes. Dit was egter nie die dodelike ST6-stam nie.

Produkte van hierdie aanleg is ook herroep.

Nog drie mense is kort na dié aankondiging dood, waaronder ’n baba jonger as een maand.

Volgens Motsoaledi is 5 812 ton verwerkte vleis herroep en is die totale koste van die uitbreking R12 miljoen.

Geen verdere voorvalle van listeriose is sedert die eerste week van Junie aangemeld nie.

“Die gevolgtrekking is dus dat die uitbreking van listeriose in Suid-Afrika verby is,” sê Motsoaledi, “Ek is hier om amptelik aan te kondig dat ons nie langer ’n listeriose-uitbreking in Suid-Afrika het nie.”

NEWS24: https://www.news24.com/SouthAfrica/News/listeriosis-outbreak-how-it-started-how-it-was-traced-and-how-it-was-finally-stopped-20180903

Meer oor:  Aaron Motsoaledi  |  Uitbreking  |  Listeriose  |  Gesondheid  |  Polonie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.