Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Londen en Parys strenger ingeperk

Parys en Londen het strenger maatreëls ingestel om die verspreiding van die koronavirus te keer.

Parys het ’n aandklokreël vir sy inwoners, sy voorstede en agt ander stede waaronder Marseille en Lyon ingestel, terwyl inwoners in Londen verbied is om binnenshuis byeen te kom en huishoudings nie saam mag kuier nie.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Woensdag die beperkings ingestel wat vanaf Saterdag vir minstens vier weke sal geld. Macron sê dat hy die daaglikse styging in gevalle so tot 3 000 wil verminder.

Inwoners mag in die tydperk hul huise nie tussen 21:00 en 06:00 sonder ’n geldige rede verlaat nie. Hulle mag wel werk toe, hospitaal toe of apteek toe gaan. Indien ’n persoon dit die eerste keer oortree, sal hy of sy ’n boete van €135 moet betaal en €1 500 as die oortreding herhaal word.

Die Franse premier, Jean Castex, sê die polisie sal ontplooi word om die aandklokreël af te dwing.

PARIS, FRANCE - MARCH 17: Police officers patrol n
Parys in Frankryk. Foto: Getty

Die polisie het Donderdag toegeslaan op die huise van senior regerings- en gesondheidsamptenare as deel van ’n ondersoek na hul hantering van die pandemie. Die regering is gekritiseer weens tekorte aan toerusting en stadige reaksietye.

Die Franse gesondheidsowerhede het Donderdag gesê die land het 30 621 nuwe infeksies die voorafgaande 24 uur aangemeld teenoor die 22 591 die vorige dag. Dit is die eerste keer dat infeksies die 30 000-kerf verbysteek.

Hospitalisasies en sterftes het ook toegeneem.

Miljoene huishoudings in Londen sal van Saterdag af nie binnenshuis mag kuier nie, nie by huise of in restaurante nie, aangesien die Britse hoofstad en ander dele van Engeland op ’n vlak 2-inperking geplaas is. Die strenger inperkingsmaatreëls geld vanaf Vrydag om middernag.

Boris Johnson, premier van Brittanje, probeer ’n tweede vlaag van infeksies met hierdie maatreëls voorkom. Londen sal as “hoë risiko” geklassifiseer word nadat dit vroeër die week “ ’n medium-risiko” was.

Mense moet ook so min as moontlik reis, sê Matt Hancock, minister van gesondheid.

“Ons weet sedert die eerste piek dat die virus vinnig versprei en groot druk op die nasionale gesondheidsdiens plaas, dus moet ons nou optree om later strenger maatreëls te voorkom,” sê Hancock.

grafika

Sadiq Khan, burgemeester van Londen, het Donderdag gesê dat die hoofstad ’n kritieke stadium in sy stryd teen die pandemie bereik het, en het gewaarsku dat die virus vinnig “in elke uithoek” van die stad versprei.

“Hospitalisasies het toegeneem, meer pasiënte is in die waakeenheid en ongelukkig neem die sterftesyfer ook toe,” sê hy.

Data van die Britse regering toon dat 18 980 nuwe gevalle en 138 sterftes aangemeld is, wat die totaal op onderskeidelik 676 455 en 43 383 te staan bring.

Intussen het Italië, Pole en Duitsland Donderdag hul grootste toename in nuwe gevalle aangeteken sedert massatoetsing begin is.

Rusland het sy hoogste getal daaglikse sterftes aangeteken sedert die aanvang van die epidemie met 286 mense wat dood is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Europese regerings aangespoor om op te tree aangesien die vasteland die 1 000-kerf vir sterftes wat daagliks aangemeld word, oorskry het. – CNN, BBC, Reuters en die Financial Times


Meer oor:  Parys  |  Londen  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.