Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ma ontmoet baba wat sy gedink het dood is

’n Ma van Eersterivier op die Kaapse Vlakte was Woensdag in ekstase om haar babaseun te kan vashou nadat hy op 17 Desember op net 25 weke gebore is terwyl sy aan ’n ventilator gekoppel was.

Nosipho Nkantini hou haar babaseun, Oyena, vas wat op 25 weke gebore is. Hulle het mekaar Woensdag vir die eerste keer ontmoet.

Nosipho Nkantini, ’n verpleegster, was siek met Covid-19 en het nie eens geweet sy kraam nie, omdat ’n noodkeisersnee gedoen moes word. Toe sy wakker word, het sy aangeneem haar baba is te vroeg gebore om te kon oorleef.

Sy het die hospitaal verlaat en ’n groot soektog moes gedoen word om ma en baba te herenig.

“Toe hulle my baba vir my die eerste keer wys, het die trane teen my wange begin afloop. Ek het gesnik soos ek gehuil het omdat ek net so gelukkig was. Ek kon dit net nie glo nie. My baba leef, hy leef.”

Nkantini se babaseun, Oyena, is in Desember in die Netcare N1 City-hospitaal in Goodwood, Kaapstad, gebore. Luidens ’n verklaring van die hospitaal moes ’n noodkeisersnee gedoen word terwyl sy bewusteloos was en weens Covid-19 op ’n ventilator geplaas is.

“Ek was halfpad deur my swangerskap toe ek aanhoudend gehoes en kortasem was. Ek het my huisdokter gekontak, wat nie gedink het dit is Covid-19 nie en antibiotika voorgeskryf het.

“Hy het gesê as ek steeds ná ’n ruk so voel, moet ek onmiddellik vir die virus getoets word.”

Toe hulle my baba vir my die eerste keer wys, het die trane teen my wange begin afloop.

Sy sê toe sy vir een van haar opvolgondersoeke na die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier is, het sy skielik gesukkel om asem te haal.

“Ek is vir die koronavirus getoets en die toetsuitslag was toe negatief. Tog kon ek steeds nie asemhaal nie. Dit was baie vreesaanjaend vir my. Ek kon nie X-strale laat neem of sekere behandeling vir my simptome kry nie, omdat ek swanger was.

“Ek is vir ’n tweede keer vir die virus getoets en my toetsuitslag het positief teruggekom.”

Nkantini sê sy is daarna na die Netcare N1 City-hospitaal oorgeplaas en het kort ná haar aankoms haar bewussyn verloor. 

“Van toe af kan ek niks onthou nie. Ek het twee dae later wakker geword en die dokters het gesê daar was komplikasies met my swangerskap, en dat hy deur ’n noodkeisersnee gebore is,” het Nkantini Woensdag gesê.

Haar baba was in die neonatale waakeenheid. “Maar ek was so oorweldig en getraumatiseerd met alles wat gebeur het, dat ek omtrent na niks geluister wat hulle vir my gesê het nie.

“Ek was ook nog baie swak weens Covid-19. Ek het ook reeds voorheen ’n baba verloor, wat op 28 weke gebore is. So ek was uiters getraumatiseerd en het gedink dat dit weer gebeur het.”

Nkantini is ontslaan, maar haar seun kon ongelukkig nog nie huis toe gaan nie omdat hy steeds gespesialiseerde lewensondersteunende sorg moes kry.

Nosipho Nkantini en haar babaseuntjie, Oyena.

Die hospitaal se pogings om Nkantini en haar naasbestaandes in die hande te kry, was onsuksesvol omdat hul kontakbesonderhede verouderd was.

Ronel Grobler, ’n maatskaplike werker, se hulp is ingeroep om Nkantini op te spoor, maar ook dié pogings het misluk omdat baie van die dokters en personeel met vakansie was. Die polisie is gekontak en hulle het gehelp met die soektog.

“Die feestyd was nie vrolik en vreugdevol nie,” sê Nkantini. “Ek was bang om die hospitaal te bel omdat ek myself oortuig het dat my baba dood is en ek dit ook nie kon verduur om die nuus te hoor nie. Kersfees sonder hom was verskriklik.”

Nkantini sê toe die polisie by haar huis aankom, het sy gedink hulle gaan haar grootste vrees kom bevestig – dat haar baba dood is. Die teenoorgestelde het egter gebeur.

Sy sê dit was die beste nuus om te hoor dat haar baba wel leef en dat hy vir haar in die hospitaal wag.

“Dit was ’n groot verligting.”

Van toe af kan ek niks onthou nie. Ek het twee dae later wakker geword en die dokters het gesê daar was komplikasies met my swangerskap, en dat hy deur ’n noodkeisersnee gebore is.

Dr. Ricky Dippenaar, ’n neonatoloog van die Netcare N1 City-hospitaal, sê die babaseun se behandeling was moeilik omdat hy so vroeg gebore is en omdat sy ma Covid-19 gehad het.

“Die baba is gelukkig negatief vir die koronavirus getoets. Dit is dikwels die geval met babas van Covid-19-positiewe ma's. Covid-19 kan wel steeds ’n invloed op die ongebore baba hê.”

Dippenaar sê die babaseun het goeie vordering gemaak en is besig om gewig aan te sit. Nkantini sê omdat dit soos ’n wonderwerk is, het sy besluit om haar baba Oyena te noem.

Dit beteken “die een wat deur God gekies is”.

Meer oor:  Nosipho Nkantini  |  Kaapstad  |  Eersterivier  |  Covid-19  |  Eersteling  |  Ontmoeting  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.