Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Man amputeer eie groottoon
Leon Visser (56) Foto: Verskaf

’n Man van Kaapstad is steeds in pyn nadat hy Woensdagaand sy eie regtergroottoon sonder verdowing met ’n skêr afgeknip het.

Leon Visser (56), ’n diabeet, se groottoon het sowat drie weke gelede begin seer word en hy het opgelet dit toon tekens van gangreen. Hy het behandeling gekry by ’n daghospitaal in Kraaifontein, maar kon nie die behandeling voortsit nie.

“Die eerste keer toe ek gegaan het, dit was verlede week, het ’n verpleër baie goed daarna gekyk en dit ontsmet. Hy het gesê ek moet Dinsdag weer terugkom,” sê Visser, ’n siviele ingenieur.

“Ek het ook antibiotika gekry en hulle het my medikasie vir diabetes aangepas.” Maar sy toon het net ál donkerder van kleur geword en het vreeslik gepyn.

“Dinsdag het ek teruggegaan na die hospitaal, maar dit het gelyk of dit toe is. Daar was ’n ellelange ry buite en omdat my toon so gepyn het, kon ek nie vir lang tye regop staan en wag nie.”

Visser se voet in verbande nadat hy sy toon geamputeer het. Foto: Verskaf

Volgens Visser is traumapasiënte nie by die hospitaal behandel nie. Talle plasings op Facebook beaam dit, maar die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê die dienste is net na ’n ander lokaal verskuif weens roetine-ontsmetting.

“Die daghospitaal is ’n 24-uur-gerief en is oop vir die publiek,” sê Shimoney Regter, woordvoerder vir die departement. “Ons trauma-eenheid bly 24 uur per dag oop en is apart van ons Covid-19-eenheid, om die verspreiding van infeksies te voorkom.

“Dit is nie waar dat pasiënte nie in die trauma-eenheid behandel word nie. Op dié betrokke dag is die trauma-eenheid ontsmet en pasiënte is na ’n ander lokaal verwys vir behandeling.

“Ambulanse moes pasiënte elders neem, maar ander pasiënte is steeds in ’n ander eenheid in die daghospitaal behandel terwyl die ontsmetting plaasgevind het. Geen pasiënt is weggewys nie.”

Nadat Visser medikasie by ’n apteek gekry het, is hy weer huis toe. Hy sê hy het ook die Karl Bremer-hospitaal gebel en hy sê hy is ingelig dat hulle vol is. “Ek was bang om al die pad te ry net om weggewys te word.”

Visser se werk het sedert die begin van die pandemie opgedroog en hy sê hy het nie ’n mediese fonds nie. Hy sê hy het die geld gespaar wat hy op ’n doktersafspraak sou moes bestee.

“Toe steriliseer ek sommer self Woensdagaand ’n skêr, voel waar die lit is en knip die toon af.”

Visser het opleiding in noodhulp, maar “nie naastenby genoeg vir ’n amputasie nie”. Volgens hom was die potblou toon se vel byna reeds van die res van sy voet geskei, en dit het nie gebloei terwyl hy dit geknip het nie.

Visser sê dit was baie seer, maar hy het geweet dit moet gedoen word. Sy vriendin, Martha de Lange, het hom met die proses gehelp, hoewel dit haar 'n bietjie laat gril het. Hy het die knipwerk self gedoen en dit is daarna verbind.

Die stuk van sy groottoon wat hy afgesny het, is nou in ’n verband toegedraai en in sy vrieskas. “Dit is vir ingeval ’n dokter dit dalk wil sien.”

Om operasies self te doen, is nie die uitweg nie. Gaan maar alleen ongevalle toe, sit daar en wag met jou masker en ontsmettingsmiddel. Maak seker dit is by ’n plek met goeie ventilasie.

Hy het Woensdagnag byna glad nie geslaap nie omdat hy bekommerd was dat die wond dalk sal begin bloei. Hy het egter, behalwe vir baie pyn, goed deur die nag gekom.

De Lange het hom weer Donderdag gehelp om die toon te verbind en hy hou ’n ogie oor die toestand van sy voet. “Dalk kan ’n dokter dit nog toewerk, maar op die oomblik is daar nie baie vel oor nie.”

Dr. Angelique Coetzee, hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê indien Visser nie behoorlike sorg kry nie, kan daar baie ernstige gevolge wees.

“Die beentjie wat nou oop is, moet te alle koste met vel toegemaak word om infeksie te vermy. ’n Infeksie kan daartoe lei dat hy sy hele been verloor.

“Om operasies self te doen, is nie die uitweg nie. Gaan maar alleen ongevalle toe, sit daar en wag met jou masker en ontsmettingsmiddel. Maak seker dit is by ’n plek met goeie ventilasie.”

Sy sê die verlies van Visser se groottoon sal ook ’n groot impak hê op sy balans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.