Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Man in Covid-19-hospitaal, al is toets negatief

Die familie van ’n man wat negatief vir die koronavirus getoets is, maar nogtans in die Brackengate-veldhospitaal behandel word, is beangs dat hy daar sal sterf.

“My broer is in die leeukuil gegooi,” sê Vincent Alexander, broer van die 66-jarige Christopher Alexander van Tafelsig, wat steeds in die Brackengate-hospitaal behandel word.

Alexander het op Oukersaand siek gevoel en sy gesin het hom na die Mitchells Plain-daghospitaal geneem. Hy het al voorheen beroertes gehad en het al vir sowat ’n dekade ’n longkwaal. Hy is vir die koronavirus getoets, en dit was negatief.

Christopher Alexander (66) regs, en sy broer, Vincent, op Oukersdag by die begrafnisdiens van hul suster.

Nadat Alexander na Brackengate oorgeplaas is, het sy gesin nie geweet waar hy is nie.

Die gesin was radeloos en Vincent moes van die een plek na die ander soek om sy broer op te spoor. Eers is daar aan hom gesê sy broer is na die Brooklyn-dagkliniek oorgeplaas. Sy pasiënt-inligting was daar, maar hy is klaarblyklik nie daar opgeneem nie en is na die Brackengate-veldhospitaal geneem.

Hier het Vincent gesukkel om iemand se aandag te kry wat bereid is om te help en wat kon sê hoe dit met sy broer gaan. Hy het twee dae daarheen gegaan totdat ’n hulpvaardige verpleegsuster hom uiteindelik gehelp het.

“Hy het ’n longkwaal, al vir tien jaar. Waarom het niemand ons gekontak sodat ons hom kon isoleer indien dit nodig was nie?” sê Vincent.

Intussen het die Wes-Kaapse departement van gesondheid se kommunikasie-afdeling by navraag gesê daar kan bevestig word dat Alexander ’n koronavirustoets by die Mitchells Plain-gemeenskapsgesondheidsentrum ondergaan het en dat die toets se uitslag negatief is.

Die uitslag van die koronavirustoets wat wys dat Christopher Alexander (66) negatief getoets is vir die virus.

“Hy het behandeling nodig gehad omdat hy asemhalingsprobleme het wat verband hou met Covid-19-verwante longontsteking.”

Volgens die gesondheidsdepartement is Christopher op 28 Desember by die Brackengate- intermediêre gesondheidsentrum opgeneem vir verdere behandeling. Hy word steeds daar behandel.

Die departement sê familielede wat wil opvolg hoe dit met pasiënte gaan, moet die laaste plek kontak waar hulle weet die persoon opgeneem is. Daar is ’n pasiënt-bestuurstelsel wat wys indien ’n pasiënt na ’n ander plek geskuif is.

Volgens die gesondheidsdepartement is hy nie weer getoets nie en is sy Covid-19-diagnose klinies gedoen.

“Die diagnose vir Covid-19 vereis nie ’n polimeerkettingreaksie (PCR)-toets nie,” volgens die departement. Alexander se diagnose is gedoen gegrond op die uitslag van bloedtoetse en nadat X-trale geneem is, sowel as sy simptome.

Vincent sê egter sy broer het ’n bestaande longsiekte, dit is wat wys met sy diagnose. Al wat sy gesin vra, is dat daar dan nog ’n koronavirustoets gedoen word, sodat hy na ’n ander hospitaal soos Groote Schuur oorgeplaas kan word eerder as by die Covid-19-hospitaal en die moontlike blootstelling daar aan die virus.

Hy sê die gesin was op Oukersdag byeen vir die begrafnis van hul suster. “Ek het elkeen se naam en temperatuur neergeskryf. Niemand wat die begrafnis bygewoon het, het intussen siek geword nie. Indien my broer Covid-19 het, sou hy mos ons ander familielede aangesteek het,” sê Vincent.

Meer oor:  Tafelsig  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Veldhospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.