Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Man sterf in hospitaal sonder water; pa soek antwoorde

“Ek wil weet wie die een is wat besluit het dat my kind moet doodgaan.”

So sê ’n bedroefde Johan Gerber nadat Ivan Gerber (36), sy seun van Kuruman, dae ná ’n operasie in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley dood is.

Ivan is op 14 April vir ’n noodoperasie in die hospitaal opgeneem om sy blindederm te verwyder.

Ivan Gerber
Ivan Gerber (36) Foto: Verskaf

Hy moes op 15 April weer geopereer word om sy buik skoon te maak.

Weens watertekorte in die stad is die hospitaal sonder water gelaat en is die operasie telkens uitgestel.

Die prosedure is eers op 18 April uitgevoer en het agt uur geduur, waarna hy onmiddellik na die hoësorgeenheid geneem en onder verdowing geplaas is.

Hy is op 24 April omstreeks 09:00 dood nadat sy toestand verswak en sy organe ingee het.

Volgens Gerber het sy seun in Januarie begin kla dat hy erge buikpyne ervaar en dat hy sukkel om te slaap.

Verskeie dokters in Kuruman het medikasie vir hom voorgeskryf.

“Hy het gekla dat die medikasie nie werk nie. Een dokter het ’n kalmeermiddel voorgeskryf om hom rustig te maak. Hy is op 14 April na die staatshospitaal in Kuruman, waar die dokter wat hom ondersoek het hom dadelik na die hospitaal in Kimberley gestuur het.”

Gerber, ’n pensioentrekker van Gansbaai, is ná die operasie in kennis gestel dat daar ontsteking in Ivan se ingewande ontstaan het en hy die volgende dag weer ’n prosedure moes ondergaan.

Hy sê hy het die volgende dag gebel en ’n verpleegsuster het gesê die operasie is uitgestel omdat die hospitaal sonder water is.

Gerber het daagliks gebel net om te hoor dat die prosedure weer weens watertekorte uitgestel is.

“Ek het in ’n stadium gedink die hospitaal maak verskonings, maar het in nuusberigte gesien Kimberley ervaar erge watertekorte.”

Die prosedure is uiteindelik vier dae later, op Ivan se verjaardag, uitgevoer.

“Ek kon nog die oggend met hom praat en hom gelukwens. Toe ek weer skakel, is ek ingelig dat Ivan in die teater is.”

Ná die prosedure het ’n dokter aan Gerber gesê dat Ivan se dikderm geperforeer was. ’n Gedeelte van die derm is verwyder en hy het ’n kateter ontvang.

Sy toestand het vinnig verswak en hy het glo sepsis ontwikkel.

Wie het besluit hy moes doodgaan?

Gerber is die oggend van Ivan se dood omstreeks 04:00 deur ’n dokter in kennis gestel dat sy seun in ’n kritieke toestand is en dat sy organe ingee het.

“Hy het ’n longinfeksie ontwikkel. Teen 09:00 is hy dood.”

Gerber het die hospitaal verlede week besoek om antwoorde oor sy seun se dood te kry.

Dokters van die hoësorgeenheid het aan hom gesê dat die hospitaal weens politiekery nie reg funksioneer nie.

“Volgens die dokters behels die beleid vir beste praktyk dat ’n kritieke pasiënt in sulke omstandighede na ’n ander hospitaal oorgeplaas word. Ek wil dus weet wie die besluit geneem het dat my seun nie oorgeplaas moet word nie. Wie het besluit hy moes doodgaan?”

Lebogang Mojaha, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het Woensdag gesê dat die departement van die voorval bewus is en dit ondersoek. Die departement sal binnekort ’n verklaring uitreik.

Gerber, wat regstappe wil doen, wag nou op die hospitaal om Ivan se mediese lêer aan hom te verskaf nadat hy ’n prokureur in Kimberley gespreek het.

Meer oor:  Kimberley  |  Kuruman  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.