Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Man sterf, nog 36 siek ná ete by psigiatriese hospitaal

’n Pasiënt in die Tower- psigiatriese hospitaal in die Oos-Kaap is dood en 36 ander het ernstig siek geword nadat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het.

Sango Jakatyana (45) is op 22 Mei by die Tower- psigiatriese hospitaal oorlede, vermoedelik weens voedselvergiftiging.

Hospitaalverslae wat Rapport gesien het, lui die dokter op bystand by die hospitaal was nie beskikbaar om Sango Jakatyana (45) te behandel nie. Hy is in die hospitaal dood.

Rapport het in Maart berig oor dié hospitaal van gruwels waar daar glo met pasiënte se lêers en die doodsregister gepeuter is, pasiënte verwaarloos word en die gebou self in algemene verval is.

Dr. Kiran Sukeri, gewese psigiater by die hospitaal, het toe onder meer vertel dat die kos wat pasiënte by die hospitaal kry van skokkende gehalte is – veral die sop wat meestal in die aande vir die 323 pasiënte bedien word. Die hoofbestanddeel daarvan is glo 36 blikkies sardientjies wat soms met hoenderlewer afgewissel word.

Die departement het al dié aantygings ontken en foto’s aan die media gestuur van voedsame etes met vars vrugte. Rapport het berig die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (Sasop) het egter in sy ondersoek die regering weerspreek en die Gesondheidsombud ondersoek tans die hospitaal.

Die nuutste skokwending was verlede week toe 37 pasiënte siek geword het.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, bevestig die pasiënte het vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen. Hy ontken egter dat Jakatyana daarvan dood is en sê al die pasiënte was drie dae ná die bedenklike maaltyd weer gesond.

Personeel by die hospitaal het aan Rapport gesê die pasiënte het verlede Sondagaand weer sop gekry met hoenderlewers. Hulle beweer dié lewers het al in Februarie verval.

Kupelo ontken dit. “Ons toets gereeld die gehalte van die kos en water wat vir pasiënte gegee word. Die informante het die verpakking van die hoenderlewers verkeerd gelees. Die kode waarna hulle gekyk het, was nie die vervaldatum nie, maar die naam van die vervaardiger en die datum waarop die verpakking vervaardig is.”

Personeel sê egter aan Rapport daar was ’n vergadering ná die voorval waar kombuispersoneel uitgetrap is oor die hoenderlewers. “Dit was so erg dat die een ou begin huil het en gesê het hy moet kos maak met wat daar vir hom gegee word,” sê een bron.

Jakatyana se niggie, Xolelwa Jakatyana, sê die hospitaal se weergawe van wat gebeur het, strook nie. “Die hospitaal het vir ons gesê hy is dood aan natuurlike oorsake. Maar die uitslae (van die nadoodse ondersoek) sê hy is dood weens ’n abnormale groot kolon. En sy ingewande en alles in sy buikarea was groen. Dit klink vir my glad nie natuurlik nie,” sê Xolelwa, wat in Grahamstad woon en gereeld by haar neef gaan kuier het.

“Die hospitaal is nie eerlik met ons nie. Ek was die dag ná sy dood daar en niemand het toe vir my gesê dat daar nog 36 mense is wat siek was met dieselfde simptome nie. En ek is ook kwaad omdat personeel vir my vertel het dat hulle die dokter wat op bystand was, laat weet het dat Sango baie siek is en gekla het van erge maagpyn, diarree, braking en gesukkel het om asem te haal.” Die inligting wat Rapport onder oë gehad het, notuleer dat die personeel nie die dokter op bystand in die hande kon kry nie.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek begin is.

Sango is gister begrawe.

Meer oor:  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.