Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Man wéér kritiek nadat hy Covid-19 oorwin het

’n Gautengse pa wat net minder as twee maande gelede teen alle verwagtinge in sy doodstryd met Covid-19 oorkom het, moes inderhaas weer in die hospitaal opgeneem word.

Die 41-jarige Marinus Oosthuizen is in ’n kritieke toestand, maar sy vrou, Natalia, klou vas aan hoop en die dokters is “versigtig optimisties”.

“Ons bly positief. Dinge gaan reeds beter. Dit is ’n hengse slag, maar ons is nou net terug op ons knieë en bid maar weer,” het Natalia gesê.

Marinus en Natalia Oosthuizen in Januarie net voordat hy siek geword het. Foto: Facebook

Hy is weer aan ’n ventilator en nou ook aan ’n masjien vir dialise gekoppel. Sy vermoed dat al die vreemde pype wat hom vroeër vanjaar twee maande lank aan die lewe moes help hou óf die nagevolge van die byna vernietigende aanslag van die virus sy liggaam skade aangedoen het.

Oosthuizen, die pa van twee, het op 12 Januarie moeg begin voel, gebraak, ’n verlies aan eetlus en pyn ondervind en in die eerste week 6 kg verloor.

Hy is op 15 Januarie positief vir Covid-19 getoets. Hy is in die hospitaal opgeneem en moes suurstof ontvang. Dinge het kort voor lank só vererger dat hy oorgeplaas is na die hoësorgeenheid en aan ’n ventilator gekoppel is.

Sy een long het in Februarie platgeval en hy is drie dae later na die teater geneem om ’n tragea in te sit.

Oosthuizen was 32 dae aan ’n ventilator gekoppel, en hy was meestal onbewus van wat hom aangaan.

Sy vrou is ’n paar keer gebel om te kom groet. Telkens het Oosthuizen hom uit die dood se kloue losgeruk.

Hy is op 19 Maart uiteindelik huis toe.

“My man het weke lank goed herstel. Hy was fine. Verlede week Donderdag het hy egter weer siek gevoel. Ons het gedink dit is dalk nierstene.

“Daardie aand kon hy van die pyn niks slaap nie en die volgende dag is hy vir erge nierversaking in die hospitaal opgeneem.

Marinus Oosthuizen toe hy in Maart uiteindelik ná sy lang stryd teen Covid-19 uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

“Hy het ’n tipe infeksie wat weerstandig teen talle antibiotikas is. Die dokters weet nie of dit ’n nagevolg van die Covid-19 is en of sy liggaam afgetakel is weens die virus, en of dit is omdat hy so lank aan vreemde voorwerpe soos die ventilator en die kateter gekoppel was nie.

“Wat die huisdokter wel Vrydagaand kon sê, was dat sy infeksievlak verskriklik hoog is, sy niere net 20% funksioneer en sy bloeddruk gevaarlik laag is.”

Die hospitaal het haar Saterdag om 02:30 laat weet dat hy weer in ’n hoësorgeenheid opgeneem gaan word.

“Hoewel Marinus weer met sy asemhaling sukkel, is sy longe nie nou die groot probleem nie. Omdat hy moet plat lê met ’n sny aan die een kant vir die dialise-masjien en pype vir medikasie aan die ander kant, moes hy weer aan ’n ventilator gekoppel word,” het sy gesê.

Sy infeksietelling was Maandag laer. Dokters kon die hoeveelheid suurstof wat hy deur die ventilator kry tot 60% verminder. Sy bloeddruk het gestabiliseer en hy reageer nou effens meer as destyds wanneer sy vrou met hom praat.

Natalia het gesê hulle weet van ’n man in Bloemfontein wat destyds net voor Oosthuizen vir Covid-19 in ’n hospitaal opgeneem is.

“Hy was net op suurstof en hy was nie so ernstig siek soos Marinus nie. Die man het drie weke gelede ook algehele nierversaking gehad. Ek weet nie of dit dus ’n newe-effek van die siekte is nie – dit is so nuut en die navorsing is nog so min . . .

“Maar ek bly positief. Marinus lyk al klaar beter.”

Sy glo haar man sal weer, net soos vroeër die jaar, terugkom huis toe.

Nierversaking

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, het gesê hoewel Covid-19 in iemand soos Marinus Oosthuizen se geval wel ’n rol kan speel, omdat “die virus enige ding, ook die niere, kan aantas”, is die eerste vraag hoe sy niere gelyk het toe hy in Maart uit die hospitaal ontslaan is.

“Covid-19 veroorsaak baie lyfpyne, en talle anti-inflammatoriese medikasie wat oor die toonbank gekoop kan word, kan dan die niere beïnvloed.

“As ’n persoon se nierfunksie reeds ná (hospitaal-)ontslag swak was, en pynpille dan gedrink word, kan dit lei tot nierversaking, selfs sonder dat Covid-19 ’n rol speel,” het sy verduidelik.


Meer oor:  Gauteng  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.