Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mandelabaai vóór 3de vlaag al brandpunt

Terwyl die Oos-Kaapse regering verwag om eers volgende week die derde vlaag van die koronaviruspandemie in te gaan, is die Nelson Mandelabaai-metro wéér as ’n Covid-19-brandpunt geïdentifiseer.

Die aankondiging is deur Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, op ’n nuuskonferensie gemaak.

Benewens die Nelson Mandelabaai-metro, is die Sarah Baartman-distrik as ’n hoërisikogebied uitgelig. Die twee gebiede is ook in Desember, met die aanvang van die tweede vlaag van die pandemie, as brandpunte geïdentifiseer.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier. Foto: Argief

Sizwe Kupelo, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, sê kenners voorspel die derde vlaag sal tussen 14 Junie en 14 Julie in die provinsie heers.

Intussen sê Mabuyane ’n spesiale taakspan is vir die volgende 14 dae in die metro en Sarah Baartman ontplooi. Die multifunksionele span sal ondersteuning bied aan die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement en help met voorbereidings vir die verwagte styging in die getal infeksies.

Volgens die jongste inligting het die Oos-Kaap 1 135 aktiewe gevalle. Die getal is byna dubbeld die 579 aktiewe gevalle van twee weke gelede. Sowat 69% van die huidige aktiewe gevalle is in die metro (777), terwyl 10,7% in die Buffalo City-metro (121) en 10% in die Sarah Baartman-distrik (114) aangemeld is.

Mabuyane sê die provinsiale regering se uitgebreide plan teen die verwagte derde vlaag van infeksies word nou geïmplementeer. Hy het die versekering gegee dat die provinsie se staatshospitale en klinieke voorbereid is om die bykomende druk te hanteer, en ook dat daar genoeg beskermende kleredrag beskikbaar sal wees.

Tans word 154 mense vir Covid-19 in hospitale behandel, van wie 111 in private hospitale is.

.
So lyk die Covid-19-syfers in die Oos-Kaapse distrikte.

Volgens Mabuyane het meer as 356 000 mense tot dusver vir fase 2 van die Covid-19-inentingsprogram geregistreer. Die meerderheid is in die provinsie se twee metro’s geregistreer. Dit is ook hier waar die meeste mense in die provinsie ingeënt is, met die Buffalo City-metro wat reeds 41 658 mense ingeënt het, gevolg deur die Nelson Mandelabaai-metro se 33 189. In totaal is 146 151 mense, insluitende gesondheidswerkers, in die Oos-Kaap ingeënt.

Mabuyane is egter bekommerd oor diegene van 60 jaar en ouer wat in afgeleë landelike gebiede woon en sê tydens die inentingsprogram sal ’n groter fokus op dié inwoners geplaas moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.