Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Marius Goosen sê uit Italië: Skrik wakker oor virus!

’n Suid-Afrikaanse afrigter van die Italiaanse nasionale rugbyspan sê as hy die horlosie twee weke ver kon terugdraai, sou hy vir homself dié stukkie raad wou gee: Neem Covid-19 ernstig op en isoleer jouself.

Die Goosen-gesin, Marius, Mareli, Emma en Elmarie, voor Covid-19 in Italië toegeslaan het.

Marius Goosen (45) het vir onder meer die WP, die Bulle en Boland uitgedraf en is deesdae die verdedigingsafrigter van Italië. Hy het Vrydagaand aan Rapport gesê: “Dit is ondenkbaar wat besig is om hier te gebeur. Niemand het die implikasies en die omvang van die pandemie verstaan nie en kyk waar sit ons nou.”

Goosen, wat sedert 2002 in Italië bly, sê hy en sy vrou, Elmarie (46), en kinders, Mareli (18) en Emma (15), is veilig.

“Ons bly in ’n groterige huis op ’n 2 ha-stuk grond tussen die plase, so 6 km buite Treviso. Ons het drie honde, vyf katte en ’n haas. Ons werk in die tuin, stap met die honde en bring tyd saam deur.”

Selfs alledaagse aktiwiteite soos dié het in die nuwe viruslandskap verander.

“Net een mens mag op ’n slag met die honde gaan stap. En jy moet ’n sertifikaat van die munisipaliteit dra. Dieselfde geld vir inkopies. Net die apteke en supermarkte is nog oop,” sê Goosen.

Die meer as 700 sterftes en “meer as duisend nuwe gevalle” binne 72 uur in Italië is skokkend, maar Goosen sê die regering veg terug.

“Daar is gister sewe mense in Treviso aangekeer vir op straat wees. As jy supermark toe ry, moet jy ook ’n toestemmingsertifikaat by jou hê vir as die polisie jou stop.”

Bejaardes is veral kwesbaar.

“Dis in Italië ook so. Ons het die grootste persentasie ou mense van al die Europese lande. Ons hospitale is oorval. Ek het op die nuus gesien hoe weermagvragmotors in Bergamo die lyke wegry omdat die stelsel oorweldig is.”

Goosen sê Suid-Afrikaners moet die virus ernstig opneem.

“Ek verstaan mense se gevoel. Soms sit jy eers lank buite die bubble en dan skielik is jy binne hierdie situasie wat eintlik verhoed kon gewees het. Die reëls wat die regering uitvaardig, is daar vir ’n rede. Dis in ons almal se belang om dit te gehoorsaam.”

Goosen was saam met die Ita­liaanse rugbyspan in Rome toe die pandemie uitgebreek het.

“Dis ’n ongelooflike verandering. Die aard van my werk beteken ek reis die hele tyd, so ek het bitter min tyd met my gesin. Ek is nou al twee weke saam met hulle en besef hoe geseën ek is.”

Mareli is in haar laaste jaar van hoërskool.

“Die skole is toe tot 3 April, maar ons het vandag gehoor dié datum is uitgeskuif na vroeg Mei. Die skole kan dalk glad nie weer oopmaak nie. Die kinders doen al hul skoolwerk oor die internet.”

Steeds wil hy nie kla nie.

“In my beroep is dit amper ongehoord dat jou kinders hul hele skoolloopbane op een plek klaarmaak. Dis ’n groot voorreg.”

Emma het Downsindroom.

“Ons is so geseën en bevoorreg met die geleenthede wat sy hier het. Sy is vanjaar in haar eerste hoërskooljaar en dis ook die eerste jaar wat sy sonder ’n assistent skool toe kon gaan. Sy is volkome deur die mense hier aanvaar.”

Goosen sê die mensdom gaan nou deur diep water, “maar dis ’n tyd om sterk te wees”.

Meer oor:  Italië  |  Covid-19  |  Rugbyspeler  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.