Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Massa-toetsing begin in Oos-Kaap
Amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro spuit ontsmetmiddels by die Ziyabuya-winkelsentrun in KwaDwesi. Foto: Lulama Zenzile

Toetsing van deur tot deur vir die koronavirus het Maandag in die Oos-Kaap begin as deel van die massa-toetsing oor die land heen.

Die vyf streke, Nelson Mandelabaai, Buffalo Stad, Amathole, Sarah Baartman en die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, waar die provinsie se 31 positiewe gevalle aangemeld is, word eerste geteiken.

Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, het Maandag gesondheidswerkers vergesel na die Fameni-nedersetting in die Amathole-distriksmunisipaliteit waar inwoners vir die virus getoets is.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het die veldtog vir die massa-toetsing verlede Donderdag by die Walmer-stadsaal in die Nelson Mandelabaai-metro bekend gestel. Hy het ook die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) in Port Elizabeth besoek.

Met die desentralisering van toetse het dié laboratorium verlede week die mandaat gekry om die provinsie se toetse plaaslik te doen. Meer as 1 000 monsters kan daagliks by die laboratorium vir die virus getoets word.

Gomba het in ’n verklaring gesê in ’n poging om die verspreiding van die virus te bekamp, is sy van plan om soveel as moontlik mense in die provinsie te laat toets.

Mobiele toetseenhede

“As voorsorgmaatreël neem ons die veldtog na die mense in die meer afgeleë gebiede van ons provinsie.

“Die vier mobiele toetseenhede wat dr. Zweli Mkhize (minister van gesondheid) onlangs na die Oos-Kaap gestuur het, sal moontlike knelpunte help verlig.”

In die Nelson Mandelabaai-metro, waar nóg drie gevalle oor die naweek aangemeld is, het amptenare van die plaaslike departement van omgewingsgesondheid Maandag met ’n projek van ontsmetting begin.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, sê amptenare spuit chemikalieë by openbare gebiede in ’n poging om die verspreiding van die virus te bekamp.

Die skoonmaakoperasie het by die Ziyabuya-winkelsentrun in KwaDwesi begin, waarna spanne na die nabygeleë taxistaanplekke gegaan het.

Mniki sê die groep, wat tussen 30 en 40 werkers behels, sal Dinsdag werk by winkelsentrums in Uitenhage.

“Die is ’n deurlopende projek wat ons gaan deursien tot die hele metro ontsmet is.”

Mniki wys daarop dat die chemikalieë wat gebruik word nie skadelik vir mense is nie en veilig is om in openbare gebiede te gebruik.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Toetsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.