Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Pasiënte in dié hoësorgeenhede nie een ingeënt'

Medici doen ’n beroep dat soveel mense as moontlik hulle so gou as moontlik laat inent omdat die vierde vlaag van Covid-19 rondom November en Desember in Suid-Afrika verwag word.

inenting, bloemfontein
Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein het Vrydag gratis koffie gegee aan almal wat daar teen die koronavirus ingeënt is. Sanral het die koffie geskenk. Foto: Mlungisi Louw

Dr. Freek Bester, ’n internis wat Covid-19-pasiënte in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel, sê die hospitaalbeddens vir Covid-19-pasiënte is nie meer so vol soos vroeër nie. Bedbesettings is tans sowat 70%.

“Dit het ’n bietjie afgeneem, alhoewel ons nog daagliks Covid-19-pasiënte opneem.”

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, spesialis in die behandeling van oordraagbare siektes in die Vrystaat, sê in Bloemfonteinse hospitale soos die Rosepark-hospitaal, die Busamed-hospitaal en die Mediclinic Bloemfontein is die pasiënte wat in die hospitaal en in die hoësorgeenhede beland almal nie ingeënt nie.

“Die ingeënte pasiënte word nie hier opgeneem nie. Ons het ook nog geen pasiënt opgeneem wat van die entstof siek geword het nie.”

Hy sê pasiënte in die sale en hoësorgeenhede bly lank daar en dit kan tot vier weke duur voordat hulle ontslaan word.

“Hoewel daar nie ’n drastiese afname in pasiënte in hospitale is nie, is die druk effens minder as voorheen.”

Hy sê hy wil liewers nie voorspel wanneer die vierde vlaag gaan kom nie, “want ek is nie ’n ou vir voorspellings nie”. Hy sê solank mense nie ingeënt is nie, sal die een vlaag ná die ander kom.

“Mense verstaan ook die konsep van kudde-immuniteit verkeerd.”

Ons sien ook nou jonger mense wat ernstig siek word, soos diegene wat rondom 50 jaar oud is.
Dr. Nicholas Pearce
inenting, bloemfontein
Mary van Heerden (85) geniet Vrydag haar gratis koffie. Foto: Mlungisi Louw

Wanneer ’n vuurhoutjie in ’n grasland gegooi word, sal die brand wat daardeur veroorsaak word, hom uitwoed.

“As daar ’n uitbreking van Covid-19 in ’n dorp soos byvoorbeeld Clocolan of Brandfort is, sal die virus hom daar uitwoed onder die mense wat nie ingeënt is nie.

“Dit is daarom belangrik dat almal ingeënt word.”

Jansen van Vuuren sê in Engeland is die getal sterftes relatief laag omdat so baie mense daar ingeënt is.

“Daar word nog baie mense siek, maar hulle word nie so ernstig siek of sterf nie.”

inenting, bloemfontein
Danksy Sanral het die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein Vrydag gratis koffie weggegee aan almal wat vir die inenting gekom het. Foto: Mlungisi Louw
inenting, bloemfontein
Stomende koffie en ’n inenting teen Covid-19. Dít is wat ’n mens Vrydag kon kry by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Sanral het die koffie geskenk. Foto: Mlungisi Louw
inenting, bloemfontein
Hier kry Joyce Madikgetla (82) haar koffie van Leslie Moshoke. Foto: Mlungisi Louw

Jansen van Vuuren sê as dit so is dat die entstof nie so lank beskerming bied nie en mense moet daarna elke jaar of elke tweede of derde jaar weer ingeënt word, dan moet dit so wees.

“Daar is nou studies aan die gang om te probeer bepaal hoe lank die entstof beskerming sal bied deur na die teenliggaampies in mense se liggame te kyk.”

Hy sê solank mense nie ingeënt is nie, sal die rugbystadions in Suid-Afrika nie weer volgepak kan word of groot getalle mense musiekuitvoerings kan bywoon nie.

inenting, bloemfontein
Suster Lizzy Ngulube van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein ent Mathapelo Tjhabalala (40) Vrydag in. Foto: Mlungisi Louw

Dr. Nicholas Pearce, hoof van die Covid-19-sentrum in die Universitas-hospitaal, sê daar is nie meer so baie Covid-19-pasiënte in die hospitaal nie, maar dié wat daar is, is taamlik ernstig siek.

“Ons sien ook nou jonger mense wat ernstig siek word, soos diegene wat rondom 50 jaar oud is.”

Hy is bekommerd daaroor dat mense nie by dié hospitaal vir inentings opdaag nie. Die getal mense wat vir inentings kom, het afgeplat.

“Daarom dink ek dat alle volwassenes van 18 jaar oud af nou toegelaat moet word om hulle te laat inent.”

Hy sê ’n plato is nou in die derde vlaag bereik. Dit kan nog twee of drie maande duur voordat die derde vlaag regtig verby is.

Pearce sê hy het ook gehoor van die moontlikheid van ’n vierde vlaag in November.

• Mondli Mvambi, Vrystaatse woordvoerder van die departement van gesondheid, sê nuwe gevalle van Covid-19 het afgeneem en Maandag is net 373 nuwe gevalle in die provinsie aangemeld, teenoor sowat 500 en meer op Vrydag, Saterdag en Sondag onderskeidelik.

Hy sê die Vrystaatse departement van gesondheid gaan nou uit na plekke oor die hele provinsie waar diegene ouer as 60 hul pensioene kry om hulle daar in te ent.

“Ons gaan ook voort om die mense in die verskillende ouderdomsgroepe in te ent en om diegene in die verskillende dienstesektore in te ent.

“Ons moedig ook nou alle joernaliste aan om hulle so gou as moontlik te registreer sodat hulle ook ingeënt kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.