Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mediese fonds betaal vir 7 dae se ventilator vir asem

’n Vrou wie se man om sy lewe geveg het met ’n meganiese asemhalingmasjien kon haar ore nie glo toe die siekefonds glo sê dis reg of weg ná sewe dae nie.

Carmen en Marik op hul troudag.

Carmen Kotze (37) van Thabazimbi se emosies wissel tussen woede en hartseer wanneer sy vertel oor haar Suid-Kaapse vakansie waarvan haar man, Marik (35), nooit teruggekeer het nie.

Marik, ’n sakeman, is met ’n raaiselagtige longvirus gehospitaliseer net ’n dag nadat hulle in April by hul vakansieplek in Hermanus aangekom het.

Twee dae later is hy oorgeplaas na die MediClinic Panorama in Kaapstad. Sy toestand het so versleg dat hy nie meer self kon asem haal nie en die dokters het hom aan ’n sogenaamde Ecmo-masjien gekoppel, ’n ventilator wat soos longe funksioneer.

Sy en Marik – wat aanvanklik vir haar kon skryf – het moedig teen die longvirus geveg en gepraat oor hul beplande ski-vakansie in Italië.

Daar was mos nie ’n manier wat ek daai masjiene sou afsit nie! . . . Dis moord.

Toe roep die hospitaal haar in om te sê Bestmed, hul siekefonds, gaan net vir sewe dae se behandeling met die Ecmo-masjien betaal en sy moet nou kies of sy dit eerder wil afsit.

“Daar was mos nie ’n manier wat ek daai masjiene sou afsit nie!” het Carmen die afgelope week aan Rapport gesê. “Dis moord.”

Sy sê Marik het aanvanklik verbetering getoon. Sy het in die Kaap agtergebly en elke dag van 06:00 langs sy bed gesit, hom geskeer, sy hande en voete masseer en die fisioterapeut gehelp om sy spiere sterk te hou.

Ná vier weke op die Ecmo-masjien het hy dramaties agteruit gegaan.

Marik tydens ’n Crossfit-kompetisie. Carmen sê hy was baie gesond voor hy so skielik siek geword het.

“Hy was te swak om teater toe te skuif en hulle moes in die waakeenheid opereer. Hy het inwendig begin bloei en hulle het toe gesien sy longe was geperforeer. Daar was ’n gaatjie en hy het doodgebloei.”

Marik is op 20 Junie dood.

Sy sê dokters kan steeds nie vir haar sê wat presies die virus was wat hom so afgetakel het nie.

Carmen sê haar man was ’n gesonde, fikse man wat aan Cross­fit-kompetisies deelgeneem het.

Ongeveer twee weke voor hul vakansie in Hermanus het hy verkoue-simptome begin kry, maar hulle wou graag voortgaan met die vakansie.

Die paartjie sou in Desember hul derde huweliksherdenking vier. Maar nou sit sy net met hoofbrekens oor mediese rekeninge. Die hospitaal het onlangs vir haar ’n finale aanmaning gestuur om die meer as R400 000 wat uitstaande is, te betaal. Sy sê dit sal haar finansieel ruïneer.

Carmen het eers in ’n lodge en toe in ’n woonstelletjie naby die hospitaal gebly en was 06:00 in die oggend al aan sy sy.

Carmen het al so hard met Bestmed baklei dat hul mediese raadgewer persoonlik met haar vergader het op 2 September.

In ’n opname van die vergadering waarna Rapport geluister het, verduidelik Bestmed se verteenwoordigers dat dit hul beleid is om aanvanklik net vir sewe dae goedkeuring te gee vir Ecmo-behandeling en dit daarna heroorweeg indien die pasiënt die nodige vordering toon.

Daar is ’n dispuut oor kliniese terugvoering aan die siekefonds oor Marik se siektetoestand.

Carmen hou vol sy en Marik se dokters was heeltyd langs sy bed en sy kan nie verantwoordelik gehou word om komplekse administratiewe prosedures te verstaan of dit uit te voer nie.

Bestmed het belowe om die saak weer met die bestuur te bespreek en terugvoering vir haar te gee, maar teen Dinsdag, byna twee maande later, het sy nog nie weer ’n woord gehoor nie.

Rapport het Woensdag vrae aan Bestmed gestuur oor Marik se geval, onder meer waarom hulle nie die rekeninge wil betaal nie omdat sy gediagnoseerde toestand ’n voorgeskrewe minimum voordeel blyk te wees en wat Bestmed se beleid is vir die finansiering en tydsduur vir lewensondersteunende masjiene.

Dr. Christo du Preez, mediese raadgewer van Bestmed, het Donderdag laat weet Bestmed het nou besluit om tog te “help met befondsing van die uitstaande Ecmo-kostes”.

Die administrasie om al die rekeninge bymekaar te kry is egter “arbeidsintensief” en hulle het verlede week by ’n totaal van “meer as R325 000” uitgekom.

“Die volgende stap sal wees om die uitstaande bedrae te rekonsilieer omdat dit lyk of daar ’n verskil is in die totaal wat ons het en wat die familie verskaf.”

Meer oor:  Carmen Kotze  |  Marik Kotze  |  Mediclinic Panorama  |  Bestmed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.