Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mediese studente in VS só beveilig

Die Vrystaatse gesondheidsdepartement het 24 voertuie teen sowat R14 miljoen aangekoop om mediese studente in die provinsie na en van gesondheidsgeriewe te vervoer.

Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder, is dié voertuie einde verlede maand in gebruik geneem. Dit is deel van ingrypings om studente te beveilig en dit moontlik te maak om die verste geriewe waar hulle opleiding ontvang, veilig te bereik.

Dít kom nadat twee vrouedokters binne ’n week vroeg in Junie by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein na bewering aangeval is, waarvan een glo byna verkrag is.

Hierop het die Universiteit van die Vrystaat (UV) vlugtig die opleiding van sy voorgraadse studente by dié hospitaal gestaak. Die opleiding het weer hervat toe die UV deur die veiligheidsplanne van die gesondheidsdepartement gerusgestel is.

Sedertdien was daar weer ’n voorval waar ’n man wat glo met ’n panga bewapen was, een Saterdagaand by die ongevalle-afdeling opgedaag het. Die gesondheidsdepartement het dié voorval vroeër aan Netwerk24 ontken.

Die ingang van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.Foto: Argief

Mvambi sê studente in Bloemfontein word by die Vrystaatse Verpleegskool en die UV se fakulteit gesondheidswetenskappe opgelaai en na onder meer 3 Militêre Hospitaal, die Nasionale Hospitaal, die Gabriel Dichabe-kliniek en die Pelonomi-hospitaal vervoer.

Volgens Lacea Loader, UV-woordvoerder, stel die departement ses minibusse en kombi’s, met bestuurders, aan die universiteit beskikbaar vir die vervoer van voorgraadse studente vir hul praktiese opleiding.

Die vervoer is daagliks van 06:00 tot 23:00 gratis aan studente beskikbaar, insluitend naweke en openbare vakansiedae.

UV-studente het op 8 Julie van die gratis diens begin gebruik maak.

“Die UV, gesondheidsdepartement en die uitvoerende bestuur van die Pelonomi-hospitaal het die afgelope maand deurlopend gewerk om te verseker die ooreengekome veiligheidsplan word geïmplementeer. Die doel is om die veiligheid van die studente, personeel en pasiënte eerste te stel,” sê Loader.

Ingrypings by die Pelonomi-hospitaal sluit in verbeterde beligting binne en buite die gebou, en die versiening van 20 van die 78 veiligheidskameras. Die res van die kameras is in ’n goeie, werkende toestand, sê Mvambi.

Die huur van meer veiligheidspersoneel met die regte toerusting vir hul taak is ook goedgekeur.

“Ons is tevrede dat ons veiligheidsverbeteringsplan die koördinering tussen die elektroniese stelsel en die mannekrag by die hospitaal verbeter het.”

Volgens Mvambi bring Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid, onaangekondigde besoeke aan dié hospitaal en ander gesondheidsgeriewe om te verseker dat verbeterings wel ingestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.