Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mediese werkers herstel ná allergiese reaksie op entstof

Dit gaan goed met die twee gesondheidswerkers wat ’n allergiese reaksie gehad het nadat hulle met die Johnson & Johnson (J&J)-entstof teen Covid-19 ingeënt is.

So sê Popo Maja, nasionale woordvoerder van die departement van gesondheid.

Een van die twee gesondheidswerkers het anafilakse gehad – ’n potensieel dodelike allergiese reaksie – en is gehospitaliseer.

“ ’n Vroulike gesondheidswerker het ’n ernstige allergiese reaksie gehad wat gelei het tot hospitalisasie, maar die toestand is vinnig behandel en dit gaan weer goed met haar,” sê Maja.

cyril ramaphosa, ingeënt
Pres. Cyril Ramaphosa word op Woensdag 17 Februarie by die Khayelitsha-distrikshospitaal in Kaapstad met die Johnson en Johnson-entstof teen Covid-19 ingeënt. Foto: GCIS

Hy sê meer besonderhede oor die ander gesondheidswerker, asook waar en wanneer die voorvalle voorgekom het, sal later bekend gemaak word.

Maja sê hoewel allergiese reaksies baie seldsaam is, kan dit wel voorkom.

“Die gevalle van anafilakse word wêreldwyd gemonitor en kom op die meeste by een of twee mense per miljoen voor wat die entstof ontvang het.

“Die voorkoming van só ’n reaksie word deur assessering van vorige allergieë, voordat die entstof toegedien word, gemonitor.”

Maja sê verder die risiko’s wat met die koronavirussiekte gepaardgaan, is veel groter as die risiko van ’n allergiese reaksie weens die entstof.

“Ons kan nie die verskaffing van ’n lewensreddende entstof beperk omdat mense met allergieë saamleef nie. Ons doen ’n beroep op gesondheidswerkers met ’n mediese geskiedenis van allergiese reaksies, veral op entstowwe en medikasie, om die mediese personeel in kennis te stel sodat voorsorg en monitering vir die moontlikheid van so ’n reaksie ná die inenting getref kan word.”

Maja sê ’n derde vlaag van die virus word voorspel vir die begin van die wintermaande in Suid-Afrika.

“Dit is dus daarom baie belangrik om ons gesondheidswerkers te prioritiseer en hulle in te ent voordat ’n derde vlaag begin.”

Tien dae van inenting

63 648 gesondheidswerkers, wat regstreeks met pasiënte in die openbare en private sektor werk, is sedert 17 Februarie met die J&J-entstof ingeënt.

Dit word onder die vaandel van die Sisonke-program gedoen.

Die tweede besending J&J-entstof het Saterdag op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park aangekom.


Volgens ’n verklaring van die departement gesondheid neem die vraag na vroeë toegang tot die entstof toe. Die departement van gesondheid, die span van Sisonke en hul vennote in die private sektor sê voorts dit is bemoedigend om te sien hoeveel van hul kollegas by inentingsplekke opdaag. Die mikpunt is om alle gesondheidswerkers in te ent.

Luidens die verklaring het J&J Dinsdag ’n opgedateerde stel resultate van proewe aan die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) vir hersiening voorgelê. Die goedkeuring vir algemene gebruik van die J&J-entstof, wat net een dosis verg, word binnekort verwag. Dit sal die weg baan vir soortgelyke goedkeuring deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) in komende weke, volgens die verklaring.


Meer oor:  Entstof  |  J&J
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.